
Foto: Canva
Die daisy dwaal weer
die daisy dwaal weer
tussen volmaan en laagwater
van die strand
na die godeberg
om haar woorde te saai
tussen verdwaaldes
vermeteles –
selfs begaafdes
sy dans haar woorde
op die dorsvloer
van lewe en dood
tussen skadu’s
van alle mense
klein en groot
om lewe te gee
aan klippe en padtekens
wat op die pad is
tussen lewe en vergewe
anders sal lewe sterf
op die werf
van eensames
omdat dit so werk
met die mensekinders
van hierdie geslag
wat lag en huil
skuil en verskyn
as die kwaad verdwyn
om saggies lig te gee
waar die vuurvliegies weg is
waar die sterre donker is
of die maan nog op pad is
sy ken die geheime
sy ken die vuur
sy ken hartseer
wat die mens laat dans
met woorde
wat sy vrylik gee
sodat sy self kan vrykom
van die kettings
van leuens
of stukkende muse
wat sy soms glo
as sy ook voel
soms
is sy nie goed genoeg nie


Kommentaar
Johan, jy oortref jouself elke keer.
Ek lees dit oor en oor en vind elke keer nóg 'n kosbaarheid in jou woorde.
Johan, ek lees dit oor en oor. Jy oortref jouself keer op keer.
Baie dankie Mich, ek waardeer jou kommentaar.