Die fossiele sou verstom staan ...

  • 8

Angus,

As ek so sien hoe jy steeds sukkel met my en Dolf se name, smaak dit my jy het nog nie heeltemal herstel van daardie onderonsie met die rooi kangaroe daar in Australië nie.

Een voordeel van daardie onderonsie is dat darem nou so dan en wan ’n tipe van ’n intellektuele eerlikheid deurskemer, wat nog nie tevore by jou te bespeur was, nie – waar jy self bevestig dat geen wetenskaplike wat sy sout werd is, sal kan sê dat dit wat hy nou bereken het, presies en akkuraat is nie en dat almal soek en ondersoek en werskaf en swoeg om die waarheid te ontdek in welke proses daar gedurig deur berekeninge bevraagteken en getoets word en deur nuwe navorsing as nie so akkuraat  nie uitgewy word.

Hierdie sweem van intellektuele eerlikheid by jou is te waardeer.

Maar dit bring ons by die tergende probleem wat steeds onopgeklaar staan – julle aansprake van onomstootlike en onbetwisbare bewyse wat julle beweer te hê. Jy besef nou sekerlik self dat sulke aansprake, in die lig van wat jy self nou bely het in jou oomblik van intellektuele eerlikheid (hoop werklik nie daardie oomblik is te vlietend van aard nie …) eenvoudig nie kan water hou, nie – en dit is juis wat ons die hele tyd, sê.

Die verskil tussen die mens-gedrewe wetenskap en die Bybel, of dan die Evangelie in al die dinamika daarvan, soos daarin vervat, is die feit dat die wetenskap nog na sekere waarheid soek, maar dat die Woord in die Bybel alreeds uitgesuiwerde en onverdunde Spirituele Waarheid vervat. Dus, om die Bybel met die menslike wetenskaplike gespartel te vergelyk, sal nie opgaan, nie. Die Woord, soos in die Bybel vervat, is dus essensieel Spirituele "Wetenskap", rééds nagevors en uitgeklaar.

Maar, daarin is ook vervat sekere ander, soos natuurwetenskaplike en geesteswetenskaplike gegewens, hoewel dit nie ten doel het om ’n wetenskaplike handboek of referaat te wees, nie. Die wetenskaplike gegewens wat wél daarin is, is inderdaad betroubaar en akkuraat en moet gewoon deur die mens verstaan word. Die rede waarom dit as betroubaar en akkuraat aanvaar word, is omdat dit nie op spekulasie berus nie, maar op eersteklas ooggetuie-aanspraak van die Skepper Self, asook Sy profete aan wie HY die inligting te kenne gegee, het, juis om met die mensdom te deel. Dus, is wat as direkte getuienis gereken word as komende van die Een Wie in die eerste plek verantwoordelik is daarvoor, hoef nie weer bewys te word nie. Daarom stel gelowiges gewoon nie belang om weer iets te bewys wat reeds vasstaan nie. Ons gaan gewoon van daar aan en dit gaan verder vir ons gelowiges daaroor dat ons nou leef met daardie gegewens, om te sien hoe dit ons lewens behoort te impakteer en beïnvloed.

Die verskillende wetenskapsoorte wat in die geskrewe Woord aangetref word, is ondersteunend en toeligtend daar om sekere Spirituele relevansie met die mens se ervaringswêreld te bewerkstellig.
God het nié die Woord in die formaat soos dit daar staan, ingegee (Galasiërs 1:11-12; Efesiërs 3:3-5) om deur mense bevraagteken te word nie, maar om deur mense as Waarheid aangeneem te word, omdat dit die Goddelike Waarheid is.

Daarom is daar nie gedetailleerde verduidelikings vir wetenskaplike inligting wat in die geskrewe Woord aangetref word nie. As God gemeen het HY het nodig om Homself aan insigloses te verduidelik, sou God inderdaad die details verskaf het. Maar soos dit is, het God voorsiening gemaak vir diegene wie die Woord aanneem en tog steeds beter insig wil hê, deur beskikbaarstelling van die ingewing en leiding deur die Heilige Gees in SY Woord, wie die nodige insig aan mense sal gee (Jeremia 33:2-3 g.m. Johannes 14:26). En, só ervaar ons dit ook.

