Dit kom vir my voor of sommige mense nie uit hulle foute wil leer nie. Johannes Coetzee het weereens die nuus gehaal met sy voorspelling dat 21 Oktober 2011 die einde van die aarde of die oordeelsdag of so iets gaan wees. Ek is nie seker wat die korrekte Afrikaanse woord vir “doomsday” is nie, (Jan Rap — help tog man) maar dit kan seker tog nie “oordeelsdag” wees nie. Dat die aarde nie vir ewig in die toestand wat dit tans is, sal bly voortbestaan nie is egter nie te betwyfel nie. Dit is egter nie noodwendig dat dit op ’n enkele spesifieke dag gaan gebeur nie. Die nuutste wetenskaplike raaiskoot is dat ’n stadige uitgerekte einde in vooruitsig is.
Onderstaande scenario is geskep deur prof Paul Davis wat verbonde is aan die Universiteit van Adelaide in sy boek The Last Three Minutes en is gebaseer op die voorspelling dat komeet Swift-Tuttle op 21 Augustus 2126 met die aarde sal bots. Tydens die komeet se vorige besoek in 1993 aan die binne-sonnestelsel het vroeë rekenaarsimulasies aangedui dat ’n botsing in 2126 ’n waarskynlikheid is.
Die goeie nuus is darem dat hersiene en verfynde berekenings intussen aangedui het dat die komeet die aarde waarskynlik rakelings sal mis. Maar die slegte nuus is dat die gevaar dalk net tydelik afgeweer is. Een of ander tyd sal Swift-Tuttle of ’n soortgelyke voorwerp met die aarde bots – wat natuurlik nie die einde hoef te wees nie. Aanduidings is dat daar meer as 10 000 voorwerpe van ’n halwe kilometer of meer in deursnit in bane is wat een of ander tyd met die van die aarde sal kruis.
Prof Davis se scenario:
Dwarsoor die planeet soek paniekbevange aardbewoners naarstigtelik skuiling. Sommige vlug diep ondergronds deur grotte en ongebruikte mynskagte uit te soek of vaar met duikbote op die see uit. Ander gaan op wilde plundertogte, roekeloos en traak-my-nie-agtig. Maar vir biljoene is daar nêrens om te gaan nie. Hulle sit net die onafwendbare en afwag — verslae en neerslagtig.
Hoog in die lug is ’n magtige donker ligpilaar teen die blou agtergrond van die hemel afgeëts. Wat begin het as ’n fyn wolkagtige ligskynsel in die konstellasie van die maagd Virgo, het van dag tot dag in die lugleegte van die ruimte uitgeswel tot ’n maalstroom van kolkende gas. Aan die voorpunt van die gasspoor lê ’n donker dreigende homp. Triljoene ton rots en ys nader die Aarde meedoënloos en is bestem om teen sewentig keer die spoed van klank te tref.
Die paniekbevange mensdom kan slegs toekyk in gelate afwagting. Die wetenskaplikes wat lankal reeds in die aangesig van die onvermydelike hulle teleskope verlaat het, skakel stilweg hulle rekenaars af. Die resultate van die eindelose simulasies van die onafwendbare ramp is te skrikwekkend om te openbaar. Ander beplan om die katastrofe so sorgvuldig as moontlik waar te neem en hulle rol as ware wetenskaplikes tot die einde te vervul deur data na databanke diep ondergronds te sein.
Die oomblik van die botsing nader vinnig. Oral oor die wêreld hou miljoene senuweeagtig hulle horlosies dop.
Die laaste drie minute breek aan!
Die lugruim split oop. Een duisend kubieke kilometer lug word in ? oogwink weggeblaas. ’n Swaard van skroeiende vlamme, wyer as ’n stad, skiet grondwaarts en dring die aardkors sekondes later binne. Die planeet sidder met die krag van tien duisend aardbewings. ’n Skokgolf van verplaaste lug swiep oor die oppervlakte en vee alle strukture voor hom weg. Die area rondom die impakgebied styg op in ’n ring van vloeibare berge hoër as die Himalayas en ontbloot die ingewande van die aarde in ’n krater van ’n honderd myl in deursnit. Die muur van gesmelte rots rimpel uitwaarts en skud die landskap soos ’n kombers wat in stadige aksie fladder.
Binne in die krater word triljoene tonne rots versmelt. Baie spat na buite en sommige word in die ruimte gewerp in bane na onbekende bestemmings. Die meeste word uitgewerp om honderde en selfs duisende myle verder neer te stort waar vernietiging van alles benede plaasvind. Sommige van die uitwerpsel plons in die see en veroorsaak massiewe tsoenami’s wat bydra tot die uitkringende ramp. ’n Groot wolk van stof en afval kring in die atmosfeer uit en verduister die son oor die hele planeet.
Die sonlig word vervang deur die sinistere flikkerende gloed van ’n biljoen meteore wat die grond skroei met hulle versengende hitte wanneer verplaaste materiaal vanuit die ruimte terugval in die atmosfeer.
Aldus prof Davis.
Die volgende berig het in Times van Augustus 2002 verskyn:
Astronomers set a new date – and time – for the end of civilization. It will happen at 11:47 on the morning of Feb.1, 2019. That is, if the earth were to be hit by a newly spotted asteroid called 2002 NT7. The chance of the 2 km wide rock scoring a bull’s eye, lengthened from 1 in 60 000 to 1 in 75 000 as astronomers continually recalculated its orbit. If the lump of space rock did hit the earth it could wipe out a continent and throw up dust clouds that would block sunlight for months and quickly take humankind to the brink of extinction. So – plan accordingly!”
Botsings van die aard is nie seldsame gebeurtenisse op Aarde nie en vind elke paar miljoen jaar plaas. Daar bestaan onomstootlik bewyse dat die dinosourusse en die meeste van ander lewe, 65 miljoen jaar gelede op die wyse uitgewis is.
Die Universiteit van Washington se lewensklok van die aarde:

Groete
Panda

