Die braai

  • 1

“O dis jy, Maggie. Kom in, kom in! Ons het vir jou gewag.”

Hy spring op en trek sy das en baadjie reg.

“Krokodil, skuif op en maak plek. Sy kan hier tussen ons sit. Hou dáái stoel oop. Mikhail of Nelson gaan dalk enige oomblik hier opdaag. Mens weet nooit.”

“Hoog tyd jy daag op, nou kan ek begin braai,” mompel Krokodil met ’n dik onderlip.

Ronald stap vinnig oor na die hek, waar Margaret die kamer krities bekyk, handsakkie in die hande beskermend voor haar vasgeknyp. Hy raak aan haar elmboog en dan gooi hy sy hande om haar skouers en gee haar ’n hartlike druk.

“Wat ’n voorreg om jou weer te sien. Jy lyk goed! Soos altyd, natuurlik. Jy het geweet daardie blou pakkie was my gunsteling.”

Sy hartlikheid laat haar ontspan en sy laat haar hand liggies op sy arm rus.

“Ek weet dis alles baie nuut, dis ’n vreemde ervaring, maar dis nie so sleg hier nie. En hulle hou ons besig. Elke Dinsdagmiddag speel ons krieket in die plein. Op die oomblik is die gedugste spanne Die Kolonialiste vs Die Res. Ons loop nog voor, danksy die Spanjaarde wat ek gewerf het. Hulle weet nie veel van krieket af nie, maar hulle vernietig enige span in hulle pad. Ek het net die kruis met ’n kolf vervang. Ons speel bingo op Woensdae en elke Donderdag maak hulle die waterwurm oop. Ons noem dit die Freudian slip!”

Ronald klap sy bobeen van lekkerkry en lag met groot oopmond-uitbundigheid vir sy eie grappie.

“En elke Vrydag en Maandag bied ek toneelklasse aan. Dié seisoen doen ons ’n stuk wat ek self geskryf het genaamd: Duck! How to avoid getting assassinated. JFK het nie gedink dis snaaks nie.”

Weer eens die klap op die bobeen en ’n uit-die-maag-lag. Hy vee die trane af en lei haar na die oop stoel langs die Krokodil.

“Goeiemiddag Margaret.”

’n Koel hand word uitgesteek en Margaret neem dit ferm in haar hand en gee ’n bedagsame handdruk.

“Hierdie ystervrou het baie geoefen om die perfekte handdruk te gee,” beduie Ronald aan die Krokodil. “Nét ferm genoeg. Nie té pap nie, want dit mag ’n indruk skep van swakheid. Nie té aggressief nie, want jy wil vriendelik kan onderhandel. Sy gee hom nét reg. Ek noem dit die perfekte staatsgreep.”

Hierdie keer moet hy vinnig sit om te keer dat hy nie omval van die lag nie. Margaret glimlag geamuseerd en trek ’n stoel nader terwyl sy die omgewing bespied. Die stoele is rondom ’n braaiplek gerangskik met die hout netjies opgestapel met fyn houtjies in die middel.

“Ek dink iemand het ’n baie snaakse sin vir humor hier bo, want ek en PW is kamermaats.” (“PW” spreek hy uit as “Pie-whie”.)

Die Krokodil ignoreer Ronald se opmerking en vestig sy aandag op Margaret. “Ek het vir jou ’n glas melk saam met ons braai bestel. Hoop dis in orde.” Die Krokodil leun terug in sy stoel met sy vingerpunte wat saggies teen mekaar druk in ’n kerktoring voor sy bors. Hy grinnik selftevrede. “Soos Langenhoven, ’n wyse man in my land, eendag gesê het: ‘Hy dink hy’s kaas, en dan is hy nog nie eers dikmelk nie – hy dink hy is alte waffers; hy dink hy is vreeslik belangrik.’”

