Die bokser

  • 2

Sy naam was Jan. Jan-Hendrik. In die Kaap op straat het hulle hom Jahn genoem. Jahn Hendrix. Soos in Jimi. Met sy erfporsie het hy vir hom ’n beach buggy gekoop. Met die beach buggy het hy ’n taxi-diens begin. Tussen Khayelitsha en Kaapstad-stasie. Dit was die hoogtepunt van sy kort lewe as belowende student, atleet, musikant, gimnas, skilder, taxibestuurder, swerwer en boemelaar.

Vir ’n wyle het hy probeer wegkom van die lewe in Langstraat as dit reën, maar die reën het nie vir lank weggebly nie.

Op so ’n reënerige aand kom klop Jahn aan ons voordeur. ’n Mediumgrootte kartonboks met al sy aardse besittings onder die arm. Papnat gereën. In sy oë is die uitdagende reguit kyk van familiebloed wat dikker as reënwater in ons harte klop. Ons het by dieselfde oupa geleer kitaar speel. Omdat ek ’n huis het en hy swerf, het ek die kitaar geërf. Nou is hy hier om op die kitaar te kom speel. Ons oupa se kitaar.

Vier aande se tydelike verblyf by ons het vier maande geword. Vier maande waartydens ons ure en dae lank in my studio gesit het en opnames gemaak het, ou familiestaaltjies gedeel het en hy geoefen het vir die 400-meter-hekkies by die volgende Olimpiese Spele. Hy het vas geglo hy gaan wen.

Met palet in die hand het hy vroegoggend reeds die mooiste uitsigte oor die Hottentots-Holland-berge vanaf die sonkant van die huis gesit en skilder. ’n Toneel wat hy al skilderend bly aanpas het namate die son oorgeskuif het en die skaduwees en kleure van die berge verander het. ’n Bewegende toneel. ’n Stadige filmskildery. Die doek het gewoonlik teen sononder ’n somber donkerte aangeneem, maar hy het net aanhou skilder en skilder tot lank na sononder, tot niemand niks meer kon sien nie. Die dag se “real time”-skildery staan dan daar in sy finale raam – swart soos die nag. Onderteken met swart op swart: Jan-Hendrik.

Dan sou hy weer vir ’n dag of drie verdwyn. Om sy Kaapse straatfamilie te gaan opsoek. Die haweloses van Langstraat.

Tydens een van Jahn se afwesighede trakteer ons een aand ’n paar vriende met ’n visbraai. Laataand het die gaste klaar geëet en die borde en halfgedrinkte glase is nog op die tafel. Die beach buggy brul by die oprit in en Jahn klop aan die deur. “Ek’s nou hier!” groet hy uitbundig en begin die gaste se wynglase leegmaak en die viskoppe op hul borde se oë uitsuig. In sy oë swem die padkaart van die Kaapse strate. Rooigeverf. Vlug 777 het jare gelede reeds ingeskop en kom nesmaak in sy gemoed.

Ek vergesel van die laaste gaste buitentoe. In die oprit staan Jahn se beach buggy – hy het sy laaste passasiers van die dag onverrigter sake net daar in die motor gelos. Uitgepass lê hulle dwars oor die sitplekke. Hierdie trein gaan nêrens heen nie.

’n Kort verblyf in Stikland se rehabilitasiefasiliteit moes die nodige doen, maar die owerhede het hom gou ontslaan met berigte van ’n vurige verhouding met ’n vroulike medepasiënt. “Hy ontstel die ander pasiënte,” sê die matrone vir my.

As kind het Jan-Hendrik hom vroeg al onderskei as ’n veelsydige en talentvolle student, gimnas, vioolspeler in die simfonie-orkes en atleet met provinsiale kleure. Blondekop, diep blou oë, lank en lenig. Lewendig. Sy ma se oogappel en die familie se lieflingkind.

