Die Fees, deel 3: PG du Plessis se seggingskrag

  • 0

In hierdie derde skrywe oor PG du Plessis se Fees van die Ongenooides (Kaapstad: Tafelberg, 2011) gaan ek die seggingskrag van sy Afrikaans aantoon deur sinne uit sy roman aan te haal.

"Hy het dié oggend sy middag oorweeg" (p 9). "Hans het nie 'n Engelsman nodig gehad om hom by sy mense te kry nie. Sy kar en perde en sy grootword in die land was genoeg" (p 17). "Ek is nie wat Meneer sien nie" (p 28). Oor 'n plakker: "Hy sit nou al weke hier by ons soos 'n bosluis in 'n hond se hol. Hy't die vel van 'n renoster of hy's te klipdom om 'n skimp te verstaan" (p 37). "Die tyd het rondom haar afsydigheid verbygegaan en sy het middeljarig geword" (p 39). "As mens net een van 'n ding het, is hy vir jou baie kosbaar" (p 49)."Haar presiese opvattings ... het haar sonder twyfel of afwyking by die letter van haar morele alfabet laat hou" (p 49).

"Die Empire maak al meer as die helfte van die aarde toe" (p 54). "Wat sy nie besit het aan gestalte nie, het sy voor opgemaak in opvlieëndheid" (p 55). "Niks verbreed die smaak soos 'n beleg nie" (p 83). "Die roeping van die dode is om te rus, nie om regstwiste aan die gang te sit nie" (p 85). "Jy skuld die ewigheid in elk geval een lewe en die lot besluit sélf wanneer jou skuldjie ingevorder moet word ... 'n siel wat so pas die pad boontoe moes vat" (p 86). "Daar is 'n plekkie vir almal, het hy uiteindelik voortgegaan asof hy die uiterste toegewing aan die maak is" (p 86-87). "Die slag sou die beste vuurwerkvervaardiger in China jaloers maak" (p 89).

"Dis in die middae dat die kunstenaar in Joey gebot, geblom en begin vrugte dra het" (p 92). "Eintlik het die mense van die dorp ses dae [vir koeëls en bomme] gekoes en die sewende gewerk" (p 92). "Sy sou soos 'n bly jong hondjie met haar hele lyfie jubel vir haar vriend" (p 94). "En, soos almal weet, moet jy nie met hoekoms en waaroms by die noodlot aangesit kom nie" (p 94). By die neem van 'n foto: "dames wat aanstaan gesetheid toe en hulle klere en ydelhede rangskik om presies só verewig te word" (p 95). "Die ander delwers wou nie die ding wat hulle in die nag doen, in die dag sien nie" (p 97).

"Voetpaadjies het parallel en oor-dwars hulle eie gang gegaan" (p 97). "Die belangeloosheid van verhongering ... elke klein roering eers noodsaaklik moes wees voordat dit spaarsaam uitgevoer is ... Hierdie mense was by omgee verby" (p 98). "Hoer vir kos ... Niemand sal betaal om 'n geraamte by te kom nie" (p 98). "Nuuskierigheid en belangstelling was al dood in hulle" (p 99)."Net die vlieë is hier vet ... Die vlieë, lui van voldoening, het oral geswerm, oral gesit" (p 100). "Hy was besig om 'n foto te neem van die weemoed sélf ... van die hartseer van weerloosheid" (p 100). "Sannie Minter het die karigheid rondom haar bekyk - en geen geluk gesien nie" (p 105-106).

"In 'n loopgraaf lieg die lyf nie" (p 110). "Dit was of die omgee in hom doodgegaan het" (p 113). "Die Engelse het hulle ingehaal en soos swaar weer om hulle toegetrek" (p 114). "Die Boere wat sommer op die skielikste plekke kan linie maak" (p 119). "Die oorlog het teen daardie tyd reeds begin om, soos 'n egskeiding, die pretensie van 'n beskaafde stryd af te skud en oor te slaan na die ongevoeligheid van redelose vyandigheid" (p 119). "Hoe die dood en sy vrese tweede-stem sing in die dreunkoor van 'n veldslag" (p 136). "'n Soort eindelose soutpan ... waarop geen vreugde ooit wil groei nie" (p 139).

"Die woorde het by mekaar probeer verbybondel soos somerskape deur 'n kraalhek" (p 140). "Dié herinnering, met al sy opruiende besonderhede, het vrouwarm en kaalgat bo-op sy hopie gedagtes kom hurksit en wou nie afklim nie" (p 144). "Baie mense het sommer maar baldadig dronknes gehou, want die vyand was nou afwesig genoeg om onderlinge baklei weer smaak te gee ... die uitgelatenheid van bevryding [het] selfs die suurste binnekamers ingedartel" (p 144). "Die waarheid het in elke holte en gangetjie van Joey se binnekant ingesyfer, ingesink, en in sy weefsel ingeweek" (p 146). "'n Ongemaklikheid wat nie deur uitstel opgelos sou word nie" (p 149).

"Hier's 'n agterdeur en julle hou by hom. En ons soengroet nie" (p 155). Later: "Ek wou 'n voordeur-ma hê" (p 335). "Die laaste bietjie trots en weerstand het in haar regop skouers gesit, maar bo-oor alles was die mantel van vernedering" (p 162)."'En julle sê my niks?' 'Ma hoef nie self met Ma saam te leef nie'" (p 163). "In haar het daar van diep af 'n blydskap opgestaan" (p 163). "Om jou trots te moet sluk ... is seker goed vir die nederigheid van jou siel ... maar maklik is dit nie" (p 165). "Die dennebome ... staan veertigjaar-hoog weerskant die oprit" (p 170). "Jy't my te veel van jou bondel laat dra" (p 171).