Ons het dus die eerstehandse versekering van die Skepper omtrent die dinge wat deur HOM geskep is en dit is net logies dat dit geen verdere bewys verg nie – daar is niks onwetenskaplik daaromtrent nie. Die wetenskap gebruik reeds bewese feite as gegewes om ander wetenskaplike fenomene mee op te los. Tot ’n groot mate is die werk van prof. Collins, ’n gelowige en sy spanne by die Craig J Venter Institute,  met die ontwikkeling van die sintetiese genoom, ’n duidelike demonstrasie van dié aspek. Collins, die wetenskaplike in beheer, gee eer aan God vir die oorspronklike ontwerpe, hoewel hy meen dat dit evolusionisties van aard is. Collins het hom nie verbind tot die Heilige Gees vir leiding, nie, want hy self erken dat hy nog nie daartoe gevorder het, nie. Maar Collins gee eer van die Ontwerper en het derhalwe die vrug gepluk. Collins se span het ook vir ons aangedui hoe ingrypend intellektueel kompleks selfs die nietigste komponente van die Goddelike natuurwetenskaplike skepping, is – ’n aspek wat die basis van lukrake en ewekansige seleksie en mutasie, waarop die evo devo hipoteties berus, geheel en al uitskakel.

Die Woord is dus nie defensief deur God opgestel en ingegee om Homself te verweer en te verduidelik sodat HY daardeur verwaande halsstarriges en twisgierige skeptici probeer tevrede stel, nie. God stel SY werke as die feite wat dit inderdaad is.

Niemand sal die direkte getuienis van die ontwerper en vervaardiger van ’n komplekse mediese aftaster oor die produk wat hy geontwerp en vervaardig het, of dat hy die ontwerper of vervaardiger daarvan is, in twyfel trek nie, maar sal eenvoudig sy informasie as gegewe neem en daarmee voortgaan. Waarom sou enigiemand by sy regte positiewe dit nou met die biologiese skepping wou doen, soos die paar skeptici en ateïste nou met God wil doen? Diesulkes het gewoon nie toegang tot die aksessore en laterale Spirituele bystand wat deur die Woord en die Heilige Gees voorsien word, nie.
Jou hantering van die getuienis van die fossielrekord is egter maklik aanvegbaar. Die fossielrekord is nuttig, ja, want dit gee vir ons ’n rekord van die voorkoms van vorige lewe. Maar wat die fossielrekord nié bewys nie, is dat die een soort evolueer in ’n ander soort. Alle aansprake van evolusioniste in daardie verband, is gewoon gebaseer op onbewese aannames en ander konjektuur. Neem die skedel waarvan jy melding maak. Omdat die fossiel ’n vergrote breinkas, verminderde kies- en voortande het en waarskynlik regop geloop het, word dit nou as sogenaamde menslike "voorouer" deur die evolusionis, uitgewys. Bloot op die voorkoms van ’n paar beenfragmente? Die probleem wat jy het, is dat "moderne" groot ape ook groot breinkaste het – olifante en walvisse selfs veel groter  - terwyl hulle nie mense is nie en dat die gebit slegs aanduidend is van die preferente dieet-tipe (herbivories of omnivories) van die storweling is. Die konnotasie wat jy maak dat dit ’n mens was, is gewoon ’n tipiese evolusionistiese aanname wat jy nooit in der ewigheid sal kan bewys nie.

Ek het dit tevore gesê en sê dit weer – die verskeie soorte lewe op aarde, veral die oertyd, was nog maar altyd fisiese ekwivalente – nie omdat die een uit die ander evolueer het, nie, maar omdat hulle uit dieselfde aardelemente geskape is en omdat hulle aangewese was om gemeenskaplike natuurlike habitat te moes deel. Dit is dus te verstane en te verwagte dat hulle grootliks biologiese en en veral fisiologiese ekwivalente hoedanighede sal vertoon. Dit is immers geheel in al in ooreenstemming met die Woord – dat God uit dieselfde materiaal die verskeie soorte geskape het om verskillende lewenswyses te handhaaf en sodoende gevarieerde en eweredige volhoubare impak op die natuurlike milieu/omgewing sal hê. Vir daardie rede, is die fisieke voorkoms van verskeie soorte só geontwerp dat hulle verskillende voedings voorkeure en habitat voorkeure sou hê. Die aap en die mens het nog altyd maar habitat gedeel, byvoorbeeld, te oordeel na hoe dit vandag nog is in die verskillende reënwoude wat daar nog te vinde is. Ape wat, byvoorbeeld, in die droër streke van die oerwêreld sou moes oorleef, soos byvoorbeeld die Djurab woestyn fossiel vir ons aandui, sou sekerlik regop kon loop en korter handvingers hê en kort voetvingers (tone). Hulle het gewoon nie die tipe ledemate van die tipiese oerwoud-aap nodig gehad nie. Maar dit is geen aanduiding dat hulle die een en ander uit 'n sogenaamde gemeenskaplike voorouer geëvolueer het nie.

