Die Bybel so "tussen die lyne en die lakens"

  • 9

Soms as ek die “Bybel oepeslaan” om daaruit te “lies” (met verskoning aan Adam Small) dan kan dit nogal heelwat pret verskaf. Soos nou die dag weer, toe val hy sommer oep op Genesis 18.

“Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, kyk hy op en sien drie mans daar staan.”

Dit kan nooit anders as die Drie-enige God(e) wees nie, dink ek by my sigselwers en die bome moet daardie pratende bome wees. Dalk het hulle nog die storie geskryf, want wie anders het gesien wat nou hier plaasvind?

Abraham kniel voor hulle en nooi hulle uit om ’n stukkie brood by hom te kom eet voor hulle verder gaan. En dis nie sommer so ’n stukkie brood nie, dis brood der brode:

“Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.”

My vrou het nou die dag anysbeskuit gebak. Daarvoor het sy 2,5 kilogram meel gebruik. Nou kyk, sy het geknie, ek het geknie, my seun het geknie, my dogter het geknie, ek het weer geknie, en om seker te maak dis geknie, het my vrou weer geknie. Nadat dit gerys het, was dit ’n berg deeg, en nadat dit gebak is, het dit vyf koekblikke vol gemaak. Alhoewel arme Sara nou al dood is, het ek haar bitter jammer gekry, maar kon darem ook nie help om te lag nie. Wat weet bome nou van kilogram af.

“Daarna het hy (dis nou Abraham) na die beeste toe gedraf en ’n mooi jong kalf gevat en vir ’n slaaf gegee om gou voor te berei.”

’n Ou man van in die negentig jaar en hy draf beeste toe? (Hoe lekker lag ek nou.)

Toe alles gereed is, het die mans en Abraham begin eet, maar Sara het nooit haar verskyning gemaak nie, want na die ete vra hulle (dis nou die drie mans asof in ’n koor): “Waar is jou vrou Sara?”

So asof hulle nie geweet het sy is in die tent nie. Hulle was tog immers naby en om die tent toe die ouman Abraham so gedraf het beeste toe? Hulle moes tog gehoor het hoe sy worstel met die knieëry en bakkery? Dalk het hulle stilletjies kom help daarmee, want na die etery, sê een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom en dan sal jou vrou Sara ’n seun hê.”

G’n wonder Sara het so lekker gelag nie, ten spyte van die sestien kilogram meel, want nou het sy ’n brood in die oond gehad.

Groete
Angus

  • 9

Kommentaar

  • Angus — ek kon nou nie help om soos Sara by myself te lag nie en het eers gou my Bybel by  Gen. 18 'oepgeslaan' om seker te maak dat jy nie lieg nie. Daar staan dit jou wragtig, alles net soos jy sê!

    Groete

    Panda

  • Panda, my vrou het kom kyk waarom ek so skaterlag. Sy gee jou volpunte vir jou reaksie. Sy stem saam met jou, want as ek iets sê, moet  sy ook eers gaan naslaan of dit so is.

     
    Jan Rap, volgens die Bybelkonkordansie van ds. CF Mijnhardt is 'n maat = een en 'n derde Gomer, en 'n Gomer is ongeveer vyf liter. Ek weet nie wat 'n liter meel weeg nie. 
     
    Groete
    Angus
  • Kobus de Klerk

    In Genesis 18:6 is die Hebreeuse woord  "sehaw" - wat eintlik met  "measure/maat; ephah/efa" vertaal word - 1 maat is ongeveer een-derde efa - 'n efa is ongeveer 22 liter droë inhoudsmaat, of ongeveer 36,4 liter gerese (klam) inhoudsmaat. Dus 3 mate is ongeveer 16-22 liter. Die verwysing na kilogram in die Nuwe Vertaling is waarskynlik 'n drukfout en moes eerder liter gelees het - dit is die probleem met nuwer vertalings.

    'n Maat meel se brood is genoeg vir 'n volwasse man se ete en vir sy padkos - 'n vaste gasvryheidsgebruik van destyds om jou gas te voorsien van padkos by sy vertrek.

