PG du Plessis se Fees van die Ongenooides (Kaapstad: Tafelberg, 2011) speel grootliks in die tyd van die Anglo-Boere-oorlog af. Maar die boek handel nie eintlik oor die oorlog as sodanig nie; veel eerder oor hoe menseverhoudinge in sulke krisistye beïnvloed word en dus verander.
"Die oorlog maak nóg ’n oog in jou oop en ná jy met hóm gekyk het, gaan jy alles en almal vir altyd anders sien" (p 114). "Hy sal haar vir eers die ander ding wat die oorlog in hom gebring het, spaar: die ánder[s] kyk na mense, en hoe hy met sy eie oë gesien het hoe die mure om die kraaltjies waarin elkeen in vredestyd leef, verkrummel. Met die vrede rondom jou, trek die hokkies wat jy vir jouself en vir jou naastes om jou bou, alteveel op die waarheid. Dis net in die geweld dat jou oë daardie nuwe kyk kan aanleer" (p 136). "Sonder om dít by te vertel sou hy nooit behoorlik kon duidelik maak wat in daardie dae in hom gewoed en sy kyk na mense so verander het nie" (p 150). "Al twee het oor oorlog gepraat, en oor wat dit aan ’n mens doen – en aan mense" (p 157). "Dié oorlog maak eers almal gelyk en kies hoog en laag dan van voor af" (p 166).
Die verwysingsraamwerk van hierdie roman is hoofsaaklik die Anglo-Boere-oorlog, maar daar word ook van die Rebellie van 1914 melding gemaak. By albei geleenthede was dit Afrikaners wat hulle teen die Britse oorheersing verset het. Die Britse troepe is die Kakies genoem. In Afrikanergeledere, dus onder die Boere, was daar Britsgesindes (bv joiners, verraaiers en meelopers) wat Hanskakies genoem is. Tydens hierdie oorlog en rebellie het die "oormag" (p 125) – wat deesdae die vorm van verswelging aanneem – die Boere ondergeploeg. Mettertyd het die Hanskakies, verpersoonlik deur bv Jan Smuts, die Sappe geword. Die Afrikanergesinde Boere, verpersoonlik deur bv JBM (Barry) Hertzog, het die Natte geword. In hulle geledere het die Bittereinders, dus diegene wat nie aan die Britte of Britsgesindes wou oorgee nie, hulle bevind.
In die roman speel foto's, "waarheidsprentjies" (p 189), ’n groot rol as ’n manier van onthou, as ’n uitbeelding van wat was, as dokumente wat die waarheid vasgelê het sodat daar vorentoe nie daaroor gelieg kan word nie. Die fotograaf was "die bewaarder van beelde, die verewiger van mense en hulle dinge, en van hulle dade, en van die gevolge van daardie dade" (p 92). "Hy was hulle geheue ... dit sou uiteindelik wys hoe dinge régtig was. En al die verdraaide vertel waarmee mense hulleself ná die gebeure gaan probeer mooilieg, reglieg en onskuldig lieg, sal gekorrigeer word deur die waarheid van sy prente," want mense moet "nie selektief begin onthou ... nie" (p 93). "Om die mense te laat onthou. Om te keer dat hulle nie vergeet nie. Sodat hulle nie kan lieg oor wat hulle aangevang het nie" (p 100); omdat "saamlieg jou uitlewer aan almal wat die waarheid ken" (p 111). "Soos sy die onthou op een plek platdruk, het dit op ’n ander plek uitgepeul" (p 132). "Oorlogsomstandighede is pasgemaak vir moorde en rowe waaroor die hane ná die oorlog nooit eens ’n kik-kraaitjie sal gee nie" (p 274).
’n Skrywer word deur die samelewing en sy ander omstandighede beïnvloed. Dit is duidelik dat Du Plessis ook met ons huidige situasie rekening gehou het, of dit kan ten minste ingelees word in sy teks. In die nuwe Suid-Afrika is die Hansswartes, diegene met "kruip in [hulle] houding" (p 122), talryk. Selfs Broederbonders van weleer bevind hulle deesdae in hierdie geledere. Die Hansswartes sien die spreekwoordelike groter prentjie. Hulle is "dié wat van té ver af, oor té breë waters kyk" (p 198). "Hy verafsku veral die nuwe verraaiers, die waarheidsridders" (p 261). "Hy het die verraad en die vrot kol in die volk ook genoem en die bitter het by sy woorde ingekruip. Die sterk man was bewoë toe hy oor die verlies van hulle vryheid en die onreg hulle aangedaan, praat" (p 343).
Maar daar is ook die Bittereinders, diegene wat ten spyte van "die versteurings van geweld" (p 66), in die woorde van NP van Wyk Louw, "nie gebuig kon word soos húl geweld dit wou." "Stoere Boerskap" word "’n nering vir die dapper bittereinder" (p 399). "Êrens in sy volk moet daar tog ’n streep weerstand teen die onreg sit" (p 125). "Jy't nie genoeg ruggraat bo-op jou bang gat om teen die hemeltergende onreg wat ons aangedoen word, op te staan en te sê genoeg is nou verdomp genoeg nie" (p 158-159).