Wat die klipinstrument aanbetref, was daar onlangs media op televisie wat duidelik getoon het hoe sjimpansees skerp klippe baie behendig aanwend om neute te breek – ’n instrument. Dus, jou aanname dat dit ’n mens se instrument is, is maar net so onbewysbaar soos die res.

Jy is baie wys om nie jou kop op ’n blok te sit oor die akkuraatheid van die toetse nie. Maar tog maak jy in jou brief aanspraak oor die ouderdom van die fossiele waarna jy verwys. Jy lewer in daardie verband ’n pleidooi dat ons die talle wetenskaplikes se toetse maar moet aanvaar, omdat hulle mekaar met valkoë dophou. Wat jy egter nie vermeld, nie, is dat evolusioniste geneig is om eerder mekaar (of dan hulle gemeenskaplike belang, die evolusionistiese religie en filosofie) te beskerm, as wat hulle uit die gelid uit sal tree om opspraakwekkende evolusionisties-afbrekende openbarings te maak. Die ander wetenskaplikes, soos die gelowiges, wat wel die talle aberrasies en swakhede van die evolusioniste se metodes en werkswyse uitwys, word gedurig deur evolusioniste in die openbaar versuur en aangeval. Dus, die diskriminerende politiek van jou wetenskapsfilosofie verongeluk jou eie beweegrede – diskriminerende portuur beoordeling wat daarop gerig is om teen-evolusionistiese werk te elimineer en nie om die werklike toedrag van sake aan die lig te bring nie. Jou wetenskaplikes hou mekaar soos valke dop, soos jy sê, ja, maar alleenlik om toe te sien dat niemand van hulle uit gelid tree, nie. In hierdie verband moet ek jou dalk net weer herinner aan die kwelling van juis een van die gedugte lede-in-gelid, die welbekende evolusionis Fred Hoyle :
“True, the problem is not discussed openly in the main stream of biological literature, but one comes on small fragments published in obscure corners by writers who have evidently perceived the problem and been acutely worried by it. Having made their protest against current dogma, such writers seem always to have been prepared to let the matter drop, as no doubt they encountered the same kind of opposition that Chandra Wickramasinghe and I have run into. My impression is that most biologists really know in their hearts the issue is there, but are so appalled by its implications that they are prepared to swallow any line of thought to avoid it. If one proceeds directly and straightforwardly in this matter, without being deflected by a fear of incurring the wrath of scientific opinion, one arrives at the conclusion that biomaterialists with their amazing measure of order must be the outcome of intelligent design. Problems of order, such as the sequences of amino acids in the chains are precisely the problems that become easy once a directed intelligence enters the picture.”

Dit wil dus steeds voorkom asof ons juis ongerus moet wees oor jou wetenskaplike waghond – mede evolusioniste – omdat hulle eerder die normale gang en ontwikkeling van natuurwetenskap met hulle diskriminerende en evolusie-filosofie-beskermende aggressie sal frustreer, as om die waarheid omtrent die inherente swakhede van die hele evolusionistiese bestel in die ope uit te sorteer.
Maar daar blyk ’n rede te wees waarom evolusionistiese en evolusionisties georiënteerde akademici, soos byvoorbeeld drs. Jurie van den Heever en George Claassen hier ter plaatse -  behalwe dat dit ook blykbaar vir hulle ’n religie is - so vasklou daaraan. Soos jy (onwetend) self te kenne gee deur te verwys na wetenskaplikes wat hulle nering verloor as daar nie meer iets is om te bewys nie – die evolusionis het immers ’n persoonlike belang daarin om die darwinisme kadawer aan die lewe te hou, veral omdat hy weet dat daar nooit in der ewigheid bewyse gevind sal word vir die hipotese nie – wat natuurlik sy akademiese professie kunsmatig aan die lewe hou. Selfs nie in die werklike lewe, buite die akademie om, het die evolusionisme praktiese waarde, nie – maar daarsonder is hulle ook sonder ’n professionele heenkome …

