Die Ding

  • 6

Ek kyk hoe die dominee die deur oopsluit. Ek weet nie mooi wat om te verwag nie. Die laaste keer toe ek hier uitgeloop het, het ek my ouma se kis gedra. Toe die deure oopswaai, sug my siel van verligting. Alles lyk nog presies dieselfde. Dit is behalwe dat die dominee gou 'n kode in 'n alarmstelsel moet inpons. Die Here sorg vir dié wat vir hulleself sorg ...

Ek loop deur die portaal, oor die rooi mat en gaan staan in die deur na die kerk. Die dominee staan agter my, 'n silhoeët in die geel lig van die namiddag. "Kan ek maar vra dat jy die sleutels vir my bring as jy klaar is?" vra hy. "Ons kry gaste oor vir 'n braai."

"Wow," dink ek, "Die braaiende evangelis van Newtonpark." Ek antwoord, "Dis reg, Dominee, hoe stel ek die alarm?"

"Druk en hou die nommer vyf in. Sien jou dan later." En daar verdwyn die skim. Ek sluit die hoofdeur.

Ek weet skielik nie of ek minder van die idee gehou het dat 'n man van die kleed oor my skouer loer, of dat ek nou stoksielsalig alleen voor 'n God staan in wie se huis ek nie meer kuier nie. "Here, help my asseblief om te vind wat ek vandag hier soek, Amen," praat ek gou met Die Man.

Ek kyk voor my uit. Dis dieselfde ongemaklike ou houtbankies waarin ek rondgeskuifel het al die jare gelede. Daardie jare toe ouma my nog skelm Stimorol aangegee het om aan te kou terwyl ek fantaseer oor hoe ek aan die ligte, hoog bo, swaai. Die dik, maroenkleurige mat lyk bietjie ouer. Die preekstoel en die kap daaroor lyk of dit direk uit my diepste herinneringe, net hier geplaas is. Ek loop in, kyk na die bankies agter in die hoek, onder die balkon. Dit is hier waar die Ding vir my begin loer het. Toe die Sondagskool-omie vir my vertel het hy kan sien ek 'worry' baie. Ek is nog te jonk om so te 'worry'. Ek het nie gedink ek 'worry' nie. Dit het net nie vir my sin gemaak hoe Jesus almal liefhet, maar die swart kinders mag nie in ons Sondagskool gewees het nie. Ek kan onthou dat die groot kaart van die wêreld, teen die muur, steeds daar, aangewys het waar ons wel vir hulle hulle eie kerke gaan bou het.

Ek loop verder in. My voetstappe val eensaam, sag. Ek trek diep asem deur my neus in. Die reuk. Dit is dieselfde reuk. Daai gemaklike reuk, hout en mat en dinge wat jou laat rustig voel. In die ou dae was daar ook Magnolia-parfuum. My ouma s'n. My ma se soet Charlie of, nou en dan, my pa se Tabac-naskeermiddel. Ek dwing myself vorentoe. Verby die diakenbanke, waar my pa ook al gesit het, tot onder die preekstoel. Hier waar ek belydenis van geloof afgelê het. "Kom loof die Heer (kom loof die Heer), alle knegte van die Heer (alle knegte van die Heer), wat snags in die huis (wat snags in die huis) van die Here staan (van die Here staan). Hef op jul hande na die heiligdom en loof die Heer en loof die Heer."

Die Ding was nie daai dag hier nie. Die koek en tee en die nuwe Bybel van ouma het hom dalk verjaag. Of het hy dalk in die hoek gesit en kyk, waar die skaduwee nou lê? Iets roer in my, 'n dringendheid. Ek kyk om en sweer ek sien 'n skaduwee roer agter die preekstoel, die gangetjie in.

Ek loop deur die gangetjie. Aan my linkerkant is 'n klein kamertjie. Toe ek jonger was kon ek sweer ek onthou die dag dat my ma daar met my as 'n baba in haar arms gestaan het. Ek het later besluit dit was my verbeelding. Miskien myself probeer oorreed, want dit hang nog steeds in my onderbewussyn rond. Ek loop verby die kamer waar die ouers en hulle woelige peuters altyd gesit en preek luister het. Ons het ook partykeer daar gaan sit as ons laat was. Ek kom meteens agter dat ek sluip. Asof ek die Ding van agter wil bekruip. Ek sluit die agterdeur oop.

Ek loop by die trappe af en kom skielik agter hoe groot die kerk is. Dit toring bo my. Die siersteengebou lyk of dit die hemel aanraak. Ek loop oor die sementblad na die saaltjie en sukkel om die deur oop te sluit. Hier is duisend sleutels. Elkeen sluit iets oop. Dit is belangrik. Uiteindelik kraak die deur oop. Ek sien uit die kant van my sig iets roer. Ek sit eers die ligte aan. Dis niks. Die saal gaap voor my. Die stoeltjies staan in netjiese hopies teen die mure afgepak.

Ek onthou die saal goed. Hier het ons geloof en geprys en ons gesigte vol meel gekry op speletjiesaande. Hier is feeste gehou en opvoerings gekyk. Hier het oom Tommie al die jare vir ons gebid in sy lang, afgemete woorde. Hier het ek Hester van Orkney Snork Nie se handtekening gekry en dadelik verlief geraak. Hier het ek bewend gesit en dink oor hoekom die jong vrou een middag voor kerk die boom en gras in die parkie met haar brein besmeer het.

"Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is. Kom na My toe, Ek gee rus." Ek kry hoendervleis toe ek hieraan dink. "Het die Ding haar ook gejaag?" Ek staan regop, haal diep asem en probeer weer fokus. Ek is hier om dood te maak.

Ek loop na die verhoog. Dit is leeg. Of is dit? Ek sien in my geestesoog 'n klein seuntjie in 'n skaapwagterkostuum, geskep uit 'n handdoek en 'n kussingsloop. Hy kyk na Jesus in 'n krip. Die kind kyk op en verdwyn. Ek sweer ek hoor Jesus huil. Ek draai links na die gang. Die kombuis is hier. Die kombuis is waar die ou tannies pannekoek gebak het. Waar die koek en tee voorberei is vir troues en begrafnisse. Hier was ons Sondagskoolklas in standerd vyf.

Groot vensters maak oop na die sementblad-vierkant buite. Trappe loop na onder. 'n Parkeerarea en die kerkhuis is daar. Op 'n warm dag kon ek my ma se Astra daar onder sien. Dan kon jy nie vinnig genoeg by die trappe af om by die huis in die swembad te kom nie.

Die kombuis se ligte bly af. Ek loop teen die trappe op, draai regs en loop agter die verhoog deur. Ek stop en kyk regs na die leë saal. Dié keer is daar geen glimlaggende gesigte van ouers en ander kinders nie. Niemand klap hande nie. Dit maak my hartseer. "Wie is gelukkiger, Kussingsloop-Skaapwagter of Quicksilver-Pierre?" Ek loop vorentoe en raak aan die gordyn. Dis sag. Dis genadeloos. Ek wil begin huil. Ek keer myself en fokus weer op my situasie.

Ek draai om en loop teen die trappe aan die oorkant af. Hier sit die ligskakelaar aan die onderkant, soos dit 'n spookhuis betaam. Ek hou my asem op en beweeg vinnig vorentoe. "Click", gaan my genade, maar nie voordat ek die skadu sien beweeg nie. "FOK!" skree ek en is onmiddellik jammer daaroor. "Jammer, Here." prewel ek binnesmonds.

Ek loop in die gang af, verby die klassies aan my regterkant. Hokkies gemak, so bekend, wat nou vir my ontoeganklik is. Ek bewe soos 'n riet. Die reuk maak my mal. Aan die onderkant van die gang, in die laaste klas voor die deur, sien ek die swart kat wat my sopas amper 'n hartaanval gegee het. "Die Heer is my herder, wat kan 'n mens meer vra?" Ek draai om. "Simpel ding." Ek word al hoe meer bewus van die feit dat dit donker is. Donkerder hier as enige ander plek. Hier waar die laaste jare van my Katkisasie plaasgevind het. Waar die Ding my amper gelos het.

Ek weet waarheen ek op pad is. Dis die kamer onder die trappe. Op speletjiesaande was dit die spookhuis. Ek was daardie jare minder bang daarvoor as nou. My monsters was eenvoudiger. Dit was tieners met lakens oor hulle gegooi, dit was plastiekgeraamtes en heksemaskers, die afwesigheid van lig om 'n gevoel van hulpeloosheid in kinders te skep. Ek soek na 'n sleutel wat hierdie deur oopmaak. Ek wil ontslae raak van die Ding. Dit voel soos 'n ewigheid, maar die deur swaai oop.

Dis donker. Ek ruik die bedompigheid. Die reuk maak my lus om iewers anders te wees, maar ek durf nie nou omdraai nie. Die ligskakelaar is regs. Ek skakel dit aan. In die dowwe lig van 'n enkele lamp wat aan 'n draad uit die dak hang, kan ek sien dat die kamer nou as 'n stoor gebruik word. Dinge staan rond hier. Ou dinge, gebreekte dinge. "Gooi jou hande in die lug en prys die duisternis, soos die woonstelblokke, soos die kinders van die aand!"

Dinge sonder glans, dooie dinge. Hoort ek hier tussen hulle? Ek sweer ek sien die dooie dame van die parkie in die hoek staan. Ek sien in die donker die modderkerke in Mosambiek met jongmense daar voor. Ek hoor konsentrasiekampkinders huil. Ek wil uit! Ek durf nie uit nie. Ek is hier.

Ek loop na die gedaante wat bewegingloos in die hoek staan. Ek bewe die onbeheerbare bewe van 'n kind op pad om sy pak slae te gaan haal. Ek gaan staan eers stil voor die figuur. 'n Vasberadenheid oordonder skielik my vrees. Dis nou of nooit. Ek ruk die laken van die figuur af en daar staan Dit. Deur die stof kyk ek Dit na al die jare vierkantig in die oë. Maar die Ding se oë huil dan. Dit is 'n spieël, sien ek. Dit is Ek.

  • 6

Kommentaar

  • Hierdie kortverhaal is 'n treffer, Pierre. Dit het my geboei van begin tot einde. Welgedaan.

  • Hugo Steenkamp

    Wow! Ek is skoon uitasem uit na die stukkie leesstof. Dankie, dit was boeiend. Dink meeste van die tyd is dit ons wat onsself jaag.

  • Pierre, dit is baie treffend, wel gedaan. Ek kon elke treetjie saam met jou stap en beleef omdat ek ook daar was, soos jy weet. Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top