
Foto: Canva.com
Die familie
Mensestemme klim deur my
kop wat klink soos vlerke
van duiwe wat die Vrystaat-son
groet.
Menseharte wat teen sandklipkranse
klop sodat elke klip sy lê kry
Die drie perde staan geduldig
op ’n krans en hou ’n ogie oor ons
Iewers lê ’n swaeltjie met ’n stukkende vlerk,
’n langstertvink wat mank hinkepink,
in die stof stoei ’n grys duif vir lewe.
In die skare van mense-asems en
’n hart wat as een klop sê ’n
boer kop-onderstebo my naam.
“Dis my naam, ja”
In die oë van die man lê
’n olifant wie se tande uitgekap is,
’n renoster wie se horing uitgesaag is.
’n Vuurvliegie sonder lanterntjie
“Brendin was my susterskind,
dankie vir die gedig” hoor ek
die olifant sê, hoor ek die
renoster blaas, hoor ek die
vuurvliegie ...
en daar val die groot
geelhoutboom om ...
Toe huil ek en hy saam,
so sonder woorde, net
met nat oë.
Suid Afrika is die swaeltjie,
Paul Roux is die langstertvink
Senekal is die grys duifie.
Vandag het ’n familie saam gebid,
Saam gehuil.
Hande gevat.
En toe troos die engel die volk.


Kommentaar
Het nie woorde nie, net nat oë saam met julle.
Dankie Stanley, jou mooi woorde laat my glo in die wonder van die lewe en die saamstaan van die Boerevolk.
Prag bewoorde gedig, wat diep raak.
Dankie, Stanley - jou woorde weergalm oor die vlaktes. Ons hoor jou uitroep ...
Baie dankie vir die mooi woorde.
Baie dankie dat julle my werk lees.