Moenie nou omkyk nie, maar daar het nou net ‘n man met ‘n komieklike hoed agter jou gaan sit,” fluister Liza terwyl sy vooroor leun en my op die neus tik.
Dis ‘n heerlike agtermiddag. Daar is nie eens ‘n briesie in die lug nie. Die paar toeriste wat bedeesd voor die stoep van Ava-restaurant verbyslenter, kontrasteer skerp met die ietwat luidrugtige studentegroepie op die balkon oorkant die straat. ‘n Glasie wyn op ‘n Saterdagmiddag by Ava is nie eintlik my nommer-een-keuse nie. Ek sou eerder uitgestrek met ‘n bier in die hand by Supersport ingeskakel wou wees.
Liza het vroeg begin karring dat ons die nuwe filmdorp buite Stellenbosch op die Macassar-pad moet gaan besoek. ‘n Amerikaanse filmvervaardiger bou dit vir die skiet van ‘n seerowerreeks, Black Sails, wat uiteindelik wêreldwyd vrygestel sal word.
Vandat Liza daarvan te hore gekom het, het dit haar geprikkel. Ek kan maar net raai dat haar belangstelling aangevuur word deur haar vriendin Janine, wie se firma betrokke is by die logistieke rondom die projek. Die romantiek van die tema skop sterk in by die vroulike geslag op ons dorp.
Ek het probeer skerm. “Haai Gogga, ons sal nie veel kan sien nie; dis nog in die boustadium. Ons gaan net in die kontrakteurs se pad wees.”
“Moenie met verskonings kom nie, mannetjie,” het sy my aangevat. “Janine reken hulle is agter met hulle program en werk nou sewe dae per week om in te haal.
“Kom ek sê jou wat, kom ons doen iets anders, dan kan jy volgende week as dit stil is by die spreekkamer, wegbreek en saam met Janine gaan.”
“Ha-ha, stil? By die spreekkamer? Moenie my laat lag nie.” Behalwe haar suksesvolle praktyk is Liza ook die dorp se assistentpatoloog. Dis vanselfsprekend dat sy ‘n af Saterdag soos vandag maksimaal sal wil benut.
“Nou goed mannetjie, geen rugby en geen Black Sails nie. Dit los jou met een van twee keuses: óf ‘n kunsfliek by die Waterfront, óf ‘n glasie wyn by Ava.”
“Wat bedoel jy met ‘komieklik’?” vra ek en skuifel skuins vir ‘n vinnige loer sodra sy die teken gee. Ons het dit al vervolmaak om omstanders dop te hou en onderlangs te bespreek. ‘n Onbewuste kandidaat word summier herdoop as ‘n akteur of sportman as daar net die vaagste sweem van ‘n ooreenkoms is.
Soms sal ons selfs ‘n geselsie aanknoop en dan later lekker debatteer of die proefkonyn wel sy of haar naamgenoot se skoene sou kon vul al dan nie.
“’n Cowboyhoed-man,” giggel sy, “soos John Wayne. Maar hy lyk eerder soos Johnny Depp.”
Johnny Depp in ‘n cowboyhoed! Dit moet ek sien. Toe sy na ‘n minuut of wat knik, draai ek om en maak of ek ‘n kelner se aandag wil trek.
Gewoonlik assosieer ek cowboy-hoofbedekkings met luidrugtige Amerikaners, of met gryskop-omies wat evangelistiese saamtrekke lei.
Maar hierdie een was anders.
Ek herken die hoed onmiddellik as een van die tipes wat die straatverkopers knaend aan verbygangers probeer afsmeer. Dit lyk of dit half ongemaklik pas, want hy is juis besig om daarmee te peuter. Sy tafel is in die hoekie van die stoep en sy sonbril, gepaard met die hoed, skep wel ‘n komieklike prentjie.
“Johnny Depp se alie, man, eerder Woody Allen,” fluister ek en sy knik instemmend.
Die draer se gesig is skraal en bleek. ‘n Potloodsnorretjie beklemtoon sy dun lippe en skerp neus. Sy wit langmouhemp is tot bo toegeknoop. Deur die tafel se glasblad sien ek dat hy ‘n rugsak tussen sy bene vasklem.