Bekende evolusioniste, sommige altans, kan nie anders as om te erken dat evolusie ’n lewelose "teorie" is, nie. Philip Skell en Avraham Sonenthal is maar twee van die mees prominente figure. Om vir Avraham Sonenthal in ‘The Scienctist’  aan te haal:

“The article calls evolution ‘the backbone of modern biology.’ I beg to disagree. No product, discovery, medical procedure, or advance has come out of evolutionary theory. Without evolutionary theory, all practical biology would stand just as it is. No major corporation has a "Department of Evolution" because scientists who have to produce results don't use it. In fact, I would like to challenge the readership of this publication to come up with one practical application of biology that would have been impossible were it not for the hypothesis of evolution. In the meantime, I think that scientists should leave the important questions, such as what is the meaning of life and is there a God, to religion, which knows how to answer such questions, and stick to what they know how to do, such as breeding insect-resistant corn …”

Dus, Angus, as die fossiele sou moes kon verstaan en weet wat julle alles aan hulle toedig, sou hulle, nes NP van Wyk Louw, verstom gestaan het oor die betekenisse wat die akademici en onderwysers aan Raka toegeken het, verstom staan oor wat julle aan hulle toedig.

Miskien moet jy maar eerder uit Australië uit wegbly, Angus – lyk nie of jy daar iets gaan wys word nie – dit wat julle wys word, kan julle sommer in die studeerkamer by die huis aanmekaarslaan – verkieslik met die enkelmout (waarna jy gewoonlik so graag verwys) ter hand.

Kobus de Klerk.

 

  • 8

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Ter opheldering, ingeval ek die indruk sou skep dat die bekende Philip Skell 'n volbloed evolusionis, is - hy is inderdaad 'n ondertekenaar van die wetenskaplikes se protesskrif, A Scientific Dissent From Darwinism.

    Daar is blykbaar talle gerekende wetenskaplikes wat net nie meer die darwinisme kadawer wil dien nie. Lees gerus meer daaroor.

    Let daarop dat hulle 'n ernstige probleem met die darwinistiese tipe evolusie het, en nie soseer met die fenomeen van natuurlike evolusie, of verandering, nie. Hulle meen dat dit sonder twyfel die resultaat van (Goddelike) ontwerp, is.

    Kobus de Klerk

  • Die skrywers van die fabels in die Bybel sou natuurlik net so verstom staan oor dit wat ons Kosie aan hulle verhaaltjies en volksmites toedig. 

    Die interessante feit is natuurlik dat elke gesaghebbende unversiteit in die wêreld die evolusieteorie as basis gebruik in die curriculum van programme in die biologiese wetenskappe, paleontologie ens.  Elke keer as ek Kobus se oningeligte opinies lees laat dit my dink aan die ANCYL en YCL se uitsprake oor die ekonomie, werkskepping en  armoedeverligting. Het hulle dalk ook spirituele intelligensie???

    Bill Maher het dit vir my pragtig saamgevat: "The problem is that people with the most ridiculous ideas are always the people who are the most certain of them".

    Groetnis

    Thomas

  • Kobus, jy skryf so baie uit onkunde dat ek nie kan byhou nie. Baie praat verdoesel die onnoselheid soms goed.

    Jy  gorrel: "Wat die klipinstrument aanbetref, was daar onlangs media op televisie wat duidelik getoon het hoe sjimpansees skerp klippe baie behendig aanwend om neute te breek – ’n instrument. Dus, jou aanname dat dit ’n mens se instrument is, is maar net so onbewysbaar soos die res."

    Sjimpansees breek neute met klippe wat hulle netso optel. Die mens is die enigste aapsoort wat klippe verwerk het tot instrumente deur afsplintering. Daar is dus ’n groot verskil tussen die klippe wat Sjimpansees gewbruik en die wat mense as instrumente gebruik het.

    Johnnie Walker Blue Label  is nie ’n enkelmout nie, maar ’n versnit. Skaf gerus vir jou ’n bottel aan en word wys. Dit sal sommer jou spirituele intelligensie laat verdriedubbel.

    As jy NP van Wyk Louw se Rondom eie werk mooi deurwerk, dan is jy al op pad om wys te word. 

