In die nanag
kloof ek met ‘n lemmetjie
onverwags, afvallig en los
deur die verweefdheid
en simmetrie
‘n volmaakte snit in die Kosmos
en deur die gesplete gewelf
met oordadige geweld
stort inflammasie en koors
kromte en wondroos en
die tye en kronologie raak al hoe meer
onsamehangend en gebuig
en ek word opgelet, opgeneem
deur iets dood
want in die laaste epidemie
gluur Die-een-sonder-God
met pêrel en katarak
in sy oog, amper 10 parsek groot.

