Die darwiniste se religieuse probleem

  • 9

Ek kyk so deur die sarsie reaksie wat die darwiniste op my artikels oor darwinisme lewer. Dit is ’n desperate poespas van deurmekaar aanhalings (meeste waarvan my oorspronklike punt eenvoudig demonstreer), pogings tot persoonlike verdagmakery en natuurlik vermyding van die werklike issues deur die maak van allerlei irrelevante stellings en vrae.

Dit is verbasend watter dom vrae ’n evolusionis dikwels vra. Soos Kleinkoos.

Hy kan die basiese beginsel van genetika nie verstaan nie. Miskien moet mens dit weer so eenvoudig moontlik probeer toelig - ’n soort of spesie het ’n unieke DNS ’pakket’ - unieke, gespesialiseerde verbindings tussen chemikalieë (sure en alkalies) in die leer wat aan die spesifieke spesie of soort sy unieke kenmerke besorg. Vir dit om te verander, moet daar ander inligting bykom - dit wil sê, volgens die neo-darwinistiese hipotese, sal nie-lewende chemikalieë hulself kwansuis herorganiseer in lewende, repliserende organismes wat dan oor tyd verander in meer komplekse kreature - en dit moet TOEVALLIG, LUKRAAK gebeur, vir evolusie om te werk. Dit beteken mos logies net een ding - as nie-lewe (chemikalieë) in lewe (nuwe repliserende organismes) verander, dan neem genetiese inligting noodwendig (na bewering, toevallig en lukraak) toe, want dit is nuwe inligting wat nie daar was, nie.

MAAR soiets gebeur eenvoudig nie toevallig, lukraak nie. Dit is die gevolge van ingewikkelde sorgvuldig beplande ontwerp.

Hoe is dit moontlik dat ’n evolusionistiese babbelaar soos Kleinkoos dit nie kan insien nie?

Maar, dit is nou net mooi die punt. Dom Kleinkoos, die evolusionis glo aan evolusie, maar weet nie hoekom nie, sekerlik nes die ander van hulle - hy verstaan nie waarin hy glo nie - hy glo net. Tipies die soort van gedrag wat mens sou verwag by die beoefening van ’n religie.

Trouens, die deursnee darwinistiese evolusionis is to onbekwaam, te oningelig, te dom, om te probeer uitvind hoe die prosesse in die eerste plek tot stand gekom het – aanvanklik, die afgelope maande, het hulle op ‘onteenseglike bewyse’ aanspraak gemaak. Nou gooi hulle my toe met hulle eie dissipels se uitlatings dat hulle nie weet wat en waar die oorsprong van lewe is, nie. Maar moenie dink hulle sal met daardie wete, herroep en besin nie, O, nee.

Dit is vir hom net eenvoudig baie makliker om net eenvoudig te glo, dat alles sommer toevallig en lukraak gebeur - want dan hoef hy hom nie te kwel oor hoe dit tot stand gekom het, nie, want sy insig en begripsvermoë is só beperk, weens die domheid waarmee die satan hom slaan, dat hy eenvoudig die kompleksiteite van die Godheid en die Skepping van die Godheid, nie kan probeer begryp, nie. Daarvoor het hy Spirituele vaardighede nodig, en natuurlik Spirituele Intelligensie, waarvan hy niks meer paraat het, nie. Natuurlik weens die onderdrukking daarvan deur die satan, wat op die evolusionis se verwaandheid infokus om die debiliteit te bewerkstellig - ons sien dit daagliks in werking, hierdie ooglopende insigloosheid by die darwinistiese evolusionis.

Daarom kry jy ook dat mense soos Wouter sarsie na sarsie materiaal plaas, wat my punt ondersteun, maar wat hy nie kan insien, nie. Dan kerm en kla hy saam met dommes soos Kleinkoos oor die en daai boeke wat nie gelees is nie, terwyl hy die essensie van wat uit daai boeke en artikels uitkom, en deur me aangehaal word, net eenvoudig laat verbygaan omdat hy nie weet hoe om daarmee te deel, nie. Nou probeer hy dit in kaf toegooi, want dit laat hom beter voel...