    Mans en vroue het daardie tyd nie saam aan tafel geëet wanneer daar gaste was nie, maar apart. Maar dit was gebruiklik vir die gaste om agterna na die gasheer se vrou te verneem om haar te bedank en haar met goeie wense te laat. Dit was onvanpas vir die vrou om sommer haar opwagting te maak, en absoluut ongehoord vir die manlike gaste om sommer  na die tent te stap waar die vroue is, al het hulle goed geweet waar die vrou is. Daar word gevra "waar is u vrou?" en dan is die vrou deur haar eggenoot  man uitgewys, wat beteken dat die gaste haar mag aanspreek. Angus se onvanpaste aanmerking oor hulle na haar gevra het getuig van sy stomme onkunde oor basiese geskiedenis aangeleenthede - dit kan nageslaan word.

    Miskien het dit Angus ontgaan, maar daardie tyd was daar nog nie motors of koetse nie - die mense was uiters gehard en superfiks en was dit sekerlik nie vir Abraham 'n probleem om op 90 jaar te draf en 'n kalf aan te keer, nie - hy het immers nog 85 jaar lank daarna gelewe. Gegewe ons eie maraton legende, Wally Hayward, wat ouer as 80 was toe hy nog die comrades maraton gedraf het...  daarom, Angus kan nie, omdat hy afgeleef en verslete voel, meen dat dit destyds ook so was met mense nie.

    Insiggewend hoe 'n agnostikus sy naam kan jis maak weens sy onkunde en natuurlik, insigloosheid.

    Een ding is seker - Angus is dalk al afgeleef en oud, dit klink so, maar hy het nog nie volwasse geword nie...

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Angus, jou siek en versteurde gespot met God en Sy Woord, sal jou baie duur te staan kom - God sal jou dit vergeld - onthou, wanneer dit gebeur, dat jy nie wonder waarom nie...

    Kobus de Klerk

  • Ja, Kobus, ek sien God se Woord is maar taamlik vol van die drukfoute. Ons sal God maar verskoon, want enige man kan foute maak.

     
     
  • Angus

    Onthou net een ding, wie spot sal mee gespot word,  Pasop dat jou gespot en draakstekery oor die Bybel en oor God jou nie nog duur te staan gaan bring nie. 

    Alhoewel ek die Nuwe vertaling verkies, dink ek die vertalers het 'n berekeningsfout begaan, maar niemand is volmaak nie.  Neem maar jouself, hoeveel keer slaan jy nie hier (openbaar) jou naam met 'n plank nie.  Hier het jy dit weer gedoen. 

  • Angus,

    Dis jammer dat jy so reageer. Eendag, (wat nader is as wat ons regtig besef) gaan dinge terugkom na jou. Ek hoop van harte dat jy jou siening gaan verander, en op jou knieë gaan. Almal van ons maak foute, maar dit wat jy doen is doelbewus. Lees gerus van Lasarus (Luk 16 :19 - 31). Ek sal graag saam jou eendag in die Hemel wees. Hou op spot, om jou eie sieninge te regverdig.

    Ek bid vir jou

    Fani

  • CorneliusHenn

     

    Beste Angus,    

     

    Na alles is dit tog duidelik uit die kommentare hierbo; die pyle in jou koker is gewis die verafgoding van die Bybel as die Woord van God (Jesus Christus onse HERE), deur naïewe en gebreinspoelde Bybelaanbidders ... hierdie Bybelaanbidders (jou strooipoppe dan), veronderstel in hul verafgoding dat die Bybel, nes God, volmaak moet wees ... vandaar die pret wat jy kan het met hul vaste vertroue op die ink en papier van hierdie besonderse bundel Heilige Skrifte (wat ook maar net 'n klein versameling, uit vele ander, aan die mens geopenbaar is) ...    

     

    Namaste!    

     

    Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, en katolieke groete,    

     

    Cornelius Henn

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top