In sy standerd 8-jaar tref die noodlot: sy ma sterf aan kanker. Jan-Hendrik het in haar laaste dae langs sy ma op haar siekbed gelê en wou nie daar opstaan nie. Na die begrafnis moes hy alleen huis toe bestuur. Twee plaaswerkervroue beland op ’n draai voor sy motor in die pad. Hulle sterf. ’n Jaar daarna is sy pa oorlede. Dit was in die dae voordat die term traumaberading so geredelik rondgegooi is.

Jan-Hendrik, plaasseun van die warm subtropiese noorde, word nou verskuif na die winderige en koue Oos-Kaapse kus, waar hy deur sy ma se familie in pleegsorg geneem word. Na skool beland hy vir sy diensplig in die polisie se onluste-eenheid. Dit was in die rowwe jare van gewelddadige politieke opstand. So beleef hy ondenkbare geweld en doodslag. Die Jan-Hendrik wat ons as kind geken het, se gees het dit nie oorleef nie. Na soveel aanslagte het iets in hom geknak.

Ons kon hom ook nie by ons hou nie. Die swerwersbloed en straatlewe het oorgeneem en die pad en strate het hom gevat.

Nadat hy by ons weg is, ontdek my vrou onder sy bed die boks waarmee hy by ons aangekom het. In die boks is ’n foto van sy ma, ’n troufoto van sy pa en ma, ’n onderbroek, drie kondome en ’n stapel verkeersboetes, uitgemaak aan Jahn Hendrix Taxi Services.

Die laaste keer wat ek vir Jahn gesien het, het hy my nie gesien nie. Hy het in sy boemelaarsjas op die sypaadjie gestaan en die verte in gestaar. Ek het sy blik gevolg en gesien hy staan stip vir die kerktoringklok en kyk. Met die liggaamshouding van iemand wat staan en wag vir iets. Die kerkhorlosie het 11-uur geslaan. Ek het aangery. Hy is ’n week daarna oorlede – in die plaaslike polisiestasie waar hy kom aanklop het vir slaapplek. Hy het daar vir sy verblyf betaal deur die personeel aan diens te trakteer met sy sang en kitaarspel. Hulle sê dit was ’n hartaanval.

In my klankargief ontdek ek nou die dag hierdie opname op een van die ou analoog-bande wat ons in daardie jare in die ateljee gebruik het. Jahn het homself soms laataand in my studio afgesonder, waar hy homself opgeneem het. Hy het sy musiek goed gekies. Elke woord sprekend van toepassing op sy kort lewe. Die oomblik toe sy stem weer helder oor die luidspreker kom, wou ek, soos ons gewoonte was, dadelik die tweede stem begin saamsing. Maar die saamsing wil nie gebeur nie. In my oë swem die watervore van ons gedeelde kindwees op die plaas en in my hartseer keel sing net die stilte:

I am just a poor boy

Though my story's seldom told

I have squandered my resistance

For a pocket full of mumbles

Such are promises

All lies and jests

Still a man hears what he wants to hear

And disregards the rest

When I left my home and my family

I was no more than a boy

In the company of strangers

In the quiet of the railway station running scared

Laying low, seeking out the poorer quarters

Where the ragged people go

Looking for the places only they would know

Asking only workman's wages

I come looking for a job

But I get no offers,

Just a come-on from the whores on Seventh Avenue

I do declare, there were times when I was so lonesome

I took some comfort there

Then I'm laying out my winter clothes

And wishing I was gone

Going home

Where the winters aren't bleeding me

Bleeding me, going home

In the clearing stands a boxer

And a fighter by his trade

And he carries the reminders

Of ev'ry glove that laid him down

Or cut him till he cried out

In his anger and his shame

"I am leaving, I am leaving"

But the fighter still remains.

         – “The Boxer”, Paul Simon

  • 2

Kommentaar

  • Janine du Plessis

    Albert, jy moes 'n skrywer geword het.  Ek het lanklaas 'n storie gelees wat só waar en tog só vol deernis geskryf is, soos hierdie een.  Nog een van jou vele talente.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top