‘n Kelnerin staan geduldig vir sy bestelling en wag. Dit is duidelik dat sy nuut is, want sy is nie so selfversekerd soos die ander nie.
Sonder dat hy opkyk, gly sy benerige vinger deur die spyskaart en tik dan ongeduldig op ‘n besluit.
“Versekeringsagent,” spekuleer ek en wag.
“Onderwyser,” reageer sy met ‘n skalkse laggie. Haar oë spel duidelik: “Ek dare jou.” Ek knik en sy lig ‘n vuis waaruit twee vingers steek. Dit beteken in Theron-taal dat daar twintig rand op die spel is vir die een wat die naaste aan reg is.
Ek was op die punt om in my stoel om te draai en ‘n gesprek te begin aanknoop toe Liza my liggies aan die arm pluk.
“Wag eers, hier kom sy bestelling,” fluister sy. “Ons mag dalk wenke daaruit kry ...”
“Kan jy glo, ‘n bord slaptjips en ‘n glas water,” fluister Liza ‘n paar minute later, “en kyk net hoe slurp hy die tjips op. Nie eens ‘n versekeraar het so min styl nie. Wil jy hom uitvra?”
Maar ek antwoord nie. Loeiende sirenes wat vinnig al hoe intenser word, sal my stem heeltemal verswelg.
“Seker weer ‘n hengse ongeluk op die R44,” spekuleer ek toe dit stiller raak. “Ook maar goed ons het nie uitgery Macassar toe nie.”
Sy wil antwoord, maar dan lui haar selfoon. Haar oë verdonker as sy die inligting op die skerm herken. Sy wuif ‘n verskoning en mik na die restaurant se ingang.
“Ja Goodman, wat’s fout?” hoor ek haar in die wegloop. Dis haar baas, die staatspatoloog. Dit moet ernstig wees.
Terwyl ek haar bekommerd agterna kyk, hoor ek ‘n beleefde kuggie agter my. Dis die kelnerinnetjie van netnou.
“Uhm, verskoon my Meneer, jammer om te pla, maar …”, en dan begewe haar moed haar en sy probeer verleë wegbeweeg.
Ek stel haar vinnig gerus: “Nee, ons is nie op pad nie, my vrou het net gou ‘n draai …”
“Dis nie ‘n probleem nie,” onderbreek sy my. “Ek wou net vra van die man wat hier in die hoek gesit het. Weet u dalk of hy gaan terugkom?”
“Agge nee,” simpatiseer ek. “Het die ou jou werklikwaar geloop sonder om te betaal? Hy is dalk net toilet toe.” Ek ken Frans, die eienaar, goed genoeg om te weet dat sy die tekort van haar fooitjies sal moet aanvul.
“Nee,” skerm sy vinnig “hy is nie daar nie – ek het iemand van die kombuis gevra om te gaan kyk.”
“Ag, ek is jammer man; ek sal van my kant af ‘n groot fooitjie los.”
“Geen probleem nie, Meneer, dit was gelukkig ‘n klein bestelling.” In die omdraai hoor ek hoe sy “blerrie maergat bliksem” mompel en glimlag onderlangs ten spyte van die krisis wat broei.
“Paul, ek moet gaan, dis dringend!” roep Liza toe sy by die deur uitgedraf kom. Koppe draai na ons toe en ek skuif agteruit.
“Nou kom, laat ek net gou betaal, dan gaan ons.”
“Nee, nie tyd nie. Bly jy en sorteer alles uit.” Sy gryp haar handsak en fluister in my oor: “Gesinsmoord in Paradyskloof – sal later verduidelik. Vra vir Frans om vir jou ‘n lift te reël.”
Dan is sy weg en ek sien Frans uit die hoek van my oog aangestap kom.
“Haai Paul jong, wat’s fout? Is daar ‘n ongeluk? Al die sirenes?”
“Ja hallo Frans, die hospitaal het vir Liza laat roep. Nogal op haar af dag, so dit moet ernstig wees. Ek weet niks anders as dat dit iets met ‘n gesinsmoord te doen het nie.”
