Die dissonansie tussen Insig en Afrikaners

  • 0

Die tydskrif Insig is bloot net nog ‘n slagoffer van die toenemende dissonansie tussen die Afrikaanse intellektueel en die perswese (nie dat laasgenoemde noodwendig of selfs enigsins deel is van eersgenoemde nie) en die gewone Afrikaner aan die ander kant.

Insig se kadawer verteenwoordig dieselfde spesie dinosourus as Max du Preez, Koos Kombuis en andere wie se koppe in die tagtigerjare bly vassteek het. Destyds het onder andere die redaksie van die Vrye Afrikaan en deelnemers aan die Voëlvrytoer hul jeugdige rebelsheid uitgeleef deur doelbewus kant te kies téén wat hulle gesien het as die fascistiese Afrikaner-establishment, en vir die Marxistiese terreursaaiers wat vandag die land regeer. Die feit dat die Marxisme los hande die grootste euwel van die twintigste eeu was, met bykans 100 miljoen lyke in sy spore, het klaarblyklik min indruk op hul linkse entoesiasme gemaak. Bogenoemde keuse van ‘n uiteindelike oorwinnaar het uiteraard nie veel insig (pardon the pun) vereis nie, maar blote kennisname van die demografiese onafwendbaarheid van Suid-Afrika se lotsbestemming.

Insig het egter gefaal, en die Voëlvrybende se loopbane is lank reeds verby, omdat hulle klaarblyklik slegs een paradigmaskuif kon internaliseer. Die onvermydelike verval na die gewone Afrikapatroon van ellende deur 'n getransformeerde Suid-Afrika, asook die herrysing van die Afrikanervolk ná die post-1994 hangover, het nog nie tot hulle deurgedring nie. Om relevant te bly in die nuwe tydvak wat ons betree het, is eerlikheid oor ongemaklike werklikhede asook ‘n stewige skeutjie Afrorealisme ‘n vereiste. Beide Insig en Du Preez se denkpatrone het egter by Voëlvry bly vassteek. Hulle kon nie die kopskuif maak en insien dat Suid-Afrika bloot Nigerië is wat nog nie volledig gebeur het nie.

Insig het hom inteendeel irrelevant gemaak deur homself te bly posisioneer in die avant-garde van die regime se voortgesette nasionaal-demokratiese rewolusie, klaarblyklik met die doel om sy vermeende teikengehoor, Afrikaners, se denke nog verder te plet in die rigting van hul eie ondergang. Vir Insig was daar nie meer Afrikaners nie; daar was daardie totaal imaginêre kreatuur, die sogenaamde Afrikaanse, bedink deur Naspers se joernaliste. Sy intellektuele stukrag het eerder gekom van veral bruin intellektuele, die ontkenners van Afrikaners se status as soewereine volk, soos professor Jonathan Jansen. Van gebalanseerde beriggewing, waar alternatiewe figure wat nie lofsangers vir die NSA was nie, as ernstige alternatiewe opgeneem is, was daar min sprake in Insig.

Insig se welverdiende afsterwe is egter goeie nuus. Dit skep myns insiens ‘n leemte in die mark vir ‘n Afrorealistiese alternatief, ‘n publikasie wat verstaan dat sy teikengehoor eerder “De La Rey” as “Nkosi” wil sing, maar nog steeds nie gemorskos soos Huisgenoot wil verteer nie. Sou dit nie fantasties wees as só ‘n publikasie nie aan dieselfde Naspers-ideologie as Insig moes gehoorsaam wees nie?

Anton B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top