Die “d”-woord: Haikoe hoekom is jou stert so kort?

  • 4

Die week in woorde

Ek hou daarvan as daar skryfkompetisies op LitNet is. Veral as ek begin wonder oor die sin van werk met woorde, en wie nou eintlik omgee, en hoe min mense werklik belangstel … dan is dit lekker as ’n skryfkompetisie hom aanmeld en weer kom demonstreer hoe baie mense daar is wat wílskryf (en dus hopelik ook lees) en hoeveel genot mense steeds in die skryfproses vind.

Sowat twee weke gelede het ons ’n haikoe-kompetisie van stapel gestuur, en my wêreld! Ek kan nie glo hoeveel mense belangstel in haikoe nie. Die inskrywings stroom in, oor alle denkbare temas, van die meer voorspelbare bome en mane en trane tot heel aweregse versies oor winde en ’n verskeidenheid intieme plesiertjies. Maar wat dié maal opvallend is oor die inskrywings, is dat hulle stukke beter is as die inskrywings wat inkom wanneer ons nie ’n digvorm voorskryf nie. Die insigte is skerper, daar is minder cliché en baie minder stroop en die skrywers is minder geneig om amateur-sondes te pleeg wat gewoonlik volop is in kompetisie-inskrywings.

Hoe verklaar mens dit? Wat is dit wat maak dat die haikoe, wat eintlik ’n besonder moeilike digvorm is om te bemeester, beter pogings oplewer as die vrye verse wat ons gereeld ontvang? Die enigste antwoord lê volgens my in die “d”-woord: dissipline. Die haikoe dwing die digter om elke woord drie keer om te draai voor dit plek kry op papier. Eintlik nie net elke woord nie, maar elke lettergreep. Die oordenking en versigtige woordkeuses wat die haikoe op die skrywer afdwing, is iets waarby die meeste amateur-skrywers se skryfwerk beslis kan baat. In die haikoe is daar nie plek vir enige oortolligheid nie. En eintlik is dit die waarheid vir álle poësie – met die skryf van ’n haikoe is dit net makliker om dit in gedagte te hou, terwyl mens met ’n vryer versvorm te maklik toelaat dat emosie en mooiskrywery die oorhand kry.

Ek dink ek gaan van nou af self ook eers probeer om als wat ek wil skryf, as haikoe te skryf. Dis ’n fantastiese manier om jou digterlike oog in te stel en jou te herinner dat digkuns op die ou end niks anders as dissipline is nie.

 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


   

  • 4

Kommentaar

  • François Verster

    Het daai laaste sin van jou ook al gedink – toe ek ’n paar jaar gelede ’n klompie haikoes probeer het vir Strijdom vd Merwe se landkuns-uitstalling van baniere by die KKNK. Soos artikelskryf mens leer woorde tel, so lyk dit my (as leek), leer haikoes mens ook – beslis meer so as die vrye vers – jou woorde tel; lettergeep vir lettergreep (kry jy ’n greep op die letters! 🙂

    Wat die kompetisie betref: dankie vir die geleentheid – so waag ook amateurs soos ek om ons skilpadnekkies uit te steek.

    Francois

  • Karin Prinsloo-Stuart

    Haikoe skryf, is my gunsteling stokperdjie. Dit is 'n uitdagende spel, wat ek nét met myself kan speel. Sommige mense speel Solitaire; ek Haikoe.

     
    Ek is 'n babbelbek en weet helaas selde wanneer om op te hou lawaai maak. My kop is vol wonderlike woorde en dit borrel sommer vanself uit my mond.
     
    Wanneer ek dus Haikoe skryf, probeer ek om binne die beperkende reëls en bepekte lettergrepe, so veel as moontlik te sê. Die enigste uitweg wat ek dus gewoonlik het, is dubbel- en meersinnigheid. Elke woord moet méér sê as die letters waaruit hy bestaan.
     
    My ander gunsteling digvorm is die Kwatryn. En om amper presies dieselfde redes as hierbo. Minder rigied, maar nét so uitdagend.
     
    K 🙂
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top