Titel: Die derde graf
Skrywer: Calvyn van Niekerk
Uitgewer: Humann & Rousseau
ISBN: 9780798163460
Koop Die derde graf by Kalahari.com.
In 1972 kom twee delwers met hul nuutgevonde diamante by ’n verlate plaas aan. Hulle verdwyn spoorloos nadat die plaaseienaar uitvind van hul rykdom.
Dekades later verdwyn die middeljarige fotograaf Gawie Calitz, een van die verdwene delwers se kleinseuns, ook in dieselfde omgewing.
Tromp Faber, ’n eertydse polisieman en jare lange vriend van die Calitze, vat Gawie se spoor en loop hom vas in die Blatt-broers – afstammelinge van die gewelddadige plaaseienaar uit ’n vervloë era.
Hy word aangevuur deur ’n skuld wat hy nie kan afskud nie. Hy sukkel met skuldgevoelens oor gebeure wat tot die dood van sy beste vriend gelei het. As hy Gawie kan vind, kan hy dit dalk regkry dat Gawie en Mattie, die vrou van wie hy na sy seun se dood geskei is, herenig word.
Wanneer Faber in die distrik aankom waarin die Blatt-broers se plaas is, word hy blitsvinnig deur die inwoners ingelig oor die Blatt-broers en hy besef vroeg al hulle gaan nie goeie vriende word nie. Trouens, hy vind gou uit hulle is, soos hy, ook op soek na die diamante wat moontlik in 1927 op hul plaas versteek is.
Calvyn Van Niekerk is volgens die agterplat van Die derde graf ’n skrywer wat onder meer verhaleredakteur van ’n aantal publikasies was en “honderde” tydskrifverhale, twee jeugboeke, radiovervolgverhale en TV-reekse geskryf het.
Hy het inderdaad ’n slag om ’n verhaal te vertel en spanning te bou.
Maar soms raak die gegewe net ‘n bietjie te dik vir ’n daalder. Al wil ek ook hóé graag, kan ek later nie meer verskonings kry vir die feite wat nie klop nie.
Die skurke plant byvoorbeeld ’n opsporingstelsel in Faber se voertuig en ‘n luisterapparaat in sy huis en hou só sy bewegings dop. Maar wanneer die gewelddadige moordenaar kans kry om Faber te vermoor, laai hy hom eerder op ’n bakkie en vat hom polisiekantoor toe, waar hy deur een van die handlangers van die gewelddadige Blatt broers ondervra word voordat hy vrygelaat word.
Faber word skynbaar vrygelaat en sonder sy medewete dopgehou sodat hy sy soektog na Jason Cooper, ’n verloopte handlanger van die Blatts, kan voortsit sonder dat Rudi, die jongste van die Blatt-broers, self die vuilwerk moet doen. Vir my was die gebeure net te ongeloofwaardig. Die Blatts met hul span Terriërs (opgeleide veiligheidswagte) en hul verfynde opsporingstoestelle sou tog sekerlik met redelike gemak die handlanger kon opspoor?
En dan is daar ook die voorval waar Rudi op Faber skiet. Faber, wat “nie wil verduidelik” waarom hy ’n miljardêr geskiet het nie, vuur opsetlik mis. En dan gooi hy boonop die vuurwapen weg. Is dit werklik hoe iemand wat weet dat ’n geweldenaar op sy spoor is, sal optree?
Later in die verhaal gooi hy wraggies wéér ’n pistool deur ’n venster weg wanneer hy in ’n konfliksituasie is. En wanneer Thabo, Faber se werknemer, aangerand word met die doel om hom dood te maak, oorleef hy. ’n Mens sluk moeilik hieraan, want die aanvaller is ’n gesoute moordenaar wat die een mens na die ander sonder veel moeite afmaai.
Faber as onverskrokke held is ook skynbaar onweerstaanbaar vir vroue. Daar is nie net een nie, maar sommer twee vroue wat voor hom swig. Die beeldskone model Hester, en ook Steffi, ’n perdeafrigter wat ’n spesiale vriendskapsband met Gawie Calitz gehad het, word deur Faber bekoor. ’n Mens ervaar egter ’n effense irritasie met hoe die vroue uitgebeeld word. Hester is emosioneel broos en Faber moet haar van haarself en haar sensuele luste red. Natuurlik tree Faber soos ’n prins van inbors op wanneer hy ’n besope Hester veilig by haar blyplek kry en haar uitlokkende gedrag ignoreer.
In die Blatts se wêreld is omkopery en korrupsie aan die orde van die dag. Hul sakeryk word uitgebrei danksy kontrakte wat deur gure staatsamptenare – wat op omkopery gedy – aan hulle toegestaan word.
