Nou ja, ek het destyds die “ongemaklike” storie van my eerste aambei met julle gedeel, maar vanaand se storie is ‘n perd van ‘n ander kleur! Ek weet dit kon nie net met my gebeur het nie, want so uniek kan Muis darem nie wees nie – maar mense praat mos nie oor sulke goete nie, maar ‘n mens bly mos maar mens en glipsies gebeur so af en toe!
Dis Maandagoggend op kantoor en my ingewande protesteer nog teen die gif van die naweek se oormatige gefuifery. Die ontvangsdame het seker gesien ek lyk maar bietjie aan die bleek kant vanoggend en besluit toe sy mag dalk net ‘n paar punte score as sy vir my ‘n maaskaasbroodjie vir brêkfis maak en die maaskaas bietjie met heeltemal te veel Aromat inkleur! Bedoelende nou dat die soutigheidjie seker weer die kleur in my wange sal terugsit…
Groot foutjie! Ek doen nie maaskaas met aromat nie, maar net om haar gevoelentes nie seer te maak nie, forseer ek maar die ontbythappie in en sluk dit met ‘n Red Bull af! Groter foutjie!
Dit was nie 20 minute nie, toe begin Red Bull moeilikheid soek met Maaskasie en Aromat staan darem self sy man! Ek voel hier is ‘n gewoel in my binneste en dit smaak asof Red Bull een van my derms met sy horing raakgesteek het.
Ek besef hier kom ‘n ding, maar ongelukkig het ek nou maar daai skaamgeit in my dat ek mos nie sulke goeters op kantoor kan doen nie! Nee dis nou huis toe, na my eise troon toe!
Halfpad oppad bakkie toe, besef ek, ek gaan dit nie maak nie en draai om – halfpad in die gang af sien ek die kollegas kyk my snaaks aan en draai weer om en stoot maar weer bakkie se kant toe!
Ek maak gelukkig die bakkie, koue sweet slaan op my voorkop uit, Red Bull steek nog ‘n derm raak, maar uiteindelik start die bakkie en ek is uit by die hek. Ons het net een robot in die dorpie van ons en vanoggend moet hy wragtig rooi wees! Ek prewel ‘n skietgebedjie, maar Redbull en Maaskasie is nou lelik aan die stry! Dis nog ‘n hele kilometer huis toe.
Die robot slaan groen en ek jaag soos ‘n besetene voor ‘n bejaarde tannie in, want daar is nie tyd om vir haar ‘n rybeurt te gee nie. Nou is dit die treinspoor – ek bid dat daar asseblief net nie ‘n trein vandag moet kom nie, want dan gaan ek verseker nie die huis haal nie! Ek besluit come hell or highwater, vandag jaag ek voor ‘n trein in. Ek mis die trein met ‘n skaamhaardikte en stop uiteindelik met skrouende tyres voor my huisie.
Daar is nie tyd om die voordeur se sleutel te soek nie en besluit vandag gaan die garagedeur maar moet doen, want sy sleutel is aan my bakkie s’n!
Ek skop die hekke oop en my hondjie wil nog kom groet, maar hardloop stert tussen die bene hok toe – sy weet baie duidelik nie wat vandag met haar pappa aangaan nie.
Net toe ek met bewerige hande die steutel in die slot het, kom my eise pa om die hoek en nou weet ek: “Ek gaan dit nie maak nie!!!”
Pappa wil nou eers CHAT!
Ek probeer nog ‘n verskoning uitdink, maar daai tyd smaak dit my Red Bull het nou my anus raakgesteek!
Al wat ek kon uitkry was: “Paaa! Ek moet nou eers gaan – dis ‘n noodgeval!!!”
Nou, ek het mos nou nie een van daai electric garagedeure nie! Ek MOET buk en die deur ooptrek. Needless to say, die buk het nog gewerk, maar met die optrekslag besluit Maaskasie hy is nou gatvol vir Red Bull se stront en gaan nou maar die kortste pad buitentoe vat!
Halfpad oor die sitkamervloer voel ek Maaskasie is nou besig om teen my bene af te kruip. Al wat ek kon doen was om my sokkies bo-oor my broekspype te trek en met grasieuse danspassies uit Swanlake die gang af te wals troon toe!
Daar was nie ‘n plons in die troon se bak nie, jy kan dit eerder vergelyk met ‘n hoëdrukspreier wat vir Red Bull, Aromat en die orige bietjies van Maaskasie teen ‘n hoek van 45 grade teen die troon se kante vasgeblaas het!
Hemels! Red Bull, Maaskasie en Aromat is toe uiteindelik in die dreinpyp af en toe is dit stort toe!
Nadat ek myselwers gereinig het en die beste lekkerruikgoedjies in my kas uitgekrap het, is ek weer terug werk toe met ‘n skoon broek, hemp, sokkies en skoene!
By die werk aangekom wil die kollegas weet, waar ek dan nou was! Al wat ek kon uitkry was: “Ag seker nie ver nie!!”
Johan Conradie


Kommentaar
Beste Johan,
Dit was nou rerig 'n "vars briesie" na al die "bedompige" godsdiensgekyf! Uitstekend geskryf.Ek het elke benoude oomblik saam met jou beleef.
Maak weer so .. nie die Red Bull en maaskaas nie, maar 'n lekker skryfsel!
Groetnis,
Perdebytjie