“O bliksem, Stellenbosch het nie so iets in die middel van die seisoen nodig nie. Ons sal meer moet uitvind. Laat ek bietjie dink … dalk Buitie – laat ek hom gou bel”, en hy reik na sy broeksak.
“Buitie? Ken hom nie – wie is hy?”
“Buitendach, die munisipale bestuurder. Hy is nogal skerp; goeie tjom van my.” Hy waai na iemand wat hy by ‘n ander tafel herken en mik vir die deur. “Sal jou nou-nou laat weet.”
Tien minute later is hy terug. “Dis blerrie erg jong. Ons het ‘n potensiële massapaniek op hande, so ek sal maar sag moet praat.”
“Hoe bedoel jy? Ek dog dis net ‘n … ‘n gesinsmoord?”
“Nee o hel, hulle is besig om ‘n kordon om die dorp te onplooi. Die bliksem is in die strate los met ‘n vuurwapen en ‘n boks vol koeëls. Ons kan nie dat my klante nou daarvan te hore kom nie. Hulle sal mekaar vertrap.”
“Ek verstaan nie, jy praat te deurmekaar. Begin van voor af.”
Hy druk my in die rigting van die restaurant se ingang.
“Vier-en-dertigjarige man wat amper sy hele gesin uitgewis het. En het sommer op die bure ook losgebrand.”
“O jissie tog, bedoel jy daar is … was iemand wat dit oorleef het?”
“Man, Buitie kon nie lank praat nie, maar blykbaar is ‘n vrou en twee kinders dood en een kind ernstig in die hospitaal.”
Ek knik en sug hardop. “Maak sin dat hulle vir Liza ingeroep het. En die omstanders?” vra ek sag. Ek moet ‘n idee probeer kry van hoe lank my vrou besig gaan wees.
“Net een casualty, maar nie ernstig nie. Die buurman oorkant die straat is in sy voet geskiet. Hulle kon darem ‘n redelike verklaring by hom kry. Die man, dis nou die skieter, is glo ‘n aggressiewe klein kak ... sy job verloor en van toe af alewig aan die skree op sy familie. Die polisie is oortuig daarvan dat hy nie sal skroom om te skiet as hy enigsins gekonfronteer word nie.”
“Maar wat is dit met al die sirenes hier in die dorp? Die man is teen hierdie tyd al … Bellville verby.”
“Hulle het sy motor hier bo in Kerkstraat gekry. Skaars twee blokke van ons af.”
“Dink seker hy sal makliker wegkom per voet? Dit … dit beteken dat hy hier iewers ronddwaal of wegkruip?”
“Moet wees – dis hoekom ek sê dat die kans op potensiële paniek groot is. Dis erg, man. Die buurman het gesien hoe die man die rewolwer en ‘n boks patrone in ‘n rugsak prop voor hy in sy motor gespring het.”
‘n Koue rilling gly teen my ruggraat af. My een been vou onder my in en ek gryp net betyds na die stoel. Ek voel hoe my lyf onbeheerst aan die bewe gaan.
Frans buk verskrik oor my. “Paul is jy oukei? Vir wat bewe jy so?”
“Die man, die … moordenaar, hoe lyk hy?” My stem klink ver; asof dit my liggaam verlaat het.
“Haai man, jy is vrek bleek,” sê hy. Hy steek sy kop by die kantoordeur uit en skree vir ‘n glas water.
“Hoe lyk hy?” vra ek weer en is verlig dat my stem besig is om na normaliteit terug te keer.
“Buitie wou nie uitbrei nie, maar die polisiehoof het glo gedreig het dat hy ‘die maergat aan sy eie dreadlocks gaan ophang’ as hy hom vang.”
“Dreadlocks, jy … jy bedoel lang hare? Dan is dit die rede vir die hoed,” prewel ek en skud my kop vir helderheid.
“Paul jong, ruk jouself reg, die mense kyk vir ons. Wat babbel jy so oor ‘n hoed?”
Ek sit ‘n oomblik voor my en uitstaar en draai dan stadig na Frans.
