Die dood van ’n goeie man

  • 0

Na die middel van die vorige eeu het ek ’n aantal jare as ’n klerk by ’n versekeringsmaatskappy gewerk. Hy was my afdelingshoof. Hy was goed versorgd en pynlik netjies. Hy het sy hare elke tweede week laat sny en iedere haar was altyd netjies op sy plek. Skoene met rubbersole was nie vir hom aanvaarbaar nie. Hy het leerskoene met leersole gedra. ’n Mens kon hom ver in die lang gang hoor aankom, iets soos hoefslae, wanneer hy teen sy vinnige pas nader gekom het. Dat hy in aantog was, kon soms ook afgelei word as hy iemand teëkom en hy joviaal groet en dikwels ook helder lag.

Hy het ’n vulpen met ’n breë punt gehad. Daarmee het hy pragtige, groot letters geskryf. Soms het hy my briewe verbeter, veral my pogings in Engels. Hy het van Beaufort-Wes gekom, maar sy Engels was uitstekend. Sy van was Afrikaans, maar sy voornaam en dié van sy suster was Engels. Ek vermoed dat sy ma Engels was. In die Karoo het hy Afrikaans grootgeword. Sy pa het op die Spoorweë gewerk, maar dit het hom nie minder verfynd gemaak nie.

Hy was ’n baie goeie tennisspeler. By hom was daar die drang om dinge goed te doen; om te presteer, om nie met halwe werk tevrede te wees nie. Toe ek hom leer ken het, was hy in sy vestigingsperiode. Hy was reeds getroud en was besig om sy huis, waarin hy die res van sy aktiewe lewe sou woon, tot in die fynste besonderhede te beplan. Hierin is hy deur sy swaer, wat ’n argitek was, gehelp. Toe sy droom vorm aanneem, was die resultaat nie so volmaak soos hy gehoop het nie. Hy kon nie verstaan waarom die kombuis ’n donker gat was nie.

Ek was vyftien jaar jonger as hy. Wat hy in my gesien het, weet ek nie. Ek was glad nie ’n sosiale wese wat aanklank by ander gesoek of gevind het nie. Ek wou niemand beïndruk nie; net my werk tot my bevrediging doen. In vergelyking met syne, het my styl veel te wense oorgelaat. Tog het hy groot vertroue in my gestel en dikwels moeilike opdragte aan my toevertrou. Wat soms van my as ’n jong, onervare mens verwag is, sal deesdae "uitdagings" genoem word. Maar ek wou hom nie teleurstel nie. Voor ek van werkgewer verander het, "aan beweeg het", het hy op ’n dag, seker toe ek gedink het dat ek te stadig bevordering kry, aan my gesê: "You cannot hold a good man down." Moontlik was sy siening van my heeltemal misplaas, maar dit het my die res van my loopbaan geïnspireer.

Verlede week het ek my in ’n baie ongesofistikeerde omgewing, ’n viswinkel, bevind. Terwyl ek wag dat my bestelling uitgevoer word, lees ek sy doodsberig in die koerant. Hy het sy hele beroepslewe en daarna in dieselfde omgewing gebly. My "aanbeweging" het my na ver plekke geneem. Toe ek my uiteindelik weer in sy omgewing bevind het, was dit my goeie voorneme om hom te besoek en hom te bedank vir wat hy heel moontlik onwetend vir my beteken het. Ek het die verwyt dat ek dit nie gedoen het nie. Die gedenkbyeenkoms vir hom vind in ’n versorgingsoord plaas. Bywoning sal nie my versuim verskoon nie.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top