Geskryf vir: Straatligkinders
My roep sny deur die eentoon van jou wroeging veg bestaan
En die wyse van my wysie laat jou hare regop staan
Ek spoeg waarheid deur droë lippe en lig jou uit die skare
Met klawers preek ek klanke en steek vuur aan in jou are
Swerms woorde uit my larinks wat jou geestes oog verbyster
Geen tyd vir vlug of twyfel, jy is hier en jy sal luister!
Ek kerf my tong in repe plant die stukkies in jou oor
Skiet wortel in jou breinstam en neem jou wese oor
Eens pols ek deur jou plasma, elke senuwee geprik
Sypel deur jou beenmurg en laat jou senings ruk
Geen entstof teen my boodskap ons is almal mos dieselfde?
Saamgeperste stof en water...ook die skurke.....al die helde?
Geneties in ons kode dis musiek liriek en waansin
Soos die wesens van die voortyd is daar Gospel in ons saamsing
Sien Sy lied leef in ons almal onbeskaamd met geen verwyt
So leef jouself ten volle of wees jou hart se deuntjie kwyt
Nou werp jou palms uitwaarts en gryp dit alles aan
Musiek en leef en liefde ....tot jou siel se nate styf span....

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

