(Opsionele aanbevelings)
Die eerste ding wat jy registreer is Raap & Skraap.
Dit is ‘n verkoper, kansvatter en losloper. Hou dit fyn
dop (en die doenertjie ontbloot van denke). Kollektief
werf dit steun vir die finale illusie: van power tot prag
in een pers. Weg is krot en klas. Alles teen ‘n klein
fooi my kroon. Dit is telkens hoe die kopstuk rammel.
Plank vir plank slaan dit nog name op nuwer modelle
van dieselfde ding wat is maar ook nooit word nie. En
die kraaie gaap hulself uit silwerware uit asof beweging
onderworpe is aan só idee van beweging.
(Aanvaarbare atmosfere)
‘n Matige manie. Ek het sopas jou motief gekaap
soos die meester voor die goed voor die slaaf. Of die
slaaf agter die goed agter die meester- Sien jy!?
Daardie suurstofdief op ons lugtyd 4:16 en 6:14?
Ook 1:46 en 6:41...Hy blêr vier keer per dag as
bonkers@bleater. Dankie vir die voorskrif, Dr. Know
Treatment Required. Leave your name, number
and urine sample within soft walls.
(Toneel een)
Die masjien kom tot stilstand by ‘n brieftas op ‘n
plank...Hier hoop almal op huise soos pampoene
sonder rank, reken dit, klop en roep.
R&S: Oom Dempie? Tant Sêmpie Conraad? Langerdraad?
Pielvlooi! Pienkie innie kooi?
(Stilte.)
(Dit gooi flikkers vir jou.)
R&S: Die klonge slaap seker nog hulle roes aan/af rampe
en revolusies ...
(Dit klop weer.)
R&S: Tweedledee and Tweedledum! Ah yes oh no the
leeches come to draw a pint of blood from all the young?
(Stilte.)
(Dit gooi weer flikkers vir jou.)
R&S: Jy weet, sodra jy o kultus my kultuur roep
word bloed en sweet skenk in stilte verdink.
(Dit klop weer.)
R&S: Kan ‘n god dan nie kan ‘n god dan nie meer uit ‘n
grot uit kom nie-
(Oom Dempie, Tant Sêmpie Conraad en Langerdraad rank
meteens uit die brieftas in koorgesang)
Koor: Kan ‘n woord dan nie kan ‘n woord dan nie meer
uit ‘n brieftas val nie ...
R&S: Genade! Ik het amper geloof in julle verloor. Waar is klein-
en bygelowe.?
Oom Dempie: Smous hierdie fopdosser van Ja/Nee al weer of
nog steeds tyddeel?
(‘n Vraag vir ‘n vraag = Stilte, gewoonlik...)
Langerdraad: Sê tog iets. Iets soos lig en donker maak blind
soos ‘n boom waarvan almal eet.
(Stilte.)
Oom Dempie: Die gwh+aap het seker nou sy stem verloor?
(Stilte.)
R&S: Inteendeel/inderdaad! Die dood is ‘n voorvereiste
tot die lewe. Hoeveel dood benodig u? Dis verewig op
uitverkoping – die grootste winskoop tot op hede! U voorkeur
vorm van betaling, asseblief.
Oom Dempie: Wag ‘n bietjie, my loof se aar begin en eindig
bymekaar- Hoe loop jou stories?
(Pielvlooi skakel aan)
Pielvlooi: Ja, ja, vertel ‘n storie! Asseblief-
(Pienkie innie kooi skakel aan)
Pienkie innie kooi: Sjoes!
Pielvlooi: Gesondheid.
Pienkie innie kooi: Jy mag nie praat nie!
Pielvlooi: Sê wie?
Pienkie innie kooi: Mammie, boetie speel al weer radio.
Pielvlooi: En jy’s ‘n spotprent-
Tant Sêmpie: Bly stil en gaan slaap!
(Jy voel dieselfde)
R&S: Nee,nee. Ik is bly die kinders is wakker. Ik kom juis
hiernatoe vir hulle onthalwe-
Tant Sêmpie: Wil die ding my op hierdie ongewenste uur
vertel hoe ek vir my eie kinders moet sorg?
Langerdraad: O, die duiwel se vrou dra altyd pimpel en pers...
Oom Dempie: Jy praat nie so van jou ma nie.
Langerdraad: Tjil, doed. Gun my ook my kans om my verlore tiekie
teen die nag en/of dag se hemel vas te speld.
R&S: Ik stem. Daar is niks wat vrede op ‘n huis laat toesak
soos ‘n gesellige slaaptydstorie nie.
Pielvlooi en Pienkie innie kooi: Ja!Ja! Ag tóé Maaaaaaaa-
Tant Sêmpie: Nou goed.
Oom Dempie: Vertrou jy hierdie gedrog wat klink asof hy hik as
hy ek sê?
Tant Sêmpie: Sensuur sit ook soos satelliete in onbruik aan daardie
koolkop van jou.
Langerdraad: Eina.
Tant Sêmpie: En jy. Jy’s te groot vir jou skoene, te klein vir jou broek,
te glad met jou bek, te nat agter die ore, te rooi in die oë maar verder,
my liefste, is jou ego ‘n perfect fit.
(Stilte vir ‘n baie lang tyd.)
R&S (aan jou): Wie of wat kan vir die son halt en sê: Hoorie! Oos is die nuwe wes
en pienk die nuwe rooi in een stel pers trappe. Jy weet watter kant toe.
Oorhandig die fotogeniese baby marrows as ambassadeurs van my welvaart.
En so begin die storie soos ‘n man se skadu wat in alle rigtings val – niemand kan
dit keer (lees dikteer) of verander nie, “ek was ontsteld”. Onthou, die hart is ‘n
deur tussen ruimtes of ‘n grot wat ophou teen ‘n klam klip. Dit is moeilik vir ‘n
analfabeet ek weet, behalwe met woorde soos effe in sy skat. Sal ons ‘n moment
neem en later vir onsself of die afsonderlike selle van ons brein lag?
(Pouse)
‘n Gordyn sak oor een toneel. Dit voel of jy weg spartel van ‘n sweisstaaf se punt
berg af in water soos ‘n vis met ‘n duit in die bek. By die kroeg skink die man
en sy vrou vir jou ‘n cope sonder brand eish op gletsers. Nou goed, kom ons
doen die eerste repetisie. Tjoepstil asseblief. En ... aksie!
Adriaan

