Die bron van die Engelse "spanner"

  • 4

Gedink ek sal dit aangee vir diegene wat belang stel.

Woordeboek (boekvorm) : Encarta world English Dictionary : Bloomsbury Publishing 1999
 
spanner noun (bladsy 1796) : From German, formed from spannen (see SPAN¹)
 
SPAN¹ (bladsy 1795) 
 
Verb transitive. Ultimately from a prehistoric Germanic word that also produced German spannen "to stretch":
(Source of English spanner)
 
Met "stretch" bedoel hulle seker soos om 'n rek of snaar styf te span.
Lag maar Angus, myns insiens is Duits nader aan Afrikaans en nie 'n bedreiging vir ons taal nie.
 
Groete,
 
Tiens 
  • 4

Kommentaar

  • Beste Tiens en Jan Rap,
    Dan is alles mos in die haak: Engels is basies 'n Germaanse taal, met Romaanse woorde wat deur ontlening verkry is. Ons kan dus na willekeur Engelse woorde gebruik, want oorspronklik was hulle mos of Germaans of Romaans. Al wat ons doen, is, ons sê die woord kom nie van Engels af nie, maar van Duits, of Italiaans, of wat ook al. 'n Woord soos “amazing” kan nou vrylik in Afrikaans gebruik word, want oorspronklik was dit 'n Germaanse woord “amarian”. In Ou Engels het die [r] verander na [s], “amasian”, wat weer klankverandering ondergaan het en in moderne Engels “amazing” is.
    Dis nou volgens Tiens en Jan Rap. Amazing, is dit nie?
    Groete,
    Angus

  • Actually, as 'n mens so daaraan dink, kan 'actually' vrylik in Afrikaans gebruik word. Dis 'n woord afkomstig van Laat Latyn, het waarskynlik via Frans by Ou Engels uitgekom. Ons bly net stil dat dit via Engels in deesdae se Afrikaans beland het, en dan kan ons maar laat waai.

  • Menere Tiens en Jan Rap moet nou asseblief raad gee en help met Engelse neologismes. Die probleem met hierdie woorde is dat hulle nie sommer, volgens julle, direk in Afrikaans oorgeneem kan word nie, want, volgens Jan, verskraal dit Afrikaans. Ons het nou ooreengekom dat ou, gevestigde Engelse woorde in Afrikaans gebruik kan word. Ons sê net dat dit oorspronklik van Duits of ʼn Romaanse taal afkomstig is; nie van Engels nie. Neologismes is egter ʼn ander saak; daar het ons nie die verskoning nie.
    Afrikaanssprekendes het nou alreeds fouteer deur sommige Engelse nuutskeppings netso kop en pootjies, oor te neem, (fouteer, volgens Jan Rap se verskralingsteorie) en ons sal dit moet uitroei en vervang met Afrikaanse nuutskeppings. Ek dink nou maar aan woorde soos ‘google’, ‘laundromat’, ‘frisbee’, ‘tupperware’, ‘spam’ en ‘app’.
    Dan is daar Engelse woorde wat ʼn heel nuwe betekenis gekry het, soos ‘gay’, ‘troll’, ‘esplanade’, ‘coffee’, en nou die dag beskuldig een van my Engelse niggies my dat ek ʼn ‘muffintop’ kry. Dan is dit deesdae ʼn nog groter skande om ‘negligent’ te wees, veral as dit jou moet oorkom so teen twaalfuur die middag. Die oorspronklike ‘willy-nilly’ het ons darem die Afrikaanse ‘nolens en volens’, maar nou het dit ook al weer ʼn nuwe betekenis gekry waarvoor ons in ons pasoppens moet bly.
    Die Engelssprekendes laat ook nie op hulle wag om skeppenderwys met hulle taal om te gaan nie. Ryk mense word al verwys na as ‘metrosexual’, en ʼn gawe een vir my is ‘rickwad’, verwysende na ʼn Christen wat net op Sondae ʼn Christen is. Engelse praat ook van ʼn ‘staycation’ wat beteken dat hulle met Jan-tuisbly-se-karretjie gaan vakansie hou het.
    Moet ons nou maar ook so al vertalenderwys tred hou met hierdie Engelse neologismes, hoofsaaklik darem met ons eie nuutskeppings vorendag kom, of die goed netso in Afrikaans oorneem? Miskien moet ons ʼn lys van Engelse neologismes opstel en versprei na waar Afrikaans ook al gepraat word, met die duidelike instruksies dat hierdie woorde nie gebruik mag word in Afrikaans nie. Gee bietjie raad asseblief.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top