Die doel van lewe op aarde?

  • 0

So ’n klompie jare gelede, toe daar nog ’n effense hoop bestaan het dat ek “bekeerd” kon raak, het ’n begeesterde ouderling van die kerk my gereeld besoek, en tot vervelens toe vir my gepreek. Sy kop het eintlik vasgehaak by die doel van lewe hier op aarde. Elke plantjie en goggatjie en diertjie is deur God geskape tot voordeel en nut van die mens. Die bome is daar om die mens van vrugte en skaduwee te voorsien, die plante en diere verskaf voedsel, ens ens.

“Wat van ’n kopluis?” wou ek weet. Vir ’n wyle is oom Jan uit die veld geslaan, maar hy was darem ook nie op sy bek geval nie. “’n Kopluis is spesiaal deur God geskape sodat die mens moet sindelik lewe. As hy dit nie doen nie, vreet die goed hom op,” is sy slim antwoord.

Ek het toe ’n lys begin maak van al die absurde verduidelikings waarom God dan al die goed sou geskape het. Wilde diere en moordenaars is deur God geskape sodat dit dapperheid by die mens bevorder, en dit berei hom voor vir selfverdediging en oorlog. (Biskop James Pilkington). Perdevlieë verskerp die mens se brein soos wat hy planne beraam om die goed te vermy; kreef se harde doppe maak hom vernuftig wanneer dit oopgebreek word met die eet daarvan; bossies is goed vir ons gees, want dis harde werk om dit uit te trek en te skoffel; diere is ook geskape om te help dra aan die swaarkry van die mens as gevolg van Adam se sonde, en hulle behoort nogal dankbaar te wees daarvoor: beeste en skape is spesiaal so geskape dat hulle die vleis kan vars hou, totdat die mens hulle wil eet.

Onlangs het ek op YouTube ’n video gesien van hoe ’n religioot demonstreer hoe God die piesang spesiaal vir die mens geskape het. Dit pas mooi in die mens se hand, het ’n ingeboude rits om dit oop te maak, dit het ’n sagte skil om die hand nie te beseer nie, dis mooi gebuig om presies in die mond te pas, dit smaak heerlik, ens ens. Dit het miljoene religiote dwarsoor die wêreld tot in hulle kleintoontjies beïndruk, totdat ’n dom ateïs wou weet wat dan van ’n pynappel en ’n aartappel?

Dit laat my sommer dink aan die storie waar ’n klompie vriende aan tafel sit in ’n restourant. Terwyl hulle wonder wat om te eet, kom so ’n mooi vet tollie ingestap en offer homself op as hoofdis. Hy vertel hoe hy spesiaal geteel is vir sulke eetdoeleindes, en sal lekker smaak met Worcestersous, veral nadat hy dié oggend juis graankosse geëet het en sy beeshaas geoefen het. Terwyl almal hulle lippe behoorlik aflek, stap die tollie kombuis toe, en skiet homself, terwyl hy selfversekerd vir die gaste knik.

En dan is daar nog die mens. Hy is geskape om oor al hierdie plante en diere te heers, aan te teel en veral om op die grond rond te kruip om God te dien. Aldus die Bybel.

Vrede vir al die geïndoktrineerde religiote.

Groete

Angus

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top