Soos tydens en na die Anglo-Boere-oorlog, leef ons tans in ’n tyd waarin "grypsug" (p 36) hoogty vier. Dit is die "gebruik een, vat twee"-stelsel (p 92). "Hulle het in grypsug begin en in onmenslikheid oorwin" (p 342). Geregtigheid word "[ge]buig en [ge]knak tot dit hulle pas" (p 61). Ander ongenooides as tydens en na die Anglo-Boere-oorlog vier nou fees en ongenooide buitelanders stroom in hordes na die fees. Die ANC se Vryheidsmanifes beweer mos dat die land aan almal behoort wat hier woon; nie net aan dié wat wettig hier is nie. Die ongenooides het nie geplant nie, maar ’n nuwe siening van geregtigheid maak dit vir hulle eerbaar om te oes. Daagliks gebeur iets wat ons aan "the darkness of this continent" (p 41) herinner.
Weens die "swakheid van sommige", naamlik ’n klein groepie naïewe politici, is "dit wat heilig is" "só maklik ... weggegee" (p 55). Daar moes glo "oor vrede onderhandel ... word," maar die resultaat was "verraad" (p 268). Daar was "die maak van onmoontlike keuses waarvan die skuldgevolge nooit weer sal gaan lê of goedgemaak kan word nie" (p 290). "Êrens het die owerhede om ’n verdomde tafel besluit ... Hulle het niks gevoel nie" (p 328). ’n Mens sou dink dat "wanneer jy ’n ledemaat verloor ... jou brein daarop aandring dat die leë plek soms iets moet voel" (p 408).
Maar die "sagtehandjie-vetgatte" (p 10) het skynbaar geen gewete oor die verraad wat gepleeg is nie. Hulle geniet eerder hulle onverdiende rykdom. Daar is "die onreg" wat "steeds groei ... Hulle sterf nie sommer van niks nie, hulle word stelselmatig vermoor" (p 293). Vryheid is "om te mag kom en gaan soos jy wil" (p 227). Na die koms van ons "vryheid" is almal "vry om te kom en gaan soos hulle wou" (p 348), maar nêrens in die land is dit veilig nie.
Waar ek woon, maar oorkant die straat, was daar enkele jare gelede ’n pragtige gewelhuis op ’n erf wat ’n halwe straatblok beslaan. Vir die fisante was dit ’n lushof. Hulle het elke dag hulle toevlug tot daardie rustigheid geneem en ongesteurd daar gewei. Die enigste bewoner, ’n ou dame, is mettertyd na ’n ouetehuis en ’n groot woonstelblok is op die erf gebou. Na jare bevind die ontredderde fisante, die bittereinders, hulle steeds in die omgewing. "Hier word geleef asof dit nog die nou van destyds is" (p 262). Maar hulle plek ken hulle nie meer nie. Wat die fisante ontbeer, is "die volheid van die lewe in ’n tuiste" (p 235). Dese en gene woon nou op die plek wat die fisante as hulle s’n beskou het.
Die fisante laat my aan die blankes, veral die Afrikaners, in die nuwe Suid-Afrika dink. My hart bloei vir hulle; in die besonder vir ons wat nie kan of wil aanpas nie. "Jy kan nie ’n leeftyd se lieg terugbaklei en deurverwyt tot dit niks word nie. Of opnuut wil begin lewe nie, want die rêrigheid van wat toe die heeltyd die waarheid was, draai enige hoop vorentoe nek om voor dit ’n geluid kan maak" (p 406). "Miskien moet ek maar die onthou hou soos toe ons tóé was" (p 404). "’n Oorlog sleep in dié wat agterbly op ontelbare maniere voort" (p 394). "'Daar moet êrens ’n stukkie lewe oor wees.' 'Of daar is of nie, ons sal dit maar moet lewe'" (p 374).
Johannes Comestor


Kommentaar
My bedoeling was om vier opeenvolgende skrywes oor PG du Plessis se roman te publiseer; een aflewering per dag. Die eerste drie dele is van Maandag tot Woensdag (27 tot 29 Augustus) geplaas. Woensdagmiddag het ek die vierde e-pos hieroor gestuur, maar Donderdag en Vrydag is dit nie gepubliseer nie. Daarmee is die momentum en moontlike belangstelling in en trefkrag van hierdie skrywes ondermyn. Vrydag is daar bv 'n omvattende verslag oor 'n onderhoud met Du Plessis in Die Burger gepubliseer. SêNet kon seker in 'n mate aan aktualiteit gewen het deur my vierde skrywe dadelik te plaas.
