Dit reën. Die hemel is 'n grys kombers; my boerehart juig, want die lande is reg vir koring planttyd en die reën trek diep in die aarde, maar my gemoed is grys soos die soos die lug daarbo want teen planttyd sal ek nie hier wees nie, maar duisende kilometer weg. Ek gaan haal my nooi by haar huis; sy sal die nag by ons op die plaas kom slaap. Ons praat oor goed waaroor jong verliefdes praat, maar nie oor more nie. Na aandete lees Pa oudergewoonte uit die Bybel vir ons en ons sê nag en elkeen gaan na sy kamer. Toe ek seker is Pa en Ma slaap loop ek saggies, baie saggies, na my nooi se kamer. Ek glip langs haar in die bed en hou haar heerlike jong vrou liggaam vas vas vas. Ons maak liefde weer en weer en weer totdat ons moeg en uitgeput net in mekaar se arms lê. Later hoor ek aan haar asemhaling dat sy slaap, maar ek lê net en luister na haar asemhaling en voel haar jong ferm liggam soos sy in haar slaap beweeg. Ek raak aan die slaap, maar is rusteloos. Vroegoggend skrik ek wakker want ek moet terug na my kamer.
Pa en Ma sal nie daarvan hou as hulle my uit die spaarkamer sien kom nie! Dit reën nog steeds. Ek gaan staan by die venster, die reën val in slierte teen die ruit, maar ek kan tog die silhoeët van die laning kareebome uitmaak en na links die watertenk wat uittroon. Alles lyk anders in die reën en die voor dagbreektyd. Daar is 'n rilling in my kaal lyf want dit is koud en ek kruip terug in die bed, net nog so rukkie langs my nooi lê. Sy kreun saggies toe my koue lyf aan haar slaapwarm naakte liggaam raak, maar tog wriemel sy teen my vou my toe en ons maak liefde maar met 'n dringendheid asof ons in mekaar se liggame wil versmelt. Ons hou mekaar vas, maar dan is dit tyd vir my om terug te gaan na my eie kamer. Ek gaan bad en trek my weermaguniform aan, kry my goed reg want ek moet vroeg aanmeld by my eenheid.
Ons eet ontbyt. Toe ek klaar geëet het staan ek op en groet sus San en sy huil - nee, ween - al het sy geen begrip van wat grens toe gaan behels nie. Ma huil ook en vermaan my om tog nie weer briewe te skryf wat "hulle"gaan kwaad maak nie.(Daardie jare is alle briewe wat ons van die grens af gestuur het na ons geliefdes deur poepholle wat nie wou veg nie gelees en gedeeltes wat volgens hulle die sekerheid van die land kon bedreig is gesensor deur daardie gedeeltes met n dik swart pen dood te trek en my briewe het gereeld deurgeloop.) Pa staan op en ek soengroet hom; Pa sak in sy stoel terug laat sak sy kop in sy hande en rou snikke ruk deur sy groot lyf. Ek het Pa nog nooit sien huil nie en weet nie wat om te doen nie. Buite word die toeter van die bakkie geblaas want ons moet ry. Ek tel die sak, sommer deur troepe balsak gedoop, op en loop na buite en klim in die Land Rover. Ek bestuur en ry op die nat plaaspad. In die truspieël sien ek die nat spore agter my.
Boer in Beton.

