Die wêreld se geliefde Madiba is nogsteeds in 'n kritieke toestand. Party bid vir sy genesing en ander wens dat hy nou net finaal en sonder pyn tot ruste kom. Dit kan nie lekker wees om 'n siek 94-jarige te wees nie. Hy moet ook nou al goed gatvol wees vir miljoene sensasiesoekers en politici wat skynbaar onder sy mantel veg. Genoeg is genoeg. ‘n Mens kan nie soos 'n bergskilpad 250 jaar oud word nie.
Wat interessant is van die hele affêre, is die groot groep paniekbevangenes wat vrees vir sy afsterwe. Dit gaan blykbaar nie 'n gewone rou-tydperk wees met 'n diens en driehoekbroodjies en tee in die sysaal nie, maar eerder 'n teken vir die vyand om groot akkies te begin aanjaag. Die ouman se groet beteken die witman se bloed. Ek dink ek het die eerste keer van "Uhuru" gehoor toe ek 14 was. Op daai stadium het my puberteit-gedagtes gedink dit beteken "sleg vrou". Na ek uitgevind het wat dit werklik beteken, het ek spoedig daarvan vergeet, tot nou onlangs ...
Sedert die publiek verneem het van Madiba se siektetoestand het die "Uhuru"-woordjie weer begin paniek saai. Ek kan nêrens pilchards in die hande kry vir my dieet nie, want al die blikkieskos word in grootmaat uitverkoop. Op geheime plase word geheime vergaderings gehou en tonnels, loopgrawe en longdrops word gegrawe. Alles wat kan skiet en nog nie deur die regering afgevat is nie, word geolie en gefine-tune. Selfs geperishde kettierekke word vervang met vars tjoep en in rooikopkinders se hande gestop. In 'n kroeg fluister ‘n winddronk oom in jou oor: "Hie kom kak Boetie!!" Waarvoor word so voorberei? Daar is baie weergawes van die sogenaamde "Uhuru" of "Nag van die lang messe" en wat presies gaan gebeur. Weens ander buitemuurse verpligtinge woon ek nie die vergaderings by nie, so al wat ek weet, is dat groot, donker massas die strate gaan invaar en ieder en elk van min pigment gaan afmaai. Ek voel jammer vir die paar albino’s wat angstig doktersertifikate gaan moet uitruk en "please explain". Jy kan jou indink dat dit 'n nare affêre sal wees en daarom probeer organisasies soos die Suiplanders om dit met alle mag te verhoed.
Alhoewel ek 'n verskriklike bang mens is, het ek 'n weerstand opgebou teen massahisterie en die "gebroke telefoon"-stories wat daarmee gepaard gaan. Ek praat nie van die groot hoeveelheid boere wat oor die afgelope jare wreed vermoor is nie. Dit is 'n realiteit, maar nie nou ter sprake nie. Ek praat van die doemprofete. Die wat so begaafd is dat hulle in die toekoms in kan sien. Met die aanvang van die nuwe millennium het 'n paar Y2K-gefoktes ook begin tonnels grawe en meatballs & brine vreet. Nou onlangs was daar weer gerugte dat die antichris op pad is om die wêreld se water en ligte te kom afsit. Toe neuk 'n spul al weer in die veld in! Soos Casper de Vries sê: "Dan is dit gil en spring, gil en spring!!" Dis seker maar dié mislukte gebeure wat my skepties gemaak het vir die hele "Nag van die lang messe"-gerug, maar vanoggend skuins voordag het ek met nuwe erns hieroor begin dink ...
Ek het wakkergeskrik toe iets of iemand buite my rondawel eweskielik begin skree: "UHURU, UHURU, UHURU," en net daar bekak ek amper my donsduvet! "Hier gebeur dit nou, spotter se huis word nou afgebrand!!" dink ek terwyl ek kombuisie toe hardloop op soek na 'n wapen. Al wat ek in die hande kry, is 'n Victorinox-knipmes en 'n braaivurk. Terwyl ek skarrel en rondval om alles wat oop is, te sluit, dink ek: "Ja jou onnosel, almal waarsku jou vroegtydig oor die lang messe wat op pad is en nou sit jy met 'n kort mes!!" Na 5 lang minute van angs besef ek dat geen ruit of deur nog oopgebreek is nie. Op daai stadium vlieg 'n paar duiwe verby my ruit en ek besef dadelik wie so ge-UHURU het. Verligting en woede daal gelyk op my neer terwyl ek by die deur uitstorm. Gelukkig vir die duiwe is my kettie een van die wat nog nie ge-service is nie. Toe hulle so in die verte verdwyn, besef ek hoe wyd die "Uhuru"-storie al loop. Dit laat my wonder, is "Uhuru" vir die voëls of het die duiwe my kom waarsku? Hulle sit mos so op die parlement se dak, dalk weet hulle iets ...
Om toekomstige maagwerkings te verhoed, het ek eerder my spottery gestaak en begin voorsorg-maatreëls tref. Alles is in plek. Ek gaan my sak en pak na die naaste biblioteek haas, want daar sal die ongeskoolde massa my wragtag nooit kry nie!!!
jangertjie


Kommentaar
Beste J.G.
Ek kom toevallig op hierdie skrywe af en ek dink dis briljant! Jammer dat daar blykbaar nie meer mense hier gelees het nie. Ek hoop jy kry nog my boodskap, want dis maar moeilik om gedurig terug te lees op briewe waar mense kommentaar gelewer het.
Baie dankie,dit was so prettig!
Groete
Perdebytjie