Die gebreinspoelde lakeie

  • 0

Liana Meyer, Afrikaanse oom en Hein Walters ...

Op soek na 'n sekere brief kom ek per ongeluk af op laasgenoemde se kommentaar op middelgenoemde se brief wat ek toe natuurlik lees en dié lei my toe na eersgenoemde se opstel.

Dit blyk toe duidelik: Liani skryf vir 'n klop op die skouer (seker die in-ding op Stellenbosch om Engels en Engelses te omarm), Afrikaanse oom probeer haar taktvol vertel dat sy nie mooi weet waar die klokkie lui nie en Hein Walters sê niks.

Liana vertel dat haar groep besef "dat dit terselfdertyd belangrik is dat daar meer Engels by die universiteit geïnkorporeer word, want [hulle] besef die belangrikheid daarvan in die global community en die rol wat dit sal speel daarin om meer swart studente en dosente te werf".

Die implikasie van hierdie stelling is dat Liana dink mens kan nie Engels praat as jy nie jou onderrig in Engels ontvang nie en dat swart studente en dosente nie Afrikaans kan praat nie, dit ten spyte van die feit dat sy, in net die vorige sin, verklaar dat hulle " ... besef dat daar mense is (wit, swart en bruin) wat Afrikaans verkies en beter sal presteer as hulle onderrig in Afrikaans ontvang". Crazy mixed-up kid; sy wéét mos dis nie waar nie want daar is duisende swart en bruin mense wat Afrikaans praat, sy sê dit immers self.

Die "ander groep", reken sy, gee nie veel om nie en wil net seker maak hul taal en ras bly behoue en DUS (my hoofletters) is hulle ten gunste van dubbelmedium-universiteit want a) hulle staan nie 'n kans om anders te "argumenteer" nie en b) hulle is bereid om Engelse studente te akkommodeer want hulle besef dat Engels hier is om te bly

Van wanneer af is mens ten gunste van iets as jy nie 'n kans tot die alternatief het nie, of "nie 'n kans het om anders te argumenteer nie" soos Liana dit stel? As jy iets onder protes aanvaar beteken dit nog nie jy's ten gunste daarvan nie maar dit net op 'n punt van orde. Die stelling dat Engels hier is om te bly is niksseggend, 'n non-redenasie; Afrikaans, Zoeloe, al tien van die ander amptelike tale, is ook hier om te bly. Hoe regverdig die feit dat Engels hier is om te bly dat Stellenbosch halfpad of driekwartpad moet verengels?

Soos mens kon verwag, opper sy ook daardie geykte storie van die taalkoeie (teenoorgestelde van taalbulle), naamlik "indien Afrikaans, wat dan van Xhosa/Zoeloe/watookal". Die redenasie is mos net so geldig dat, indien daar by 'n Afrikaanse instelling op Engels aangedring word, die magte die sy dan kan aanvoer "maar wat dan van Zoeloe/Xhosa of wat ookal". Om die waarheid te sê, dieselfde geld vir enige taal hier; indien by byvoorbeeld 'n Xhosa-universiteit 'n groep studente aandring op, sê Engels, dan kan daardie universiteitsowerheid vra maar wat dan van Venda/Tswana/watookal.

Afrikaanse oom stel dit mooi eenvoudig aan haar: "Gee my asb 'n verduideliking waarom 'n Afrikaanse US eksklusief is en 'n Engelse UK inklusief is. Hoekom sou jy sê, 'n suiwer Engelse UK is ’n multikulturele kampus?" Liana of Hein het nog nie daarop geantwoord nie.

Die rede hoekom Hein en Liana nog nie daarop geantwoord het nie is omdat hulle nie in staat is om daarop te antwoord nie; dit is buite hulle verwysingsraamwerk. Die rede hoekom Afrikaanse universiteite moes verengels is om die las te deel met die Engelse universiteite en Hein en Liana (en ek sien ene Philip de Beer ook) is naïef genoeg om hierdie inklusief-eksklusief-storie te glo.

Anders gestel, Liana en Hein werk mee om US te verengels omdat die regering dit wil hê. Aanvanklik was dit net die Engelse universiteite se agenda maar die regering het intussen, nie noodwendig om dieselfde redes nie, daarby ingeval. Die taalkoeie is dus niks anders as breingespoelde lakeie nie.

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top