![]()
“Nou hoekom juis daai boom?” wonder Brian hardop terwyl hy sy voet van die petrolpedaal afhaal en aan die remme vat-vat. Hy verwag nie eintlik ’n antwoord van sy seun, wat in ’n naarstige SMS-worsteling met sy selfoon gewikkel is nie.
“Hè?” is al wat hy uit hom kry.
“Daai boom daar oorkant in die parkie, wat jou ma ons van vertel het.” Hy rek sy nek agtertoe om nog ’n laaste blik te kry en draai dan na sy seun. “Moenie so panic nie, man, ons is nou-nou daar, dan kan jy dit uitsorteer.” Hy vroetel in sy sak. “Hier is my foon, bel haar of … as sy nie wil antwoord nie, bel haar ma. Jy het seker haar nommer ook, of hoe?”
Sonder om op te kyk, mompel Andrew met ’n stem dik van bekommernis: “Nie een van die twee antwoord al vir twee weke nie. Net die een SMS wat gesê het ek moet wegbly. Ek weet nie wat daar aangaan nie.”
“Maar daar moes tog iets gebeur het,” probeer hy help. “Het julle ’n argument gehad? Wil sy nie maar net chill ná die matriekeksamen nie? Vroumense is maar snaakse wesens, jy sal nog sien.”
“Niks, Pa. Daar het absoluut niks tussen ons gebeur nie. Sy het net verander. Vandag is die dag wat sy sal moet uitkom daarmee. Of sy my daar wil hê of nie, ek gaan haar vandag aanvat.”
Die beslistheid in sy stem maak dat Brian vir ’n oomblik waarderend na hom staar.
Sy vrou het ’n week of wat gelede, nadat sy die huishulp gaan aflaai het, uitasem die huis ingestorm: “Haai, het julle gehoor? Iemand het homself geskiet … hier onder in die parkie. Dit moes net ’n paar minute voor ek daar gekom het, gebeur het.”
Toe sy nie die verwagte reaksie kry nie, het sy die motorsleutels vies neergesmyt en haar stemtoon verhoog. “As jy die blerrie Sudoku vir ’n oomblik los en jou alie lig, sal jy die polisie nog daar sien. En Andrew, haal jou vuil voete van die bank af en sit nou daardie selfoon onmiddellik neer. Julle … irriteer my grensloos met julle slapgatgeit.”
Brian wou aan haar verduidelik dat die nuus, hoe opspraakwekkend ook al, hom nie eintlik aanstaan nie, maar tog besluit om die vrede te bewaar.
“Waar het dit gebeur? Was dit in die parkie op pad taxi rank toe? Wie sal tog nou besluit om … om dit daar te gaan doen?”
“Ja, in Dummerstraat by daai groot boom in die middel. Hulle het ’n kombers oor hom gegooi en probeer nou sy bakkie oopkry.”
“Sy bakkie? Daar kan mos nie voertuie op die park se gronde kom nie?”
“Nee man, sy bakkie staan in die straat. Lyk my hy is … was ’n boukontrakteur, want die voertuig lyk maar gehawend.”
Andrew het sy selfoon ’n oomblik neergesit en ook sy bydrae gelewer, “Hoe weet Ma hy is geskiet? Kon netsowel ’n moord gewees het, of ... of hy kon hom gehang het. ’n Lyk onder ’n boom spel eerder …”
“Ja, toe nou, Andrew,” onderbreek sy hom skerp. “Ek het gestop en gevra. Glo ’n Portugees van Gordonsbaai.”
Twee plus twee was nog altyd vier vir Brian en hy lewer die uitspraak terwyl hy ingedagte sy pyp uit sy sak haal.
“Porra-kontrakteur? Obviously geldelike probleme. Selfs nie eens hulle kan survive in hierdie Bie-ie-ie environment van hierdie land nie. Wanneer eet ons?”
“En nou, hoekom draai Pa hier af? Naomi se woonstel is nog ver vorentoe.”
“O, ek is bly dat jy darem oplet wat om jou aangaan,” antwoord Brian half sarkasties. “Ek wil net gou om die blok ry en daai boom van naderby bekyk. Daar is net iets interessants daaromtrent.”
“Pa jok, Pa wil gaan soek vir bloedspatsels of partroondo …”
“Moenie verspot wees nie, man,” onderbreek hy die seun, “die lewe gaan nie net oor blerrie geweld en bloed nie! Ek wil net gaan kyk.”
Hy maak of hy nie die vermakerige kuggie hoor nie en soek vir ’n veilige plek om te parkeer.
Brian maak die motordeur versigtig oop terwyl hy wonder of die nukkerige Desemberwind hom later gaan toelaat om instandhouding aan sy dak se geute te doen. Hy kyk afwagtend of sy seun hom gaan volg en drentel dan alleen voort.