Hoe agterlik.

Dus, in sy stomme onnoselheid, is ’n Kleinkoos en ’n Wouter (saam met talle ander) vir ons die lewende demonstrasie van die religie van darwinistiese evolusieleer in aksie. Glo in wat jy nie kan sien en verstaan nie.

Die gelowige ervaar en beleef God se teenwoordigheid, en weet daarom dat God lewe, en is dit daarom sinvol en ook natuurlik om in God te glo en te glo wat God vir die mens sê, al het die mens dit self nog nie gesien nie - want sowaar - kort voor lank dan kom die bevestiging vir die Godgelowige ook boonop. O, hulle sal my natuurlik nou wil toegooi met kwelvrae (vir hulle) oor ‘bewyse’ oor Spiritualiteit en Spirituele Intelligensie, om op só ’n manier hulle eie dilemma te verdoesel en Wouter sal nou weer teem oor al hy nie by sy ewe spiritueel onbekwame skrywers antwoorde vir spiritualiteit kan kry nie en my met sy ewe onkundige onkundigheid wat hy papegaai verdag probeer maak – hoe komieklik simpel.

Feit is, hoe ‘bewys’ jy vir ’n Spiritueel onbekwame die Spiritualiteit wat juis in die Spirituele dimensie, is? Nee, hy bly maar dom en onbekwaam, waar net die HERE se genade hom kan uitred.

Mens kry die spul darwiniste jammer, want hulle glo in kaf, en probeer die wetenskap prostitueer om tog maar net iets konkreet te kry om hulle stomme religie substans te probeer gee. Maar slaag juis nié! Wat ’n benarde posisie…
Groete,
Kobus de Klerk

  • 9

Kommentaar

  • Die verontskuldiging van De Klerk se kant af is verstommend. Daar word steen en been gekla dat dit net 'n sarsie persoonlike aanvalle is. 

     
    Glad nie, dit word ek verlang van 'n persoon wat krities teen evolusie staan om die tekste waaruit dit duidelik is net 'n paragraaf aangehaal word eerder in totaliteit moes gelees gewees het. 
     
    Dit is juis die enkel paragraaf aanhalings wat die geloofwaardigheid van De Klerk finaal vernietig het. 
     
    Daarom nou weer die treurmare hierbo en die gewone spesiale pleidooi van "spirituele". 
     
    Die roetine is oud en bekend en vervelig. 
     
    Net soos dit al baard het, wanneer De Klerk soos altyd beweer, "eintlik het jy my standpunt ondersteun"
     
    'n Kansvatter se laaste gryp na die strooihalms. 
     
    Dit is nou nog onbekend of De Klerk Bennett se argumente, wat nogsteeds 'n tipe van evolusie veronderstel, aanvaar. 
     
    Dit wys die gevaar uit van aanhaal uit opstelle en boeke wat nie deur jou gelees is nie. 
     
    Net soos Ruse, as De Klerk se talisman se argument meer nuanse het as wat De Klerk hier aanbied en dit is of onkunde of oneerlikheid wat daarvoor blameer kan word. 
     
    Net soos dit nie net "geglo" word dat die begin net was, daar word daadwerklike ondersoek gedoen om die ontwikkeling van die bestaan te verklaar. 
     
    Van die oerknal, vorming van sterrem vorming van planete, die oorgang van chemiese na organiese en die ontwikkeling van alle organismes soos dit daarna uitsien. 
     
    Dit word nie net "aanvaar" nie of "geglo", nie, stap vir stap ontleed die wetenskap dit. 
     
    Om dan weereens die spesiale pleidooi van "spiritualiteit" hier in te bring is die teken van 'n desperate persoon wat nie meer antwoorde het nie en die maklikste uitweg kies. 
     
    Kompleksiteit is nie vir sissies nie. 
     
     
  • Stephan Marcus

    Sure en basisse, meen jy. Wetenskaplikes praat nie van "alkali's" nie. Daar is nie ’n goeie rede daarvoor nie, dis net gewoonte gebruik.

