Die diktatuur van die kommentariaat

  • 4

Ek lees deesdae baie meer kommentaar as ooit vantevore. Nie die formele, goeddeurdagte en elegant-geskrewe (“op-eds” en so aan) soort wat in koerante gepubliseer word nie, maar die informele kommentare op sosiale media – die goeters wat in sulke ritse onderaan berigte hang, soos uitgerygde derms. Dis nou al so ’n gewoonte dat ek nie my daaglikse “fix” gekry het voor ek gelees het wat elke Jan Rap en sy maat oor elke brokkie sus-of-so te sê het nie. Die mobiliteit van sosiale media beteken dat ek die goed op my selfoon kan lees terwyl ek vir die tandarts sit en wag, in ’n tou staan by die poskantoor, ’n bestuursvergadering verduur, in die bad lê; ja sommer enige plek en enige tyd.

Dis aansienlik meer opwindend om die kommentare as die oorspronklike storie te lees. Na elke berig is daar ’n spontane ontplooiing van ’n arena vol reaksies. Onthou julle daai driedimensionele prentjies wat so uit groetekaartjies uitgespring het? So ’n “pop-up”-prentjie is vir my onweerstaanbaar. Ek probeer die mense agter die kommentare visualiseer: die suurpruime, die skynheiliges en hoogheiliges en goedgelowiges en rassiste, die sedebewakers en die vredemakers, die filosowe en die narsiste. Anonieme kommentators skets gou hulle eie sielkundige profiele (ter aanvulling van die slim “naam” en profielfoto van die motorfiets of hond of nuutste tatoe). Na twee kommentare deur dieselfde spook kan mens ’n prentjie begin vorm van die vingers wat tik.

Moet tog nie ’n relevante, samehangende bespreking verwag nie, want die oorspronklike nuusberig is meesal maar net van terloopse belang. Dit kan ’n storie wees oor rugby, of ’n aktrise wat skei, of droogte in die Suid-Kaap, of Brexit of Eskom of DStv of renosters. Wees verseker dat iemand die wil van die liewe Here gaan uitwys. Of die ou wat die wil van die liewe Here uitwys, gaan uitskel. Of ’n historiese patroon (gewoonlik ’n historiese probléém) gaan raaksien. Daar is altyd iemand wat dink die einde van die wêreld is óp ons. Of ’n “rot ruik”. (Alles is nie noodwendig apartheid of Jan Van Riebeeck se skuld nie. Daar is die globaliste en die illuminati, die kommuniste en die liberaliste; definitief ’n komitee wat iewers besig is om alles wat sleg is deeglik te beplan.) Ek voel jammer vir die mense wat so kronies agterdogtig is, maar ek weet ook ’n vyand is ’n nuttige ding. Hy, sy, dit, hulle kan blameer word vir enigiets. Party mense stel almal in kennis wanneer hulle hoop verloor in die mensdom (of mansdom, of vrouedom – daar is altyd ’n “dom” wat die vark in die verhaal is). En om een of ander rede moet hulle dit keer op keer onder almal se aandag bring, sodat die goorgeid gedeel kan word.

Elke bespreking ontwikkel sy eie nuwe temas, en soos die derm van die kommentare op kommentare al hoe langer raak, torring die humeure los. Mens kan hóór hoe die tannie snak van verontwaardiging; die omie sy moer strip presies net daar tussen sy tweede en derde kommentare. Dis ook nie net getikte teks wat die gesprek skilder nie. Emoji’s word ingespan soos tolke wat vir dowes beduie, en soms baklei mense selfs daaroor. Is daai prentjie ’n satanistiese simbool? Is die gesiggie met die trane heerlik aan’t lag, of huil hy in solidariteit? Hoekom skree die dame so (as alles in hoofletters getik word) en wie is die snaar wat vier keer moet “pos” net om een sin geskryf te kry? Sommige ouens sal altyd probeer vrede maak tussen die spul wat mekaar invlieg, maar wees ook verseker dat ’n ywerige “trol” (’n subspesie in ons digitale era!) gaan probeer – en dit regkry – om iemand persoonlik te beledig. Soos vlieë afpyl op vleis, zoem trolle in op ’n profielfoto, ’n naam, of sekere sleutelwoorde (Donald Trump, Afrika, bid, ANC, boere, vleis-eet, godsdiens … die lys is lank). En natuurlik – hoe dan nou anders? – is daar altyd ’n voorbeeldige wat ander se taalfoute polisieer. Wanneer so ’n grammatinazi self ’n spelfout maak, gaan ’n ander taaltrol triomfantelik daaroor tril. O, en die “stadiges” wat dit regkry om enige berig verkeerd te lees, of stukkies by te verbeel; om dan net weer deur beter ingeligtes tereggewys te word. Hoe lekker om reg te wees én dit uit te basuin.