Dit is ’n massiewe boom. Alhoewel Brian ’n leek is as dit by flora kom, weet hy dat hierdie een ’n uitheemse spesie van die akasiafamilie is. Die stam is dik en besig en gee die indruk dat dit aanvanklik ’n paar afsonderlike bome was wat hulle bymekaargeskaar het as ’n eenheid.
Van ’n afstand af blyk die boom se omlyding ’n amper perfekte sirkel te wees, maar toe hy van rigting verander om die son in sy oë te vermy, merk Brian dat dit wegleun as gevolg van die jare lange aanslag van die Suidooster.
Die halfdosyn of wat ander bome aan die noordekant toon dieselfde eienskappe. Dit gee die indruk dat hulle van die enkelboom probeer wegkom, so asof dit ’n indringer is wat hulle voortbestaan kan benadeel.
Die takke en blare is gesond en die ronde geel blombossies oorvloedig. Oral in die parkie, selfs onder die ander bome, groei die gras welig, maar daar is nie ’n enkele halmpie onder hierdie boom nie.
Die barheid daarvan tref Brian so skielik dat sy bene lam word. Hy sak op sy hurke neer en streel ’n paar keer oor die vaal boomwortels wat bo die grond uitpeul. Dan kom hy traag orent en stap stadig terug na die motor.
“Kom, Pa, die son trek water. En … was daar bloed”?
Hy ignoreer die opmerkings en skakel die motor aan terwyl hy na sy GPS reik.
“Wat’s die straat se naam van Naomi se woonstel?” vra hy sag, en wonder hoekom sy stem so treurig klink.
“Ag, Pa, moenie vir Pa simpel hou nie. Dis nie nodig vir daai kontrepsie nie. Pa kan my sommer by Gordonsbaai se Spar aflaai. Die woonstel is reg agter dit.”
“Maak nie saak nie, seun, ek sal jou tot by die woonstel vat. Ek is met vakansie, jy weet. Baie tyd beskikbaar.”
“Nee, Pa, dis ’n probleem … met parkering by die woonstel, bedoel ek.”
Brian kan die ergenis in sy seun se stem hoor en verstaan dat die knaap nie ’n gehoor naby wil hê as hy sy meisie konfronteer nie.
“Nou goed dan. Jy het my nog nooit van Naomi se ouers vertel nie. Wat doen hulle vir ’n lewe?”
“Ek weet nie, hulle is al lankal geskei. Die tannie maak vir Naomi self groot. Sy verkoop eiendomme.”
Dit is so selde dat Brian meersinnige reaksie van sy seun kry dat hy die geleentheid met albei arms aangryp.
“Sjoe, moet seker erg wees vir haar? Kontak haar pa hulle darem so nou en dan?”
“Ag, Pa, los dit nou, ek is nie lus om oor hulle private lewe te praat nie … draai hier af, dan wys ek pa ’n kortpad.”
“Goed,” antwoord Brian so kortaf dat Andrew onmiddellik sleg voel. Hy druk sy knie speels teen sy pa s’n en voeg dan by: “Pa skimp verniet so, haar ma het reeds ’n kêrel.”
“O, iemand by haar werk?”
“Nee, glo ’n enkelloper wat in dieselfde woonstelblok bly … vir nou, ten minste.”
“Wat bedoel jy, ten minste? Is hulle ook besig, e … e … is hulle besig om uitmekaar te gaan?”
“Nee, hy maak glo moeilikheid en die Home Owners wil hom uitwerk. Hier, Pa, gooi my sommer hier af.”
“Nou goed, seun, sterkte. Ek hoop jy sorteer dit uit. Naomi is ’n goeie meisie. Moet ek vir jou wag?”
“Dankie, Pa, nee, Pa hoef nie. Ek sal ’n missed call gee dan kan Pa … of liewer Ma, my kom haal.”
Op pad terug besluit Brian om eers weer by die parkie te stop. Hy moet sy gedagtes skoon kry en die boom trek hom soos ’n magneet.
Terwyl hy parkeer, lui sy selfoon.
“Is dit Andrew Basson se pa?” wil ’n onbekende vrouestem weet. Brian is onmiddellik bekommerd.
“Ja, kan ek help? Is dit … is dit Naomi se ma?”
“Dis reg, meneer Basson, u moet asseblief vir Andrew kom haal. Hy is … ons is verpletter.”
“Hoe bedoel u, het die tweetjies uitgemaak? Is dit … is dit iets wat my seun verkeerd gedoen het?” Die stilte aan die anderkant is oorverdowend. “Hallo, hallo, is u nog daar?”
Die stem laat ’n lang sug, gevolg deur ’n hartverskeurende huilbui, so erg dat Brian die foon ’n ent van sy oor moet weghou.
“Nee, meneer Basson,” kan hy tussen die snikke uitmaak, “vergewe my … dat ek Andrew verdink het van my dogter se swangerskap. Sy het uiteindelik beken; dis toe Manny, daai blerrie useless Portugese vriend van my … wat nou genadiglik nie meer met ons is nie.”

