Die dag toe die ANC sy Manuel verloor het

  • 0

Onlangs ontvang ek ’n brief in die pos. Meestal neutraal in tyding. En tog besprinkel met ’n tikkie hoop. Of ho-ho-hope soos my vrou deesdae sing. Dit moet gevier word, besluit ons. Ek vaar die strate in opsoek na haar wyn
.
Ongeveer twee kilometers op en af in Wessies se hoofstraat, en drie drankwinkels later, slaag ek steeds nie daarin om díe spesifieke wyn op te spoor nie. Ek bel my vrou. Haar selfoon het treurige opvangs. Die lagwekkende aanslag van haar diensverskaffer se reklame kry nuwe betekenis. Maar hierdie wyn sal ek gekoop kry, kom wat wil.

Nog ’n kilometer of wat val ek in by die vierde drankwinkel. Ek betrap die eienaar in ’n hoekie van die winkel waar hy besig is om ’n dampie te slaan. Selfs op ’n afstand lyk die wynrak nie baie belowend nie. Die wyn wat my vrou verlang het ’n wolf op die etikette. Nêrens te vinde. Dit beteken ek sal via die meer gegoede buurte moet huis toe indien ek hierdie wyn wil bekom. En daar is die drankwinkels verder uitmekaar.

“Kan ek help?” vra die eienaar wat intussen agter die geldlaai ingeskuif het.

“Nee, ek soek eintlik net ’n spesifieke wyn vir my vrou maar ek sien dit nie.”

Ek noem die naam. Hy trek se gesig en skud sy kop. Ek bedank hom en mik-mik na die deur. ’n Stem in my kop oortuig my ek ken hierdie man en ek draai om, “Verskoon my, is jou van nie de Kock nie?”

Ja sê die man. Ek stap nader. Op sy naamplaatjie staan Theuns. Theuns de Kock, my Aardrykskunde-onderwyser van hoërskool se dae. Ons begin praat. Nie oor wyn of ander drank nie. Oor skool, sy vakgebied en die onderwys in die algemeen.

Ek kry tog later die wyn. Ek drink met moeite saam. ’n Groot mismoedigheid het my oorval. Mnr de Kock was een van my gunsteling-onderwysers op skool. Hy was die soort man wat ’n ewige liefde vir ’n vak by iemand kon kweek. Selfs díe ouens wat skoolgaan as ’n mors van tyd gesien het, het aan sy lippe gehang. Waar wiskunde gelykstaande was aan groente eet het dit in mnr De Kock se klas gevoel of ons Bart Simpson kyk.

En daarin lê my misnoeë. Die feit dat ’n man soos Theuns de Kock nie meer jong breine slyp met kennis nie maar ou breine afstomp met drank. Vele sulke onderwysers het die grondslag gelê vir wie en wat ek is vandag. Dit het my eerstens in staat gestel om te dink. Dit het ’n honger vir meer kennis by my aangewakker. Een boek was die vonk my entrepreneurskap maar die som van my onderrig die sleutel tot my besigheid se sukses. En ek leer steeds elke dag.

So gepraat van entrepreneurskap. Die verkoop van saamgeflanste Sjinese goedere by verkeersligte tel nie. Vir seker lag die vet Boeddha al die pad bank toe coz’ a sucker is born every second. Hopelik is dit welsynstoelae wat so verkwis word ...

Indien wittes dan ’n skuldlas het, laat ons dan ’n studiefonds stig wat onsself administreer. Hel, soos ek die Afrikaner ken, begin hy ’n instituut van uitnemendheid by wie weinig sal kers vashou.

In die ANC se manual is onderwys en entrepreneurskap net nog leë beloftes. Die toets van tyd sal dit bevestig. In die woorde van oom Frikkie: “If you want slaves don’t educate them to be masters.”

Adriaan

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top