Die broers is fisiek gesproke teenpole van mekaar. Rudi is groot, sterk en aantreklik en hy het ’n vurige humeur. Walther is meer besadig, minder aantreklik en is in beheer van die operasionele sy van die Blatts se sakeryk. Tussen Walther en Rudi is daar nie veel sprake van grootse broederlike liefde nie. Daarvoor is die wedywering en nyd – veral van die ouer, maar fisiek kleiner Walther – te groot. Hy kan ook nie Rudi se lus om van onwelkome besoekers en ander mense wat te veel vrae vra ontslae te raak, in toom hou nie. Natuurlik is die konflik tussen die broers noodsaaklik om die spanning effe te verhoog – wie gaan uiteindelik as oorwinnaar uit die stryd tree? En gaan die skynbaar meer “beskaafde” broer uiteindelik die “regte” ding doen? Of is hy onder sy kalm uiterlike maar net so bloeddorstig soos sy broer?
In hierdie wêreld van korrupsie skyn Faber se liggie as morele mens helder.
Die naam Faber herinner ’n mens aan die destydse hoofkarakter Faber in die oorgeklankte Duitse TV-reeks Baasspeurder Faber. ’n Mens wonder – nie dat dit werklik die verhaal beïnvloed nie – of die skrywer doelbewus sy karakter vernoem het na die TV-speurder wat ’n mens meer as twee dekades later steeds onthou en of dit net toevallig is. Hierdie nuwe Faber gaan egter gewis nie in die geheue bly vassteek nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Ek gun 'n resensent haar eie menings en dis met huiwering dat ek op 'n resensie reageer, maar wanneer ek in die openbaar gevra word of ek 'n ander skrywer se karakter gesteel het, wil die resensent seker 'n antword hê. Nee, ek het nie die naam gesteel nie. Ek het nog nooit van daardie Faber gehoor nie en as ek rêrig nie aan 'n van kan dink nie, is die telefoongids beskikbaar. Dan word my "honderde" kortverhale in aanhalingstekens geplaas, asof dit ook 'n knippie sout vereis. Miskien kan ek die resensent nie daarvoor verkwalik nie, want daardie stories is oor 'n halfeeu onder vyf skuilname gepubliseer.
Die heel minste wat 'n skrywer van 'n resensent kan verwag, is dat hy/sy die storie eers deeglik sal lees en dan menings lug. Hierdie resensie wemel van flaters. Die leser word vertel die Blatts soek ook na diemante op hul plaas. Nee, hulle soek nie. Hulle vermoed nie eens die goed is daar nie. Dis iemand anders wat soek. Faber gooi een pistool oor 'n kraalmuur die ander een in 'n perskeboord, nie deur 'n venster nie -- en eers wanneer hy klaar uit die gevaarsituasie is. Twee vroue wat voor Faber swig? Die een het, met die beste redes, 'n bewondering vir hom, die ander een kan hom nie veel nie en wil tot diep in die storie niks met hom te doen hê nie. Later werk sy saam, maar daar is nooit enige sprake van swig nie.
Die resensent verwys selfs half snedig na die hoofkarakter se morele begiinsels, asof sy sou verkies dat hy by 'n diep ongelukkige en besope meisie in die bed moes spring. Ek kan net hoop ek lees dit verkeerd.
Oorhaastigheid om fout te vind lei tot die lawwe logika dat vier speurders die voortvlugtige "tog met redelike gemak" sal kan opspoor. Dis 'n man wat hul werkmetodes deeglik ken en weet presies hoe om hulle te ontwyk. Hoekom dan nie iemand dophou wat hulle na hom kan lei nie? Die land wemel van misdadigers wat die SAPD se 18 000 met al hul mag en middele nie kan kry nie. Die resensie bevat nog sulke skewe afleidings, maar ek laat dit aan die objektiewe leser oor.
Kundige kritiek is waardevol vir 'n skrywer en welkom, maar hy het die reg om te verwag dat die kritikus eers deeglik sal lees en dan deeglik dink. Dankie vir die toegewing dat ek darem 'n storie kan vertel.
Nederig die uwe,
Calvyn van Niekerk
Ek wonder net of dit nie die skrywer se werk is om so duidelik as moontlik te skryf, dat die leser nie sou sukkel om uit te kan maak wat bedoel word nie? Ek dink nie dit moet ooit nodig wees vir 'n skrywer wat 'n goedgeformuleerde werk gelewer het, om na die tyd te verduidelik wat hy/sy nou eintlik bedoel het nie.
Nou net die Derde Graf klaar gelees en terdeë geniet, hoop daar is nog op pad.
Kan jy so gaaf wees en vir my of jou karakter se papresep stuur, ASB.