Die ding met honde ...

  • 1

"F#* die hond, wat van my!", skreeu-sê die antie, nadat ek oor haar hond kla, wat een meter vasgetou, sonder kos of water, aan ’n paal krom staan. Die fliek Disgrace het my weer aan die insident herinner; dit het die ding oor honde weer by my aangewakker. In Disgrace kom honde baie prominent voor. Lucy, een van die hoofkarakters, is baie lief vir honde. Haar mooi goedversorgde honde word tydens ’n plaasaanval deur die misdadigers doodgeskiet.

Haar professorpa verloor sy pos en raak as vrywillige by die versorging van erg verwaarloosde honde betrokke. Lucy vernederd en verkrag, sê op ’n punt vir haar pa:“Perhaps that is what I must learn to accept. To start at ground level. With nothing ... No cards, no weapons, no property, no rights, no dignity ... Like a dog”.

Wanneer ek aan ’n hond dink, dan dink ek aan sy onvoorwaardelike, getroue en beskermde aard. Die mens se beste vriend. “Wanneer ’n man nie ’n broer het nie, is honde sy broeders”;“Die hart van die hond, is soos die hart van sy baas” lui die ou gesegdes. In die mitologie is die hond nie net ’n metgesel van die lewende nie, maar die gids vir die dooie. Die oer-Mexikane het son-kleurige honde geteel wat met die lyke begrawe was. Dit herinner aan die hond-god, Xototl wat die Son op sy reis na die Aarde vergesel.

Die Islamtradisie reken honde het twee en vyftig karaktereienskappe; die een helfte is heilig en die ander helfte boos. Ek bly aan die positiewe kant van honde klou en aan die Jock’s van die Bosveld glo. Jock van die Bosveld was die getroue hond van Sir Percy Fitzpatrick ’n jong prospekteerder en transportryer in die Oos-Transvaalse Laeveld rondom 1880. Fitzpatrick het die storie van Jock opgeteken en aan sy kinders vertel.

Die storie van die plaashond, Lekkie is verstommend. Lekkie is ’n Staffie van ’n Vrystaatse boer wat in haar baas se bakkie was toe dit iewers in Gauteng gesteel is. Die bakkie is later verlate naby die Kruger-wildtuin gekry, byna 700 km van die boer se plaas af. Op een goeie dag, agtien maande later daag Lekkie, amper soos die verlore seun in Jesus se storie, by haar baas op die plaas op. Lekkie se reisverhaal is ’n misterie, net sy ken die volle storie.
Die liedjieskrywer Etienne Steyn se ode aan ’n hond rond my storie af:

Gourits was sy naam
die geliefde hond van Gouritsmond
almal stem saam
dit hang af waarheen hy gaan
sal niemand kan vertel
swerwer is hy in murg en been
en die see is sy beste pel
sy roublou oë en sy donker pels
vertel die storie waar hy was
hy kom van ver
maar hy was al hier
en die hond is nie ’n dier
(hond van Gouritsmond)
“Skies antie, jy verdien nie jou hond nie!”

Pieter van Niekerk

 

  • 1

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,  

    Dankie vir jou deelsaamheid omtrent honde.  

    Met alle respek aan hondebase; ek's eintlik glad nie 'n hondeliefhebber nie. Laat ek maar eerlik wees; ek was nog net lief vir een hond - my hond Ben.  

    Ek het absolute vrede met die Joodse, of te wel Rabbinisme se beskouing van honde. Dit verdien beslis 'n "volledige bydrae". Intussen nooi ek jou om jouself daarin te lig. 

    Wat ek wel graag met jou wil deel (na aanleiding van my metafoor aan die ou grote Kobus op die werf), is dat ek van kleins af die gewoonte had om regtig vir honde terug te blaf.  

    Ek is lief vir stap en dink. Daar is ongelukkig niks so steurend soos die breinlose gekef van emosie dooie honde agter heinings, of om jou enkels nie.  

    In my frustrasie as ek kind waar ek van die skool huis toe gestap het, het ek my blaf vervolmaak. Ek's oortuig dat blaf (alhoewel breindood), wel gestruktureerde kommunikasie kan wees. Meeste blaf beteken iets soos "f#k jou"!  

    Almal kon van veraf hoor as ek die straat afstap. Ek het 'n baie groter "blafkoor" as die posman ontvang.

    Hier en daar het eienaars ook hul frustrasie ontlaai deur die hek oop te maak en te seg sa!  

    Bliksems!  

    Natuurlik sal ek ook lieg as ek nie 'n slag of wat agterna 'n skoon onderbroek by die huis moes gaan aantrek het nie.  

    Maar, ek's nog nooit deur 'n hond gebyt nie. Ek gaan staan stil en hou die agterkant van my hand na die stormende skuimbek uit. Die stomme dier kom meestal tot by my en snuf aan my hand. Dan draai hulle om en gaan merk op hul buurman se sypaadjie. Dit maak die buurbrak besete en die boodskap trek al hoe harder en verder.  

    Weereens moet ek erken dat die hele ding my tog benoud maak. Ek het al hondsdol diere op 'n afstand gesien. Dit kos niks om deur een gelek of aangeval te word nie. Honde as onbeheerde wapens ontstel my erg. Menige geskende kindergesiggie het al ons voorblaaie bebloed. Hierdie jaar is 'n paar mense al aan hondsdolheid dood na hul "barmhartigheid" aan rondloper brakke - ander is weer verskeur.  

    Dan is daar onse Kobus ...  

    Kobus de Klerk is ook nie so erg nie. Hy laat my aan 'n steekhombrakkie dink wat so tussen die blaf deur skoon mal van opgewondenheid in die rondte agter die heining sy eie stert begin byt.  

    Ek verseker jou egter dat hier wel al 'n pitboel of wat al op my afgestorm het. Genadiglik het hulle ook net my hand geruik en 'n ander se bydrae gaan merk. Ek sal nooit erken wie dit was nie; 'n mens gaan tokkel nie hul knaters as hulle jou vervelig vind nie. Los dit liefs maar vir 'n anderdag ...  

    Pieter, dankie vir jou bydraes hier.  

    Ek bid dat jy iets aan die hondegeveg hier kan vermag.  

    Namaste!  

    Cornelius

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top