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Die klippe wat die sjimpansees gebruik het – sommige daarvan – is afgesplinter, Angus. Help nie om slim te probeer wees nie. Is eintlik maar logies – met die gebruik sal die ronde kante eerste afsplinter tot dit feitlik heeltemal weg, is en dan gou-gou skerp kante laat, omdat hulle dikwels mis kap en hulle kap nogal hard – en die maklikste manier om so ’n platterige klip vas te hou, is vertikaal, stomp kant bo – daarom doen die ape dit, skerp kant ondertoe, want die skerp kant sal die poot (hand) seermaak andersins. Daar is heelwat sulke klippe in verskillende stadiums van afsplintering in die gebied waar hulle vreet, omdat hulle sommer die klippe wat rondom die rots (waarop die neute neergesit word om te kan kap) lê, lukraak optel en gebruik en agterna net weer daar neergooi en lukraak later weer gebruik – daar vind daagliks sulke aktiwiteit plaas want hulle vreet die neute in die direkte omgewing.

    Dit is absoluut verbasend dat jy die dinge nie besef, nie. Smaak my jy is ook boonop nie op hoogte met wat in die natuur plaasvind, nie. Dalk pas sulke feitelike inligting nie jou hipotese nie? Dit verongeluk julle fabelagtige, onbewysbare aannames.

    Jou poging faal dus weereens. Jou sarkastiese aanmerking dat mense, ape is, is juis een van julle verleenthede ... moet nie so met jouself spot, nie. Punt is, jy kan glad nie bewys dit is ’n mens wat dit destyds so laat afsplinter het, nie – daar was nog nie mense nie en die afsplintering kan van enige aap se gebruik daarvan, gebeur.

    Jy kom nou eers agter jy kan nie bybly, nie?

    Terloops, wie het na Johhnie Walker Blue Label verwys? Ek stel ook werklik nie so baie in drank belang, soos jy, nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus,

    Die klippe wat sjimansees gebruik, het hulle netso opgetel. Hulle het dit nie doelbewus afgesplinter om die snykant van ’n lem te vorm nie. Slegs ape met meer menslike eienskappe as sjimps het gesit en doelbewus instrumente gemaak.

    Ek probeer nie slim wees nie, ek probeer aan jou verduidelik dat daar ’n verskil is tussen die implemente van sjimpansees en doelbewus gemaakte implemente wat gevind is in opgrawings. 

    Jou kastige waarneming van "skerpkant ondertoe" het jy self sommer sit en uitdink, en klink nogal heel pateties. Jy het dit beslis nie self waargeneem nie.

    Die mens is beslis een van die aapspesies. Waarom sal dit vir ons ’n verleentheid wees? Dis die Christen se groot verleentheid, want dit trek die mens af van sy troonjie waarop hy gedink het hy sit. Kastig ’n amper goddelike wese geskep deur ’n god. Dis mos belaglik! Darwin het gewys dat dit twak is en daarom is julle so hatig op hom.

    My fout. Ek het sommer sonder bewys aangeneem dat jy weet dat ek net JW Blue Label drink. Jy kan gerus ook probeer. Dit sal jou spirituele IK laat verdriedubbel. Net ’n woordjie advies: koop ’n krat van twaalf, dan kry jy sommer goeie afslag. Sorg net dat jy elke bottel se nommer afskryf vir assuransie doeleindes Die goed is duursaam.

    Groete

    Angus

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Kom ons handel gou die sjimpansee-en-klip situasie af. Dankie vir die video skakel.

    Jy praat asof ek sou te kenne gee dat die ape die klippe spesiaal voorberei - kan jy dan nie sorgvuldig lees wat ek skrywe, nie? Lees tog maar weer wat ek geskrywe, het.

    Die video wat jy goedgunstig verskaf het, ondersteun my argument meer as wat jy besef. Kyk mooi, jy sal sien hoe die klippe wat as hamers gebruik word, die onderste klippe tref. Jy hoor dit sommer ook. So, dit is so dat die ape die klippe daar optel en behendig gebruik - nes ek mos gesê, het, maar dan ook sommer weer agterna neergooi, en dan gryp die volgende ou aap die klip en gaan aan en so herhaal die proses homself wie weet hoeveel maal op n dag, wat nog te sê, n maand of 'n jaar. Maar, nou is dit logies - hoe meer 'n klip gebruik word, hoe meer splinter dit af. 'n 4 Minuut video gaan tog sekerlik nie die hele proses vir jou demonstreer, nie - ek is verbaas dat jy dit nie besef, nie.