    Sure en basisse is nie regtig kategorieë van verbindings wat ek onmiddellik aan lewe sou verbind nie. Alle verbindings in die liggaam bevat dele (funksionele groepe is die korrekte term) wat suur of basiese eienskappe besit, sommige is sure is oorgangverbindings in metabolisme, maar lewe is nie hoofsaaklik suur-basis interaksies nie.

  • Stephan Marcus

    So weg van sure en basisse na DNA (ek weet dis DNS in Afrikaans, maar dit lyk vir my altyd of iemand probeer bewys hoeveel meer lojaal hy aan die taal is as hy die afkorting gebruik...).

    Gestel die volgende voorbeeld: Wanneer ’n bakterie verdeel is die twee dogterselle veronderstel om geneties identies te wees, maar dit is nie die geval nie. Tydens die replisering van die moedersel se DNA word foute in die duplisering van die sekwens gemaak. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die baie sulke mutasies geen verskil aan die organisme maak nie.* Hoe dit ook al sy daar is nou twee weergawes van een of meer gene waar daar vantevore net een weergawe was. ’n Toename in genetiese "inligting" en ’n verbreding van die geenpoel het plaasgevind.

    Indien een van die gene ’n kompeterende voordeel aan sy gasheer besorg sal natuurlike seleksie die statistiese voorkoms van daardie geen in die populasie laat verhoog en evolusie vind plaas.

    Dis nie so moeilik om te verstaan nie is dit?

  • Kobus de Klerk

    Stephan,

    Jou argumente oor die taalgebruik is sommer kaf en natuurlik, onnodig. In Afrikaans was dit nog áltyd deoksiribonukleïensuur (DNS) en nog nooit deoksiribonukleïen acid (DNA) nie, want die Engels was nog altyd deoxyribonucleic acid (DNA) nie en was die chemiese aard van ’n basis in die DNS leer nog altyd alkalies – ‘basis’ is maar weereens ’n direkte vertaling van die Engelse ‘base’. Kom ons verwys dan maar daarna as ’n alkaliebasis.

    Kom ons aanvaar vir die argument dat jou hipotese ter verduideliking van die proses heeltemal korrek is, dan sit ons met dié suggestiewe aanname, hipotese, van jou, wat jy nié kan bewys nie “Indien een van die gene ’n kompeterende voordeel aan sy gasheer besorg sal natuurlike seleksie die statistiese voorkoms van daardie geen in die populasie laat verhoog en evolusie vind plaas.” Met  “… en evolusie vind plaas” weet ons jy bedoel die darwinistiese evolusie, met ander woorde, ’n biologiese chemiese resultaat van ’n toevallige, lukrake proses.  Dit kan jy net eenvoudig nie bewys nie, en steun jy geheel en al op 'n hipotese - naamlik dat dit gebeur ingevolge 'n toevallige lukrake proses - sonder daardie hipotese, daardie aanname, is darwinisme as evolusionêre leerstuk natuurlik by die venster uit, in watter gewaad ookal.

    Tog is die gebeurtenis nié ’n lukrake, toevallige voorkoms, nie. Sodra ’n seleksie gedoen word (julle noem dit selfs 'natuurlike seleksie'), veronderstel dit ’n keuse – en sodra die keuse gepaard gaan met keuse vir ’n spesifieke voorkeur, soos julle self telkens sê, dan het ons onmiddellik met ’n intelligente keuse te make – alles behalwe toevallig óf lukraak. En dit, natuurlik, veronderstel intelligente ontwerp van die proses vir die proses om juis só ’n voorkeur keuse te maak. En dit bring ons maar net weer uit by Goddelike ontwerp en skepping daarvolgens.

    Dit is die punt wat ek deurgaans maak, wat julle geriefshalwe bly ‘miskyk’. Dit is waarom ek bly sê dat die wetenskaplike resultate (gestroop van hipotese en konjektuur) van darwinistiese (in watter gewaad nou ook al) evolusioniste nie getuienis bied wat darwinistiese evolusie ondersteun nie, maar juis IO en kreasionisme.

