Die week in woorde
Die afgelope naweek het die eerste foto's van Charlize Theron se aangenome baba in koerante en op die internet verskyn. Te kostelik, die klein Jackson Theron!

Charlize en Jackson Theron
Ek is seker ons sal binnekort ook begin hoor wat Charlize alles by die kleinding leer, want dit is nou maar een van die vreemde waarhede van hierdie lewe: ons is hier om by ons kinders te leer. Vat dit van ’n moeder wat weet.
Die lys dinge wat ek by my klein seuntjie Pierre-Lemoen leer is te lank om hier te tik, maar die belangrikste daarvan is sekerlik om beter te luister en meer te hoor. Sien, klein Pierre-Lemoen het ’n oor vir musiek, en ook vir die musiek in taal.

My seun Pierre-Lemoen eet suurlemoentert.
Dit het moontlik iets met die lengte van sy ore te doen (vir seker nie by my geërf nie), maar dis ook ’n ingesteldheid (dalk omdat sy ogies so klein is, en omdat hy nie baie spraaksaam is nie).
In die verlede sou ek moontlik verby ’n doodgewone ou plakkaat in die straat geloop het wat net die woord "Spoegwolf" op het. Maar met Pierre-Lemoen in my lewe het "Spoegwolf" my laat vassteek. Spoeg-wolf. Miskien is dit die manier waarop die glottale “g”-klank teenoor die frikatiewe "w" en "f" staan, of dalk die manier waarop die “oe”-klank vorentoe stu en die "o" weer briek aanslaan in die tweede lettergreep. Wat ook al die rede, ek het ’n hele Maandag lank rondgeloop en ge-"spoegwolf-spoegwolf" omdat dit so lekker sê en so mooi klink.*
Ek dink die ongelooflike klank van die woorde is ook die grootste rede waarom Game of Thrones soveel aftrek in ons huishouding kry. Die mense se name klink net so wonderlik: Daenerys Targaryen, Robert Baratheon, Tyrion Lannister (van Casterly Rock, nogal) en die Starks van Winterfell. Dan is daar ook khal Drogo die Dothraki wat vir bogenoemde Danaerys sy khaleesi maak. Khaleesi khaleesi khaleesi. Mens wil net nie ophou om dit te sê nie!
En wat is die punt, mag jy dalk wonder? Wel, daar is twee. Die eerste punt is dat almal beter lyk met lang ore (ten minste volgens hierdie blog, waar ek die volgende foto's en die onderskrif gevind het).


"Everyone looks better with elegant long ears; it's very flattering, good for your image and also practical."
En waarom prakties? Dit is die tweede punt. Om jou weer te herinner dat poësie, dalk selfs in die éérste plek, oor klank gaan. Sodat jy beter kan leer luister en meer van die geheime hoor wat digters in hulle verse opsluit. Sodat jy self kan leer hoor wat werk en wat werk nie. Sodat jy musiek in jou verse kan inbou deur middel van die regte woorde. En ook vir die blote vreugde van luister na voorlesings.
*Spoegwolf is toe blykbaar ’n band, en jy kan meer oor hulle uitvind op hulle webwerf. Daar is ook ’n paar snitte waarna jy kan luister.
Voorgeskrewe luisterstof

Al ooit gehoor van klank-poësie? Gaan kry ’n bietjie agtergrond by hierdie bladsy op Wikipedia.
Hier is ’n fantastiese argief van klankdigters en hul werk. Jy kan meer oor die digters lees en na opnames van voordragte van hul klankgedigte luister.
Die volgende klanklandskap deur die Nieu-Seelander Hinemoana Baker is opgeneem terwyl sy ’n inwonende digter in Queensland, Australië was. Dit bevat alledaagse klanke wat sy opgeneem het, vermeng met haar eie poësie.
Meer tradisionele smaak? Gaan luister na enige van die 400 opnames in Poets.org se "Listening Booth" waar digters en akteurs gedigte voordra en voorlees.
Daarna kan jy gaan oplees oor klanktegnieke binne die gedig deur hier of hier te klik.
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

