Die Filterman: Nog nodig of oorbodig?

  • 0

Al ooit die gevoel gekry dat jy 'n verbete en gans verlore stryd teen die aanslag van musiek stry? Daai oomblik wat jy aan jouself moet erken: ek kan eenvoudig nie bybly nie, want daar is net te veel nuwe kunstenaars en te min tyd om na almal te luister!

Ja, jy kén daai gevoel.

Nes jy dink jy het 'n genre mooitjies onder die knie, sodra jy voel niemand kan jou iets van sus of so vertel nie, boul iemand musiek se weergawe van krieket se goëlbal en jou wegpen van kennis staan eensklaps windskeef.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dis bitter selde 'n onaangename verrassing as jy terloops bewus gemaak word van 'n wildvreemdeling op 'n gebied waar jy jouself as kenner beskou het. Dis straks effens embarrassing, maar grotendeels verblydend.

En dis waarom ek op Die Filterman vertrou.

Oor al die jare van snuffelwerk vir nuwe musiek was daar altyd een ding waarop ek kon peil trek: iewers was daar 'n filterstelsel in posisie, iemand wat deur al die bog sal sif en jou net die beste bied, die room wat van 'n spesifieke genre afgeskep is.

Die filter-ding werk amper soos 'n piramide-skema.

Die Filterman is iemand wat jy soos jou eie ma vertrou – sy integriteit is bo verdenking, sy woord is wet. As hy jou voorsê waarna om te luister en wat om 'n mis te gee, dan doen jy dit onvoorwaardelik.

Bo jóú Filterman is daar natuurlik sý Filterman, iemand wat 'n soortgelyke boodskap aan hóm oorgedra het. En bo dié, straks iemand anders, en bo hom ...

Julle kry die prentjie.

Op jou beurt was jy natuurlik die Filterman vir die ou wat direk jou kennis verbreed het. Ek was byvoorbeeld die ou wat die ace-kaart gehou het in die plaaslike musiekpak. Op Smittie kon ek staatmaak vir rock en my vriend Kieme Kowalski het my deur die gangetjies van dwarsstraatjies van alt country en lo-fi gelei.

'n Dekade of twee gelede het ons groepie filtervriende soos klokslag op 'n Vrydagoggend die Britse tabloid-size koerante Melody Maker en New Musical Express by CNA gaan koop om uit te vind watter musiek oorsee gebeur, maande voor dié gier ons kus sou bereik. Selfs al was dié publikasies 'n week of twee oud, was hulle nuus hier by ons so vars soos 'n Gito Baloi bass line.

Ons was dus bewus van shoegazer-groepe soos Cocteau Twins, The Jesus and Mary Chain, Sonic Youth, Hüsker Dü en Dinosaur Jr voor dit hier in ("donker, duiwelse") laatnagklubs gedonder het.

Ons het van die Madchester-beweging geweet voor groepe soos The Stone Roses, Happy Mondays, The Charlatans, James en New Order ter plaatse op radiostasies lugtyd begin kry het.

Die grunge van Amerika se Nirvana, Pearl Jam en Soundgarden kon ons vergelyk met die Britpop van Blur, Suede en Oasis voor platejoggies dié besluit namens luisteraars geneem het.

Kort voor lank het tegnologie ons egter ingehaal.

Teen die tyd toe die NME's motgevreet in bokse aan't vergaan was en almal besef hetUncutQ en Spin is 'n duur prys om maandeliks vir musiekkennis te betaal, was daar reeds gesoute Google-, Wikipedia- en You Tube-gebruikers en was webruimtes soos Ultimate Band List en Pitchfork Media die plek waar liefhebbers met die kliek van 'n muis op hoogte van musieksake kon bly - daagliks ... én gratis.

Op die keper beskou het die koms van die internet musieksnobs se aanspraak op eksklusiewe kennis ietwat bedonner. Elke jan-kletsrym-en-sy-maat kan nou binne 'n oogwenk nuwe musiek vind, kompleet met die kunstenaar se biografie, diskografie, klankgrepe, video's en les bes, verwysings na soortgelyke musiek. 
Die navorsing, speurwerk en effort van ouds is nie meer nodig nie!

Hiervoor sê ek halleluja. Ja, die "romantiek" van musiek met 'n lang draai ontdek is iets van die verlede, maar die koms van die digitale era het toegang tot nuwe musiek feitlik onbeperk gemaak.

Tog – en hier is die punt wat ek wil maak – is hierdie tsnoenami van nuwe tunes dikwels totaal oorweldigend. As luisteraar kan jy dit binne 'n japtrap opspoor en aflaai. Dieselfde geld aspirantmusikante, wat binne 'n ommesientjie 'n tuisopname die wêreldwye web kan instuur.

Die rol van die Filterman het in dié nuwe era dus nóg belangriker geword.

Tot vandag toe is hulle my eerste port of call as ek wil uitvind wat in die groter musiekarena daar buite aangaan. Dis ouens wat deur die meule gekom het, musiekkoerant- en musiektydskriflesers, bywoners van gigs in alle windrigtings ter plaatse en oorsee, internet-surfers, aflaaiers met ASDL-konneksies. Filtermanne. Met Filtermanne bó hulle.

Van my beste Filterman-vondste vanjaar is:


Damien Jurado se “Working Titles” van die CD Maraqpa


Girls se “Broken Dreams Club” van die gelyknamige EP


Smith Westerns se “Only One” van die CD Dye it Blonde

 
Dawes se “Million Dollar Bill” van die CD Nothing is Wrong 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top