Ek vertel hom van die man wat reg agter my gesit het. Van die rugsak, die sonbrill sy gepeutery met die hoed. Hoe naby ek aan my dood was; op die punt om ‘n simpel speletjie met ‘n moordenaar wat in ‘n hoek gedryf is, te speel. Van sy verdwyning toe die sirenes nader gekom het.
Hoe meer ek praat, hoe meer bekommerd raak Frans. Hy wring sy hande inmekaar en loop op en af in sy kantoor. “Maar … hoe weet ons dat hy nie dalk nog hier op die perseel is nie? Ons sal die polisie moet laat kom,” stotter hy en reik na die telefoon.
“Nee, hy is weg. Jou mense het klaar by die toilette gaan kyk. Sy bord skyfies verslind en laat spaander.”
Frans steek in sy spore vas. “Bord skyfies? Het jy gesê dat hy ‘n bord skyfies bestel het?” vra hy en gaan op die punt van die lessenaar sit.
“Ja, en ek moet sê, hy het omtrent met sy bestelling gewik en weeg voor hy besluit het. Ek en Liza kon nie glo toe hulle die skyfies en glas water voor hom neersit nie.”
Die bekommerde uitdrukking op Frans se gesig verander eers na verbasing en dan na iets anders, iets amper … geamuseerd.
“Haai ou Paul jong, wil jy my kom vertel dat hierdie trigger-heppie malman, hierdie ou wat vir die hele polisiemag aan die weghardloop is, jou werklikwaar hier by my restaurant sal inwals en ‘n bord skyfies kom opslurp?”
“Huh … Hoe moet ek weet wat in die ou se gedagtes aangaan? Sulke mense doen mos sulke … uhm … irrasionele goeters, of nie?” Ek probeer met moeite my ongemak wegsteek en half-skel op hom. “Nou wat het die bord skyfies nou eintlik met hierdie saak te make?” Dis nou my beurt vir sarkasme. “Sou dit anders gewees het as hy ‘n pasta bestel het, hè?”
“Ag ou Paul man, bedaar. Jy het vandag die eer gehad om my stoep met Mister Connelly, beter bekend as Ou Slaptjips, te deel.” Hy lag dat die trane loop.
Dan skep hy hard asem en verduidelik: “Mister Connelly, wat terloops doofstom is, is vir die afgelope paar maande ‘n gereelde besoeker. Snaaks dat die kelnerin nie van hom weet nie. Hy ry minstens vier, vyf keer ‘n week hierheen net om ons skyfies te kom eet. Mal daaroor.”
Frans weifel ‘n oomblik en gee my ‘n gerusstellende drukkie op die skouer. “Hy is so weerloos soos ‘n dooie weeluis, man.”
“Wat bedoel jy – is hy nie …?” Maar hy onderbreek my met ‘n laggie.
“Nee man ou Paul, ek twyfel sterk of hy ooit in sy lewe getroud was, never mind ‘n spul kinners gehad het. Alleenloper se moses. Hy is deel van die fliekmakers hier buite die dorp.”
“Maar die sak wat … wat hy so aan vasklou?” Ek voel soos ‘n gek en probeer my handelinge lomp verdedig. “Jy moes sien hoe beskermend hy daaroor was.”
“Ag ou Paul, ek vermoed dat hy dalk met hul Health en Safety of Kwaliteitbeheer of iets te doen het, want sy neus is gewoonlik, so tussen die skyfies deur, in ‘n spul papiere begrawe. As dit sulke tyd is, durf nie een van ons naby hom kom nie.”
“Doofstom of te not, die donner het verdwyn sonder om te betaal. Nou moet die arme meisiekind …”
Maar hy onderbreek my met ‘n waai van sy hand. “Ag moenie worry nie, sy weet obviously nie van die gentlemen’s agreement wat ons met Ou Slaptjips het nie; hy vereffen sy rekening elke einde van die maand.”
Sy selfoon piep ‘n SMS en hy lees dit. “Dis Buitie. Hulle het die ou ...” – en dan knipoog hy vermakerig – “die régte ou ... gevang.”
“Hoe, waar?”
“Definitief nie besig om slaptjips te eet nie, my ou maat!” bulder hy en klap my hard op die skouer. “Hulle het die drommel in die munisipale toilette by die parkeerterrein uitgesnuffel.”

