Die geheime staproete

  • 0

’n Nuwe staproete aan die voet van die Drakensberg bied onverskrokke stappers ’n skouspelagtige alternatief tot die alreeds bekende Magoebaskloof-staproete.

Hierdie woudgebied langs die R71, skaars 18 kilometer buite Tzaneen is ’n ongerepte stukkie wolkberg met diep skeure, ruwe berge en puik swempoele. Na 25 jaar keer die Van den Bergh-familie terug na eerste wortels en word eienaar van Dieplaagte wat diep in die skoot van Magoebaskloof sluimer.

Dit voel ligjare ver as jy vanaf die plaasopstal staan en kyk hoe die heuwels tot by die horison golf. Indien jy ’n nuwe staproete beplan sorg dat jy dik kouse aantrek en nie omgee nie dat jou Rockspring tekkies modder ploeg.

Na ontbyt is ons vier stappers gereed om ’n nuwe roete-been agter die welbekende Debegeni-watervalle uit te pen. Ek sou daarvan hou om met ’n Survival-kit op my rug alleen Duiwelspiek uit te klouter, maar in dié woeste ongerepte wildernisgebied moet jy minstens twee stappers wees.

stapkaartOns skaf ’n groot kaart van die gebied aan, sorg dat die kapmesse vlymskerp is vir die kap van merkerpale en pak elkeen ’n wit blikkie spreiverf in vir enkele voetjies teen klippe en bome.

Daar is nog nie ’n oornagplek of aanduiding van afstand nie, maar ons het besluit om teen drieuur aftog te blaas en terug te keer plaasopstal toe. Dit behoort die eerste been bloot te lê en te voorkom dat ons in die donker en mis in die klowe verdwaal. Vele stappers het in Magoebaskloof al die pad byster geraak.

stap2

Ons roete begin in ’n majestueuse kloofveld met aangeplante dennewoude en wildepiesang, tipies van ’n wolkbergreënwoud. Vir ’n kilometer of so stoei ons deur bosvarkpaadjies en hou so ver moontlik langs die waterval wat na benede tuimel. Elke uur neem ons ’n blaaskans onder een van die indrukwekkende silwerblare en rol die kaart oop om met ’n merkerpen ’n wilde stippellyn op die ruwe terrein aan te bring.

Adrenalien pomp deur my are terwyl ons onontdekte ruimtes inbeweeg. Soos die voortrekkers van ouds tem ons weer Makgoba se berg. Daar is geen padrigting en met pangas word ’n nuwe pad onder die wilde blarehemel oopgewroeg. Ruigtes en geniepsige Mosambiekdorings wat soos slange oor die aardkors krioel word ons vyand.

stap3

Bo-op wildekrans stap ons uit op ’n plato met inheems-aangeplante bome. Hier fluister ons in ’n kaalbeen-bloekom amfiteater waar vrotblaar en kamferbos jou neus behoorlik kielie. Ek glimlag: dis die omgewing waar die hoogste bloekomboom in die suidelike halfrond spog met ’n deursnee van 1.23m en ’n hoogte van 97m.

Ons klimtog vorder bitter stadig. Met ’n rubberhamer word merkerpale ingemoker en kan dit tot vyf minute vat om ’n duidelike wit spoorvoetjie op ’n nadergesleepte kliprots aan te bring. My sintuie is voortdurend bewus van gladde mosgroen poele waarin asemrowende wit lelies oortrek met soensag varings groei.

Hoog teen die krans is die koue bergwater veilig om te drink en proe glad nie soos die dorp se brakwater nie.

Die sweet en sukkel het sy beloning: ’n puik uitsig oor asemrowende botaniese tuine en ’n groen vallei wat aanhou golf tot daar waar dit tussen misslierte verdwyn. As jy hier jou oor teen die grond druk sal jy sweerlik die plantegroei se steun-groei optel.

Waag jy dit om vanuit die donker woud tot teen die afgrond te beweeg, staar jy deur ’n natuurlik gevormde blaarvenster na buite en is verras om te sien dat die son buite nog wit brand en dat die koel lafenis binne eintlik ’n blessing is.

Hoog teen die blou hemel tel my oog die slingerdraai van die witkruisarend op en weergalm sy geroep oor die stroompies en poele. Hier moet jy jouself knyp om te glo dat sprokiesland se rustigheid ’n egte ondervinding is. Voorwaar ’n plek van sielerus en heelwording van die gees. Skielik sing my hart: “Ek is gebore vir hierdie oomblik!

Soms keer jy vir jou nerwe. Kyk jy fyn sien jy kleurryke insekte orals wriemel, skoenlappers sweef geruisloos verby en blounerfies herinner jou dat jy in ’n woud stap waar feetjies saam met die uile woon.

stap4

Skuins na een besluit ons om rugsak af te gooi en kaas-en-soutbeskuitjies nader te trek. Langs ’n waterval wat bruisend in ’n poel neerplons, vlei ons neer. Aah... peuseltyd bly lekkertyd. Daarna gly ons in die verfrissende bergwater in en voel dit asof ons Disneywêreld se Fern Gully besoek. Weerskante kabbel silwer watervalletjies teen swart rotse af en ontmoet onder in die stroom waar welige spierwit varkoor-kelke so groot soos A4 papiere groei. Tyd staan stil terwyl watervoëls en woudgeluide jou herinner dat jy lewe!

Die weer speel verrassing-speletjies. In sekondes kan die uitsig van sonnig na misslierte toor. ’n Ligte gerammel vanaf Haenertsburg se kant herinner ons dat die donder hier laag sweep slaat. Skielik spaander almal onder die waterval uit.

stap5

Vyf en veertig minute later ontdek ons ’n grot in ’n skeur en almal trek asem in. Natuurlik - die ideale rusplek vir ’n eerste staproete-been. Die uitsig oor die kloof en asemrowende bergpieke is puik. Die vorige uitsigte was bloot ’n voorgereg, en sonder twyfel het ons ’n afsaalplek gevind sonder gelyke.

Binne teen rotswande beur geelhout wortelvingers in skeure ’n weg na die binne-aardkors en kan die vloer maklik gelyk gekap word vir ’n oornagplek. Opgewondenheid breek in die geselsgroep los en word die hoogte gevind vir ’n Jo-jo watertenk wat toilet- en stortgeriewe kan voed. Die voorkant verras met ’n oopte vir vuurmaakplek, want hier is woudbrande ’n groot gevaar.

Skielik plons groot reëndruppels neer. Dis omdraaityd! My hart sak behoorlik om ’n ongerepte paradys agter te laat.

Hierdie geheime staproete in barensnood verdien alreeds ’n ode. Noem dit die onontdekte Venster-waterval staproete met uitsonderlike geografiese formasies wat nie kan wag om nuwe stapstokke, fotograwe en avonturiers binne te nooi nie.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top