Margaret kyk vraend na Ronald vir ’n verduideliking. Hy kyk na haar en trek sy skouers op, leun nader aan haar en sê in ’n fluisterstem: “Ek weet ook nie. Hy was nog nooit weer reg na daai eerste aanval nie. Maar ons almal het dit mos geweet. Party dae knik ek maar net my kop en maak asof ek verstaan. Ander dae is hy so deurmekaar dat hy sy bedkassie plein toe dra en dan staan hy daar met sy vinger in die lug en maak toesprake vir almal wat verbyloop. Daar is gewoonlik ’n paar van die ou manne, soos Joe en Braam en Chris, wat hom met vrot tamaties of eiers bestook. Laas week toe het Eugène met ’n perd daar aangegalop gekom om vir PW te verdedig teen die tamatiegooiers. Natuurlik toe daag DF, BJ, HF en nog ’n paar ander ouens op wie se letters ek nie kan onthou nie.”

Ronald lig sy hand op om homself te onderbreek.

“Maggie, herinner my tog dat ons vir FW vra, wanneer hy opdaag, wat die storie is met al die Afrikaanse ministers en presidente wat hulle voorletters gebruik in plaas van hulle name.”

Margaret knik haar kop ingedagte, keep in die voorkop, lippe dun gepers.

Die Krokodil sit nog ’n stompie op die hoop hout.

“Waar was ek nou weer? O ja, die plein-onluste. Dit was so erg dat hulle Petrus se manne moes instuur om die gedoente te ontlont.”

Margaret skud haar kop in ongeloof.

“Ek geniet die petalje. As ek sien dis nou weer sulke tyd en PW gaan vort met sy bedkassie, dan maak ek dat ek gou op die plein kom om ’n goeie sitplek te kry vir die show. Dit voel weer soos die ou dae van die Koue Oorlog of soos ons onderhandelinge met die Iere. Jy gaan dit hier geniet.”

Ronald knipoog vir Margaret en hulle twee lag ondeund.

Die Krokodil het intussen opgestaan en krap tussen die hout met ’n vuurtang. Hy sit die rooster op en hou sy hande oop oor die droë hout asof hy die hitte toets. Hy brom ingedagte en stap na die bak met die vleis. Afgemete sit hy die tjops op die rooster. Hy gaan sit weer tevrede en staar met ’n ver-af kyk in die oë na die plek waar daar veronderstel is om kole te wees.

“Ek hoor jou begrafnis was so ’n affêre?”

Margaret draai vies na Ronald toe en sit haar hande langs haar op die leuning van haar stoel asof sy reg is om op te spring.

“Ag ou Ron, moes hulle nou regtig al die ou koeie uit die sloot uit grawe? En met koeie bedoel ek die issues én die mense. Dit was quite a circus. Maar dan het hulle ook geweet, I won’t go quietly! Hulle het gedink ek sal in my graf omdraai as hulle die Argentyne nooi of dié een of dáái een. Maar hulle moet mos nou al teen dié tyd weet, The lady’s not for turning!

Dié keer val Ronald amper van die stoel af soos hy lag.

“Ja, myne was seker die beste show waarin ek nie self gespeel het nie. Beste optrede van my lewe.”

Hulle staar stil na die droë hout en koue vleis. Die stilte is gevul deur diep nadenke en die Krokodil se tang wat ritmies teen die rooster rinkel soos hy die vleis omdraai.

“Besef hy dat daar geen vuur is nie, Ron? Of word vuur nie in die hemel toegelaat nie?” vra Margaret.

“Ek is jammer om jou dalk teleur te stel, Maggie. Hoe sal ek dit nou verduidelik? Mmm, dinge is anders hier as wat ons dit vir onsself voorgestel het. Hier is nie ’n plek soos die Hemel of die Hel nie. Ons is almal saam in één stad. Maar elkeen se ‘hemel’ of ‘hel’ soos ons dit gevisualiseer het, word bepaal deur wat jy hier kry of nié kry nie, met wie jy kan gesels of nié gesels nie. Dit is elkeen se eie individuele ervaring van ons stad en sy mense.”

Margaret kyk met nuwe oë na haar omgewing, en na die groot Krokodil langs haar.

“Daar ís vuur in die stad. Maar hy sal vir ewig nooit weer ’n vuur kan maak nie. Hy sal nooit ooit weer kan braai nie.”

PW draai weer ’n tjop om. Bloed drup stadig uit die vleis uit en val in ’n rooi poel onder in die braaibak. Maggie staar verstar na die stapel hout en sien PW se weerkaatsing in die plas bloed.

“Welkom in sy hel.”

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top