"Nooit twee keer op dieselfde plek steel nie, behalwe as jy nie anders kan nie" (p 172). "Onder elke paar oë sit 'n mond wat later kan praat" (p 173). "Soms dink sy sulke woorde help. Hulle is soos stukkies weerstand teen die herinnering" (p 178). "Die maan word nie oud nie, hy bly maar wat hy is, en elke maand tel hy net die vrouens se vrugbaarheid af en kyk hoe alles hier onder verbydraai en verbygaan" (p 180). "En die bed se kraak as hy soos 'n ou hond daardie lê soek ... Die bitterheid kom soos 'n galstuwing boontoe" (p 181).

"Hy dra sy militêre verlede nog in sy regop rug en presiese treë" (p 188). "Vir wat kan Wynand nie die bliksems behoorlik haat nie?" (p 192). "Sy wou nie sien wat sy en Wynand al bymekaargewerk gekry het deur die jare nie. Sy het uitgehou teen die omkyk" (p 193). "Die haat wat al die hele oggend in haar opgebou het, het soos 'n dam deur sy keerwal gebreek ... Sy kon nie genoeg verdoemende woorde kry om hom mee te beledig nie" (p 194). "Dit was soos om 'n ondier wat onder jou lammers maai, te sien vrek" (p 195). "'n Mens vergaap jou nie aan 'n vark wat vrek nie" (p 196).

"Hulle gesigte was vorentoe en gulsig vir nuus, en hulle oë wyd van wil weet" (p 197). Oor 'n klavier: "Soos met die liefde kan net die regte aanraking hom laat sing" (p 199). "Dié wat gelate was en maar gods water oor gods akker toegelaat het met deemoed, of kruiperigheid, of 'n soort inskiklike leed, kan hy op die vingers van sy linkerhand tel" (p 202). "Jy moet nooit 'n slagding wat jy grootmaak te veel troetel en te veel maak-liefde gee nie - ook nie 'n naam nie. Veral nie 'n naam nie, want 'n naam is die begin van ken. En voor jy slag, moet jy 'n slagding nie in die oog kyk nie, want dan is hulle oë te veel soos joune ... Met ken kom meegevoel, en met meegevoel jammerte, en met jammerte twyfel ... geweld teen vreemdes [is] 'n abstraksie ... en teen dié wat jy ken 'n gewetensdaad" (p 206).

"Martie van Wyk gaan nie met 'n toe bek hemel toe nie" (p 207). "Hy's voor háár soos 'n akkedis wat pypolie ingekry het" (p 214). "Daar was te veel en te niks om iets by te sê" (p 232). "Jou pligsdade kon jy tog nie toelaat om tot by die sagte pit van jou deernis in te dring nie. Die wegkyk terwyl jy kyk, dis wat jy moes aanleer" (p 254). "Hoe Martie, al kon sy die gang van die tyd nie tot stilstand dwing nie, vaskleef aan die oomblik toe die vaart van haar lewe gestuit is" (p 262). "Sy kom stoksielalleen klaar ná Siena se dood, met net die gesplete tyd vir geselskap" (p 262). "Met die jare het die gate holtes geword, toe duikies, toe gelyktetjies en toe was hulle weg ... Tot die grond onthou soveel kórter as sy" (p 264-265).

Hulle het "die sleutels van die diepste kelders van hulle harte vir mekaar aangegee" (p 276). "Dit sou ... die donker nasmaak van vernedering word wat tot in dié verre begraafplaas van herinnering in sy agterkeel sit" (p 280). "Daar was net die leegheid van weet. Dit was nog te vroeg vir die hol troos van selfbejammering, die salwing van beskuldiging, of die koestering wat wraakgedagtes bring" (p 281). "Sy volle wêreld was op daardie oomblik toegevou in die enkelvoudigheid van een vrou" (p 288). "Die dood is seker so. Jou lampie se lig vrek en jou sien val terug in jou oë" (p 290). "Die dood het vir die owerhede versaaklik tot 'n aantekening in die boeke en die beslommernis van nog 'n graf" (p 297).

"Dit was [as]of haar daad die Here in Sy ewigheid in laat terugkrimp het" (p 318). "Die skelm oorsteek van die skynheiligheidsgrens tussen vrome onthouding en die baldadige plesier van die sonde" (p 324). "Sy hoor sy stroom oumens-detail aan. Hoekom het die onthou so in hom opgedam?" (p 326). "Alles verdwyn in die vergetelheid in ... soos die tyd aanstap, kwyn onthou en medelye tot niks" (p 328). "Terwyl sy deur die innigheid van órals-was draal om die samesyn uit te rek en die baddery 'n liefkosing te maak" (p 378). "Het sy hom tóé al so uit haar uitgetreur gehad?" (p 383). "Die Engelse het nie van die swart mense boekgehou nie. Ons weet nie wat van hulle geword het nie. Ons weet nie eens wat van onsself geword het nie" (p 385). "Die eerste nag ... het 'n middag voor hom gehad" (p 385). "Dit was die voorportaal van die res van haar lewe" (p 388). "Dis net die tyd wat alles vergeet" (p 405). "'n Mens kry 'n oor vir wegsterf" (p 407)

Vervolg.

Johannes Comestor

Lees Die Fees 2.

Lees Die Fees 1.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top