ek soek ’n mond so wyd soos die lug
om die aard van ’n Ware Mens te verwoord
so groot soos die verlange
die brose houer binne-in my breek dikwels
geen wonder ek raak mal en verdwyn vir drie dae elke maand
saam met die maan nie
vir enigiemand wat verlief is op jou
is dit altyd hierdie onsigbare dae ...
ek het die draad van my storie verloor
my olifant omswerf alweer sy droom van Hindoestan
narratiewe, poëtiese praatjies het my liggaam verwoes
’n oplossing, ’n terugkeer
Vriend, ek het tot ’n haarbreedte gekrimp in my poging om jou storie te vertel
sal jy myne vertel?
ek het al soveel liefdesverhale opgemaak
nou voel ek skoon fiktief
vertel mý!
die waarheid is dat dit jy is wat praat, nie ek nie
ek is Sinaï en jy is Moses wat daar stap
hierdie gedigte ’n eggo van wat jy vertel
’n stuk land kan nie praat – of enigiets sê nie!
of, as dit kan, slegs binne perke
die liggaam is ’n meet-apparaat
die sterrehoekmeter van die gees kyk daardeur
en raak oseanies
hoekom hierdie afgeleide praatjies?
dis nie my skuld dat ek so aangaan nie
dis deur jou toedoen
my liefdeswaansin – dra dit jou goedkeuring weg?
sê ja
In watter taal sal jy dit in sê – Arabies, Persies, of wat?
weer eens moet ek vasgebind word
bring die krultoue van jou hare
nou onthou ek die storie
’n eerbare man staar na sy ou skoene en skaapveljas
elke dag gaan hy op na sy solder om te kyk
na sy werkskoene en sy verslete jas
dít is sy wysheid
om die oorspronklike klei te onthou
en nie dronk te raak op ego en arrogansie nie
die besoek van daardie skoene en jas
is ’n lofsang
die Absolute Een werk met niks
die werkswinkel, die materiale
is wat nié bestaan nie
probeer om ’n skoon stuk papier te wees
wees ’n kolletjie grond waar niks groei nie
waar iets dalk geplant mag word
’n saadjie, dalk, van die Absolute Een
Vertaling van oorspronklike gedig deur Rumi.

