As jy aan 'n ou huis aanbou dan doen jy dit self. Want jy weet instinktief wat jou voorsate probeer doen het. Jy laat nie toe lat 'n kontrakteur sommer net inkom en deure uitsny en stene uitkap nie. Want jy weet waar die brickforce destyds ingesit is en hoekom die hoek lyk of hy skeef is.
So sny ons die deur uit vir die nuwe badkamer en ons spook met die snit vir die lintel want ons sit nie net 'n lintel in nie ons sit maar 'n ou spoorweg sleeper in. Want dit lyk beter en dit hou in elk geval langer. Ek staan op die leer met die grinder en die wêreld is onder fyn stowwerigheid. Die soort stof wat jy inasem en laatnag uithoes. 'n Grinder se stof loop lê mos nie, hy hang in die lug rond tot hy iewers kan rus waar jy hom nie wil hê nie. Die leer is wankelrig en Jannie wat moet vashou proes en hoes en dis 'n gevloekery en soekery tussen die fyn stowwerigheid deur na die lyn waar daar 'n deur moet wees.
Iemand raas-roep by die deur dat hier iemand is en ek skreeu die ongeduld uit dat daar regtig nie nou tyd is vir mense nie en Arthur beduie dat dit die man is met die mooi kar. Die man wat altyd kom lampolie haal, die man wat altyd so sag praat. Ek kyk van bo neer op hom en ek sien daar staan 'n droom langs hom. Ek is verstom dat hy hier inkom want inkommers kom gewoonlik nie hier in nie, net mense wat spesifiek genooi is maar hy beduie vir my dat hy 'n probleem het want hy het nounet hierdie Droom ontmoet en sy soek hulp want sy is desperaat.
""Ai, here, oom, ek het nie nou tyd nie. Wat de fok?" beduie ek hom van bo af en hy wys na die dametjie wat skuins agter hom staan.
"Ek weet jy sal haar kan help." En weg is hy en die dametjie staan.
"Wat is die probleem?"
"Ek het bietjie raad nodig." En ek sien sy het beslis nie raad nodig nie maar ek klim die leer af om te hoor want jy moet op grondvlak staan as mense wat hulle groentetjies kleintyd opgeëet het vir jou raad vra. Net ingeval.
"Wat is die probleem?" Skud ek die ergste stof af want mens moet mos maar respektabel probeer voorkom al weet meeste mense jy lyk maar gewoonlik so.
"Ken jy plekke waar ek kan dans?"
"Dans? Jy kan Vrydag by Pirates loop dans en by Grootbrak dans hulle langarm tot 12 uur toe maar ek’s gewoonlik by die kroeg want ek dans mos nie."
"Kaaldans"
En toe kyk ek weer en skud die stof vir die eerste keer werklik af. Want toe kyk ek eers weer.
"Hulle sê jy ken almal hier rond. Ek soek 'n private plek vir parties waar mense met geld is waar ek kan dans."
"Strip bedoel jy?"
"Ja, maar dis classy. Kyk, ek het foto’s. Professioneel geskiet ..." En toe kyk ekke. Want fok, man, eks mos nie 'n klip nie en sy lyk nie na 'n akkedis nie.
Ek sien haar basies in haar geboortepakkie in meer posisies as wat ek self myself kan indink en ek is vir eens bly ek’s nie 'n ginekoloog nie, want om sin tussen soveel goete uit te maak moet mens beslis lank en aandagtig studeer. "My boyfriend het nog foto’s ..." en toe sien ek die scheme.
Ek beduie vir haar of sy kos wil hê en sy sê nee dankie sy het nounet 'n coke gehad en sy gaan netnou 'n pie koop maar hulle wil net eers in George kom want sy sien sy gaan nie regkom hier nie.
"Kan jy my las met R200 vir petrol? Ek het 'n gig vir vanmiddag by ........ so ek kan op pad terug jou geld terugbring. Hulle gaan groot betaal."
"Hulle gaan ja ..." en ek probeer vergeet waar sy gaan "Dans".
Ek beduie vir Hein om daar by die oestergeld vir die dametjie twee bloues uit te haal.
Vir petrol.
Want ek weet sy het tien teen een die geld nodig. Want ek het met die ontmoetslag die merke op haar boarms gesien en dis nie merke wat jy kry omdat jy kaalgat dans nie. Dis merke wat jy kry omdat die bliksem wat jou kaalgat laat dans nie hou daarvan dat sy haar liggaam vir die ganse wêreld wys nie.
oester


Kommentaar
Wat de moer is dit met ons? Ek soek nie vir moeilikgeit nie, moelikgeit soek my. Dis so asof hy my adres het. Ek het mos ook altyd 'n sagte plekkie vir die armes van armstes. Ongelukkig het die gevoel my al verskeie kere in die gat kom byt.
gelukkig weet mens meesal jy word gevang. wat my dikwels met die vraag laat waarom hulle altyd met 'n lang gesanik kom.
ek het egter 'n wettige rede om hulle te weier: as jy in enige tabakproduk handeldryf mag jy nie aan enige welsyn geld of middele skenk nie. die regime het duidelik, goddank, nie lank en hard gedink toe hulle die wet geskryf het nie.