    En wanneer jy hierdie logiese proposisie afmaak, doen jy dit nie op wetenskaplike basis nie, maar op grond van jou religieuse filosofie, waar jy jou onbewysbare en onlogiese hipotese in die plek stel van 'n logiese en werklike proses wat deur die feite ondersteun word. Dus, dit is nie nodig vir jou of enigiemand anders, om God te probeer verstaan of bewys nie. Jy sien hoe God werk, deur Sy ontwerpte skepping van die aardse biosfeer. Daarin, in die onbegryplike groot en ingewikkelde kompleksiteit, variëteit en wonderlikheid van dit alles,  sien jy ook waarom God, God is, en nie sommer so deur mense deurgrond kan word, nie.

    Nou, dit is voorwaar baie maklik om te verstaan en in te sien.

    Kobus de Klerk

  • Kobussie

    Kan jy die antwoorde op die volgende twee vragies?

    1. Het 'n hoender of 'n krokodil die "meeste genetiese inligting"?

    2. Hoe meet jy die hoeveelheid "genetiese inligting"?

    Ek kan jou help om aan jou te vertel dat genetiese inligting nie gemeet kan word aan die "grootte" van die genoom nie, want 'n ryskorrel het 'n baie groter genoomgrootte as die van die mens.

    Ek kan ook verstaan dat genetiese inligting gemeet kan word aan die hand van tie aantal basispare van 'n DNS-molekuul. Die blou-apie het egter meer basispare van DNS-molekules as die mens, byvoorbeeld.

    Nou is my vraag, hoekom dink jy die hoender het "meer of minder genetiese inligting" as 'n krokodil? Hoe meet jy die "meer of minder genetiese inligting"?

    Onthou, jy is die een wat bewwer dat evolusie 'n "vermeerdering in genetiese inligting" vereis. Hoe meet jy dit? 

    Woordslaaie gaan nie verbloem dat jy nie 'n basiese antwoord het nie.

    Kleinkoos

     

  • Kobus de Klerk

    Kleinkoos,

    As daar genetiese inligting bykom wat daar nie tevore was nie (byvoorbeeld om 'n nuwe soort te vorm), is dit toename... is jy werklik te insigloos om dit in te sien? Jou probleem.  Dis tipies jy wat die spul wil gaan sit en tel. Hoe insigloos en onkundig - en onnosel.

    Hou op simpel vragies vra, en probeer vir 'n slag verstaan waarmee jy jouself probeer besighou.

    Die punt is, daardie toename gebeur net eenvoudig nie vanweë darwinistiese tipe natuurlike seleksie of mutasie, nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobussie

    Dis nie ek wat bewerings gemaak het van "meer gentiese inligting" nie. Dit was jy wat dit gemaak het.

    Jy weet, het 'n hoender of 'n krokodil "meer genetiese inligting"? Hoe meet jy dit?

    Ek is 'n geoloog. As iemand vir my vertel dat gedeelte A van 'n plaas "meer platinum het" het as gedeelte B, vra ek die vrae Hoe meet jy dit?  Dikker  lae? Meer tonne? Gee my 'n eenheid om dit te meet. 

    Ek soek dus 'n eenheid om meer of minder te kan meet.

    Dis dieselde met wat jy beweer het dat 'n hoender of krokodil met "meer genetiese inligting" het as die ander. Hoe meet jy dit? Sonder 'n basiese antwoord en woordslaaie van begin tot die einde vertel jy nie die waarheid nie.

     Jy beoefen net die Gish gallop. Van bewering 1 tot die end. 

     Kreasionisme is net onwaarhede wat wetenskapagtig klink, met die uitsluitende doel om mense te mislei. Van bewering een tot die einde.

    Kleinkoos

     

     

  • Kobussie

    Wat 'n lang woordslaai om die meesbasiese vraag te ontduik.

    Hoe meet jy "genetiese inligting"?

    Kleinkoos

  • Kobus de Klerk

    Kleinkoos, jy is insigloos - jy kan die kernverduideliking hierbo in my antwoord nie begryp nie?

    Ek ontduik niks - veral nie jou insig nie - daar is niks daarvan om te kan ontduik nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top