Pleks daarvan is daar net my belofte op Woensdag van 'n vervolg, terwyl die nie-publikasie van hierdie vervolg by die lesers verkeerdelik die indruk kon wek dat ek nie my verbintenis nagekom het nie. Hierdie gebeure is des te meer frustrerend omdat die eerste drie aflewerings hoofsaaklik herhaal wat Du Plessis geskryf het. Dit geld in so 'n mate veral die derde skrywe dat ek getwyfel het of ek dit behoort te stuur. Tereg kon gevra word of hierdie SêNet-skrywer dan nie iets kan lewer wat op eie denke dui nie. Presies dit het ek in die vierde deel gedoen.
Iedere SêNet-bydrae van my word met groot sorg na die beste van my vermoë geskryf, wat ongelukkig nie foutloosheid impliseer nie. Ek probeer om ingeligte en verantwoordelike kommentaar te lewer, maar ek is diep bewus daarvan dat my menings ongewild kan wees. Op 7 Desember 2006 het ek die eerste keer 'n skrywe op SêNet gepubliseer. Sedertdien was daar meerdere gevalle van opskrifte wat verander is (soms was hulle verbeterings), vertraagde publikasie en ook nie-publikasie. Die reg van LitNet om so te handel, word nie betwis nie, maar die wysheid hiervan kan bevraagteken word. Wat al hierdie gevalle gemeen het, is dat daar nooit terugvoer gegee is oor wat skort met wat ek geskryf het nie. Daar word van my verwag om self die heilige koeie te identifiseer.
Die verandering van die opskrif van 'n skrywe kan op suiwer, onskuldige, joernalistieke oorwegings gebaseer wees. Maar nie noodwendig nie. Byvoorbeeld, op 8 Augustus het ek 'n skrywe onder die opskrif "Kafrikaans en Kengels" gestuur. Dit is eers op die 13de op SêNet gepubliseer met as opskrif "Anton Bruckner". Ek het die verwysing na hierdie komponis bloot as aanloop gebruik. Anders as my opskrif, gee die gewysigde opskrif nie 'n aanduiding van die eintlike inhoud van die skrywe nie. Die afleiding wat ek moet maak, is dat my eintlike onderwerp SêNet nie aanstaan nie en dat die gewysigde opskrif dus kon help om die boosheid te bedek.
Wat is moontlik fout met my vierde skrywe oor Du Plessis se roman? Enersyds kan dit wees dat dit nie politiek-korrek genoeg is nie. Maar dit is sinvol in hierdie konteks. Du Plessis noem politieke korrektheid "die grootste enkele sonde" (SêNet, 27 Augustus). Andersyds kan die beswaar wees dat ek Du Plessis se teks te veel buig om my saak te pas. In beginsel kan dit egter nie verkeerd wees om moontlike ooreenkomste tussen die gevolge van die Anglo-Boere-oorlog en wat Thabo Mbeki die nasionale demokratiese rewolusie noem, uit te wys nie. Hiervoor gebruik/misbruik ek Du Plessis se roman. Hy hoef egter nie hiervoor pa te staan nie. Ek onthef hom van hierdie verpligting met die volgende sin: "Dit is duidelik dat Du Plessis ook met ons huidige situasie rekening gehou het, of dit kan ten minste ingelees word in sy teks" (deel 4, 5de paragraaf).
As iemand wat oor baie jare bydraes op SêNet gelewer het en wat op my manier probeer om hoë standaarde te handhaaf, ervaar ek nie-publikasie en vertraagde publikasie, waarvoor in albei gevalle geen redes verskaf word nie, as uiters ontmoedigend.
Johannes Comestor
Beste Johannes,
Ek veronderstel daar is verseker 'n groot uitdaging vir onse Webvoete om ons werf aan die kant te hou. Ek glo hulle vermag wonders met dit tot hul beskikking en in hul omstandighede. Ek sal hulle ewig dankbaar wees vir die onbepaalbare waarde wat ek uit hul moeite put.
Dieselfde geld vir jou bydraes.
Al lê ek nie altyd 'n eiertjie nie, lees ek elkeen van jou bydraes waarvan ek bewus raak. Ek blaai ook gereeld na jou profiel terug as dit begin stil raak en bedink die gedagtes wat jy met ons deel - al het ek nie honderd persent ooreenstemming met jou nie (so een of twee keer het ek jou amper met 'n m@3rs# vloermoer-woernaal gegooi - maar nou ja, als is seker nog okei).
Hierdie reeks van jou oor Die Fees was weereens ongelooflik leersaam vir my - BAIE DANKIE!
Johannes, weet gerus daar is iemand aan hierdie kant wat geduldig sal sit en wag vir jou volgende bydrae.
Namaste!
Cornelius
Beste Cornelius
Baie dankie vir jou periodieke aanmoediging. Ek waardeer ook Webvoet se grootmoedigheid om my bogenoemde reaksie te plaas.
Johannes Comestor