Die dag toe PW Botha sterf

  • 0

En dit was môre
en dit was aand –
nog ? dag swik
en kantel dan teen die aarde
se konkaaf af, verskiet
in die ewige spiraal.

Waarheen verdamp jy,
vandag, soos soveel ander
voor jou?
Vaar jy soos ? wafferse Marco Polo
verby Sjina, proe jy aan speserye
of jong maagde se dye?
Wat bly agter op jou nat tong,
watter geure bly hang
in die holtes van jou neus?
Suurlemoengras of gekneusde
koljanderblare, of die reuk
van die sweet van slawe?
Proe jy nog die naeltjies
van Zanzibar en Pemba
se plantasies, die geur van koffie
onder die naels aan kneukels
van die heuwels van Ngong?
Of aarsel die beelde
van die vlieërs van Bangkok
in jou oë, of dansers met tromme
en klokkies? Miskien is
die herfsblare van Seoel
op jou lense geëts,
die ritseling van blare
nog ? eggo in jou ore?

Dis die grond van ander dae
wat nog aan my skoensole klou,
die klei van vele kontinente.
Maar vandag sit ek kaalvoet
en wonder net oor jou –
hierdie enkele dag,
hierdie een van vele
wat deur die eeue wegkruip
op kalenders met verskillende
alfas en nog vele meer omegas,
wat vasgepen word
in klei,
op papier,
in kombinasies van nulle
en ene in elektriese pulse.

Hoe klop jou pols,
vandag?
Ek sonder jóú uit
vir hierdie vrae
so tussendeur
al die ander dae –
een in die bondel
om te bundel
met al my vrae.

Wat is jou naam,
vandag?
Hoe roep hulle jou?
Hoe pen hulle jou
unieke identiteit neer –
jou gevoel
jou kontoere,
jou atmosfeer?
Al wat ek hoor, is
wat gebeur het
op hierdie dag
uit ? pratende mond
wat vasgeheg is
aan die kop wat
uit die buis na my staar,
oë wat subtiel beweeg
om die feite te lees
wat die lippe moet rammel.

Jy word verantwoordelik gehou
vir die hoogtepunte.
Twee leiers wat praat
op ? spitsberaad.
Lyke word getel
op die maat van geweerskote
of lemme wat deur jou dun lug klief.
Een of ander voormalige staatshoof sterf.
? Vredesmag, nog ? verdrag.
Dis alles deel van hierdie dag –
laat die annale getuig,
die argiewe juig:
Hierdie dag was soos
geen ander vantevore nie.

Tog weet ek nie wat
om met ? dag soos jy
te maak nie.
Ek voel diep onseker,
ongedurig,
dalk selfs ontroer.
Ek kou aan jou
soos aan muwwe brood.
Is jy hier om my te voed of te vergif?
Watter reuke verdoesel jy
met eksotiese geure
wat op winde aangeseil kom,
wit seile met kiste vol speserye?
Of ruik jy dalk
na die vrot van die lywe
wat gis in Kigali
of Darfoer?
Dalk verdwyn jy net
in die niet.

Ewenwel, vandag –
ek is bevrees
ek het die rigting
heeltemal verkeerd.

Ek vra om verskoning.

Dis mos in die weste
waar jy tuimel.

1 November 2006, Perth

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top