Die byvoordele van maskers

  • 0

Foto: Pexels.com

Saterdagoggend 8h30 breek daar ’n brand uit in een van die groot woonstelkomplekse tussen Tafelbaai en Melkbosstrand.

’n Kragonderbreking is net verby en ek maak my eerste beker koffie. Ek hoor die geloei van brandweerwaens, maar nie op die Weskuspad soos gewoonlik nie. Skielik is dit reg onder my op die kompleks se private pad. Dit klink of hulle verby ry na die volgende blok van die kompleks. Dan hoor ek ’n dawerende megafoonstem waarvan mens nie taal of woorde kan uitmaak nie, maar wel dringendheid. Ek ruik rook. Teen my badkamer se plafon begin grys rookdampe versamel. Brand in my blok! Die megafoonstem is ’n ontruimingsbevel.

My vlugkodes skakel aan. Ek word onmiddellik buitengewoon prakties en vinnig. Masker, bra, sleutels – masker want daar is nie tyd om tande te borsel nie; bra al gaan dit ekstra sekondes vat, want ek is bo sestig; sleutels want daar is net twee bosse en die tweede een is by die eienaar in ’n ander dorp.

Ek vergeet heeltemal van die virus.

Daar is nog nie tekens van hitte of vlamme nie. Geen paniek nie, dink ek terwyl ek by die brandtrap afstap, moenie nou val nie. Die trap eindig op die eerste vlak waar ek in brandweermanne met monstrueuse maskers vasloop. Op die trap na buite moet ek vir hulle en ’n menigte brandslange opsy staan. Vlak een se portaal is vol rook en blougeel uniforms.

Drie brandweerwaens waarvan ’n jong seun net kan droom, staan dig op mekaar voor die uitgang. Blykbaar hoef niemand gered te word nie.

Onder die inwoners ken ek net drie by die naam en ’n paar ander van sien. Soos tipies by gedeelde penaries en sensasies, begin wildvreemdelinge spontaan met mekaar praat, party met en party sonder maskers.

“Dankie tog vir maskers. Ek kon nie my tande borsel nie. Ons bly langsaan!” Dis ’n jong vrou wat ek nie ken nie.

“Ek kon ook nie,” sê nog iemand van agter ’n masker.

“Ek moet ook nog my tande borsel.” Dis Elfrieda wat praat met haar selfoon voor die mond. Sy het ’n eksotiese jas van wit sy met swart patrone aan. “Dis my kamerjas. Dit was die naaste ding wat ek kon gryp. Ek het dit laat maak en toe kry ek dit gister. Seker spesiaal vir vandag!”

“Ek is seker die heldin van die verhaal,” sê my onderbuurvrou Anna Kampinsky met haar Poolse aksent.

Sy het ’n knal gehoor. Toe sy die deur oopmaak, sien sy rook trek uit die oorkantste woonstel. Haar selfoon moes nog laai. Sy het in haar motor na die veiligheidshek 200–300 meter verder gejaag.

My naasbuurman, ’n stug Bulgaar, tree nader. “Die rook kom van onder af op in die pype,” lê hy uit. “Nie van bo af ondertoe nie. Dis hoekom jou en my woonstelle net so vol rook gaan wees as mev Kampinsky s’n.”

“Ek gaan my masker binne-in die woonstel aan hou. As ek weer daar kan ingaan,” sê Anna.

Na anderhalfuur kom die laaste brandweermanne met druppende slange terug na die waens en begin regmaak om te vertrek. Alles is onder beheer. Daar was niemand tuis in 03 nie.

Die rookreuk hang swaar in my portaal en woonstel op die tweede vlak. Iemand het die deur na die brandtrap oopgemaak en die noodbrandblusser aan die muur gebruik om dit oop te hou. Die suil waarin die sementtrap af en op loop stink van die rook.

As ek later die middag af loop om ’n sak afvalpapier te gaan weggooi (die hyser werk nie), loop ek my vas in ’n vrolike bondel vroue in rooi rokke, sommige besonder elegant met swart hoëhakskoene. Hulle sukkel, kug, hou hand voor die mond en trek aan hulle bagasie. Niemand dra ’n masker nie.

“Julle moes maar julle maskers onthou het, dames,” sê ek pedanties.

Die aand merk ek dat my voete vuil swartgrys spore op die teëlvloer in die badkamer maak. As, so dun soos stof. Met my masker op maak ek die vloer op my knieë skoon om seker te maak dat daar nie as in gaatjies skuil nie.

“Weet jy hoe bly is ek oor wat Ramaphosa oor maskers en inperking gesê het,” sê ’n vriendin vir my die Dinsdag na die President se rede oor die tweede koronavlaag. “Ek het ’n groot kroon voor in die mond verloor en die spesialis is klaar weg met Kersvakansie. Gelukkig móét almal nou oral maskers dra.”

Nie net maskers het byvoordele nie. Noudat daar sedert Dinsdag weer ’n aandklokreël is, gaan die Weskuspad wat anderkant die vlei voor my balkon verbyloop, vanaf tienuur saans stil begin word. Ek sal weer die waterhoenders diep in die nag kan hoor. Daar is altyd een wat in die water skarrel of iets het om oor te raas. As ek links draai, kyk ek oor die dak van die voorste deel van die kompleks. Van daar kan ek saans die see hoor asof iemand ’n klankversterker op die dak gebou het. Dit druis ononderbroke, maar dit besef jy net as dit stil is. Ek hoor hoe die branders neerslaan op die sand, dan die pouse as die water terugtrek. In my verbeelding sien die lang brander wat strek van Sunset Beach tot Marine-rylaan. Dis nie ’n baai nie, maar ’n hele oseaan wat hier aan die werk is.

Ek staan op die balkon en haal net asem. Môre sal die vars lug die woonstel verder skoonwaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top