    Dit wys ook nie ander lokaliteite waar sulke dinge gebeur nie. Een van die videos  wat ek gesien het, wys juis 'n klip wat al goed afgesplinter, het. Dus, die ape berei dit nie doelbewus so voor nie, en ek het dit op geen stadium geïnsinueer, nie, maar weens herhaalde gebruik, gebeur dit dat die goed al meer en meer afsplinter. Soos jy kan sien, is dit sommer 'n trop ape wat dieselfde klippe as instrumente gebruik, oor en oor. Dikwels is dit baie groter klippe of selfs rotse wat as tafel dien, en afhangende van die geologie van die omgewing, is die kleiner klippe nie so hard nie en splinter makliker af.

    Voor mense besef het dat ape sulke behendige dinge aanvang, soos om klippe as instrumente te gebruik, het hulle sommer aangeneem dat dit mense was wat so 'slim' te werk gegaan, het. Intussen het die kennisbasis bietjie verbreed, en sien ons almal dat dit eintlik aap se kind is wat al vir die afgelope duisende jare so behendig met klippe as instrumente werk.  Tog sal die darwinis nie sy verspotte teorie daaromtrent - dat dit mense is - skrap nie, maar sal nou soos jy, desperaat probeer om die ou afgestorwe onbewysbare teorie, deel van daardie kadawer waarvan ek praat, steeds lewe te probeer inblaas.

    Terloops, dit wys ook sommer waarom grootape en mense so baie ooreenstemmende fisiologies genetiese kenmerke vertoon  - en ek sê dit al jare vir julle - hulle het op 'n stadium habitat en voeding gedeel. God het hulle so geontwerp en dit beteken dat hulle glad nie van mekaar afstam omdat hulle fisiologies ooreenstemmende eienskappe het, nie. As julle reg moes wees, was die hominiede die voorouers en uit daardie selfde genepoel het hiper intelligente en talentvolle 'ape' (wat julle mense noem) asook onnosel ape (regte ape), voortgekom. Dit op sigself is ook onlogies en eintlik weersprekend. Feit is - dit is logies en die Woord sê so en ons sien dit so - mens en aap had nog nooit 'n gemene voorouer, nie. Daar is dus ander, baie meer logiese rede vir hul fisiologiese ooreenkomste - die wat ek alreeds uitgewys het - gedeelde habitat, voeding, en natuurlik, is beide uit dieselfde aardelemente deur God geskape - in 'n neutedop (waarvoor jy nie 'n klip nodig het om dit oop te breek om te verstaan, nie, Angus!).

    Nou jou Johhnie Walker en jou advies dat ek dit moet gebruik - maar kyk nou hoe skiet jy jouself weereens in die voet. Jy sê dit is jou gunsteling versnapering en jy beveel aan dat ek dit gebruik om my Spirituele Intelligensie te verhoog? Behalwe dat jy met iets spot, waarvan jy geen benul het, nie, is dit ook gruwelik weersprekend... kyk, jy beskik oor geen Spirituele Intelligensie nie - dit is 'n gegewe. Jy is lief vir Jannie Stapman se blou etiket boorgatsous- Dit is 'n gegewe. Ek, daarenteen, gebruik vir baie jare al glad nie Jannie Stapman of sy maters, se boorgatsous, nie, maar beskik beslis wel oor Spirituele Intelligensie - danksy die HERE en nie Jannie Stapman se boorgatsous, nie.  Die logiese les? Jannie Stapman se boorgatsous is nie pasbaar en versoenbaar met Spirituele Intelligensie nie.

    Nog 'n les? Die wat Jannie Stapman se boorgatsous so baie gebruik, kan nie logies dink en redeneer, nie, en is maklike prooi vir die darwinistiese evolusieleer se talle vangkuile, terwyl die manne met Goddelik gegewe Spirituele Intelligensie, maklik daardie vangkuile opmerk en gemaklik by daardie vangkuile verbybeweeg. Los die boorgatsous, en omhels die Kennis en Insig.

    Prost!

    Kobus de Klerk

  • Kobus,

    Dit lyk my jou oge gaan oop. Nou praat jy weer van hamers. Kyk mooi die plat kant is onder.

    Skerm soos jy wil, daar is ’n verskil in klippe wat doelbewus gevorm is tot instrumente en klippe wat deur sjimansees opgetel is s'n as instrumente gebruik is. Of hulle die klippe laat afsplinter of nie, wat te betwyfel is, want hulle slaan net hard genoeg om die dop van die neut te laat kraak. Miskien moet ek jou ’n foto stuur van klip-implemente, want  jy he so iets beslis nog nie gesien as jy aanhou stry nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top