Titel: Die brug van ongesêde dinge
Skrywer: Elna van Niekerk
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 9780620976428
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Een kenmerk wat ’n gedig kwalifiseer as goed, is die vermoë van die digter om iets te sê sonder om iets te sê. Dis die ongesêde dinge, die implikasie, wat sorg vir misterie en ’n betekenis wat jou tussen die oë tref.
Hierin slaag die digter Elna van Niekerk, van wie daar gedigte in Nuwe Stemme 6 (Tafelberg, 2017) en in die Sol Plaatje European Union Poetry Anthology (2018) opgeneem is, in haar debuutbundel, Die brug van ongesêde dinge. Veral in Deel I, “By-die-dinge”, waar noukeurige beskrywings van dinge, die hele gedig, ’n metafoor word vir iets anders:
Stergesél
Ek was verloof aan Orion …
Hy het tóg teruggekom
met ’n slenterstorie
oor die donkerkant van die son
die aarde se kantel
die sterre se wentel
’n jagtog óm die ewenaar.
Op ’n soel, sterlose nag
het ek toe,
aardgebonde,
hom en sy hemelse hond
die deur gewys.
(bl 17)
Haar bundel handel dan ook oor die ongesêde dinge wanneer kommunikasie ontbreek tussen mens en mens, mens en dier, en die mens en die natuur. Deel IV, die grootste afdeling in die bundel, is dan ook getiteld “Ongesêde dinge”.
Daar is die dinge wat ons nie mag sê nie:
saamwoon
ek kan nie aan jou heilige koeie raak nie
en jy nie aan myne nie …
ons haat mekaar te veel om
gesamentlik te ontruim.
(bl 68)
Daar is die dinge wat ons nie kan sê nie:
Die kinders van Kigali
[…]
voor jy die saal uitgekyk het,
drup hulle bloed oor jóú elmboë
wat die kapmes swaai …
jy huil in jou afgekapte hande
(bl 99)
Daar is die dinge wat ons nie wil sê nie (maar wat tog tot uiting kom):
smokescreen
[…]
dit is ongeskryfde sinne
wat jy frommel
om verby jou rookroetvingers
in die druis van die skoorsteen vlam te vat
in die oggend lê die as
in die vorm van woorde
(bl 13)
Daar is die dinge wat ons liewers nie moes gesê het nie:
Die brug van ongesêde dinge
[…]
Tussen afwagting en angs
is ’n delikate brug van ongesêde dinge,
’n afgrond in elke versigtig gekonstrueerde sin.
Een roekelose tree en alles tuimel …
dwarsdeur die fyn vangnet
van ’n ordelike lewe.
(bl 79)
Dis die dinge wat gesê moet word, maar versteek word:
Die seuns van Dinokana
[…]
Hulle geboortereg is weggevat.
Hulle woon in ’n vallei
bo-op fonteine wat wegsypel
voor hulle daaruit kan drink …
… hulle oë bly droog
smeul
in die lig
van bande wat smelt
en donker vloei
van Komatipoort tot Skilpadhek.
Hulle tingerige lywe
skiet wortel
na onder,
rank na bo.
Hulle tone vind die donker waterstrome.
(bl 86)
En dis ook die dinge wat nie woorde benodig nie:
Boombrug
[…]
Die oomblik toe ons hande raak,
kyk hy in my in
dwarsoor dekades van verset.
Ons wit en bruin hande word
strengels van die omgevalle boom.
(bl 67)
Die brug in hierdie bundel dui op die afstand en die drang na versoening tussen mens en mens (in Afrika, maar ook tussen die spreker en die geliefde), tussen mens en die natuur (veral diere) en selfs tussen die mens en God. Deel III beslaan beeldryke gedigte oor ’n plaas in Limpopo, terwyl deel IV psalms aan diere bevat. In hierdie afdeling is een van my hoogtepunte in die bundel, ’n vers wat herinner aan “Vuurbees” deur DJ Opperman, en soos ek verstaan, handel dit oor die dier in die mens en die verbintenis tussen mens- en dierwees:
Buffel
My tronkbewaarders is vier (nie-metaforiese) buffels …
My gister en môre
knoop ín die dier,
in ’n buffelvormige skaduwee
wat oor my heelal val.
(bl 49)
Eensaamheid en stilte is ’n deurlopende tema in hierdie bundel en die digter slaag daarin om die nodige atmosfeer te skep deur middel van klank en die wit spasie rondom die gedig:
sarkofaag
miskien is dit in hierdie huis
waar ek sal doodgaan:
stik aan ’n appel
of ’n lemveeg bloed …
ek weet klaar
dit sal net so stil wees
soos nou
(bl 14)
Dit is natuurlik so dat nie al die gedigte met ’n leser sal resoneer nie en soms was ek nie seker of dit so is omdat ek nie met die digter se leefwêreld vertroud is nie en of van die verse werklik ’n bietjie obskuur is nie. Dit was vir my die geval in deel I. Dat Van Niekerk vroeër ’n busbestuurder was, het wel gehelp om die laaste afdeling, “Busrygedigte”, wat ook grotendeels oor die Kerkstraat-bomontploffing in 1983 handel, te verstaan. Deel II, “Kort verse”, se titel het afgewyk van die poëtiese toon van die ander en ek het gewonder of hierdie verse nie deel kon gewees het van ander afdelings nie. Dalk was dit bedoel as oorgang tussen die swaar, meer obskure gedigte van deel I na die beeldryke gedigte van deel III.
Die brug van ongesêde dinge was egter, ter opsomming, ’n genotlike, fassinerende leeservaring. Dis liriese, beeldryke verse wat weer en weer gelees kan word.