As die gesprek se gô uit is, of as almal vuisvoos is, beweeg die skare aan na ’n nuwe berig. Party ouens sluip druipstert weg, maar die meeste kom weer en weer om hulle straaltjie by te piepie. Hoeveel mense “leef” deesdae net op sosiale media? Hoeveel van die bitterbekke is dalk net bitter eensaam?

Ons leef in ’n wêreld met skreiende vertikale verdrukking. Die superrykes sit aan die bopunt van die kosketting, dikgevreet, terwyl die ellendiges heel onder moet krepeer. Maar dankie tog vir digitale demokrasie, want ons geniet nou ook ’n wêreld van horisontale treitering. Dis wat die kommentariaat ons bied: absolute gelykheid om te beledig en beledig te word. ’n Plat speelvlak met ewe groot kans om ons eie name krater te maak. Een groot arena waar almal modder (of preke, of wanopvattings) in die lug op kan gooi. Niks word gestaaf nie, niks word verkeerd bewys nie. Vir elke stelling wat gemaak word, is daar iemand anders wat dit blindelings gaan glo. Of blindelings gaan verwerp. Almal kan in die arena inneuk – ouderdom of inkomste of ras of seksuele inklinasie of fisiese lokasie hou jou nie terug nie. Soos in ’n stemhokkie kan jy anoniem bly, en jy hoef nie eers te kan spel nie.

Self is ek (nog) nie een van die kommentariaat nie: ek lees gulsig en lag of vervies my, en soms stort ek selfs ’n traan oor ’n dierbare bydrae, maar ek lewer nie self kommentaar nie. Dis dalk voyeuristies van my, of lui of selfsugtig, of dalk net lamsakkig. Laat ek eerlik wees: ek sien nie kans vir al die kommentaar op my kommentaar nie. Ek weet dit sal my rasend maak, my brein boelie. Want mense, hierdie kommentariaat is ’n diktatuur, en dit ontsien niemand nie. Selfs al is ek net ’n toeskouer, word my brein gemarineer in ’n brousel van opinies. Die geklets maal aanhoudend in my gedagtes, en daar is al hoe minder spasie vir my eie kreatiewe denke. Die kakofonie (klem op die eerste lettergreep) het in my kop ingetrek.

Vryheid van spraak is ’n wonderlike ding, maar die lumpenkommentariaat kan maar ’n kommin spulletjie wees. En genadeloos. Is die toeskouers minder skuldig as die gladiators? Dis tyd dat ek werk maak van my verslawing aan die spektakel.

  • 4

Kommentaar

  • Wannie Carstens

    Uitstekend gestel! Daai Kommin moet met 'n hoofletter gespel word. Die gesigloosheid gee hierdie kommentators ('n vleiende woord) die 'reg' om te beledig, te skel, en in hierdie proses hulle eie name met 'n spreekwoordelike plank te slaan. En daai kakofonie is so waar … Dankie Yolanda!

  • Dankie, Yolanda, dis baie treffend. As een wat sulke kommentaar moet lees (en moderator moet speel), vind hierdie aanklank. Ek weet nie hoe jy dit regkry om onbetrokke te bly nie, ek haal my hoed af vir jou deursettingsvermoë, my vingers jeuk te veel!

  • Ha! Mutton Chops, ek dink ek benodig ook 'n skuilnaam. Ek modereer gelukkig geen kommentare nie, net eksamenvraestelle, en selfs daar verloor ek my sin vir humor so halfpad deur die gemerkery. Ek skryf my eie kommentaar altyd eers in potlood (dinge soos WTF?), sodat ek dit later weer kan uitvee. Mens moet mos kalm en ordentlik bly 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top