Die bok van Hilton

  • 1

Sy was vir jare die waitress by die Springbok Sportsbar. Dis daai ene bokant Arries Motor Spares, daar waar jy nog Princeton vir R6.50 ‘n pakkie kan kry. Jy kan sien dat daar ‘n erg mooiheid in haar is, maar met die tyd het sommige features bietjie vergaan; party kon sy keer as sy wou.  Elke aand was sy die life of the party, maak seker die manne drink baie shooters, want dis waar mens die meeste geld op maak, maar haar body shots was nie meer so gewild soos vroeër nie.

Sy was skaars sewentien toe haar ma haar werk by die klerefabriek verloor het. Pa was maar net ‘n naam op 'n stuk papier, en sy moes inspring om kos op die tafel te kry. Kry toe die werkie by die Mandy’s Parlour plek daar in Andries Pretorius-straat nog, moes net dansies uitvoer en so ...

Maar daar was geld in extra’s en sy was oppie paal nog voor sy mooi negentien kon sê. Die kind is op sewe maande vroeg gebore na ‘n mislukte coathanger episode, en hy was nooit mooi reg hierbo nie. En sy's terug werk toe daar by Mandy’s.

Sy het oënskynlik haar les geleer en eers op vier-en-twintig, toe verwag sy haar (eerste) kindjie saam met Lang Jan van Tonder, ‘n boer van die Bothaville-distrik wat weekliks voer by Vrystaat-landbou kom optel het voor hy via Andries Pretorius-straat weer huiswaarts gekeer het na sy bejaarde vader en moeder toe.  Dis Lang Jan wat haar die werkie by die Springbok Sportsbar gekry het, sodat sy nie so in sonde hoef te lewe nie. Maar sy mammie het uitgevind van die kindjie, en R140 000 verder wou sy nie meer vir Lang Jan ken nie.

So het die meisiekind saam met haar in die dag werk toe gegaan. Dit was ‘n goeie deal want op warm dae kon die kind in die bar fridges speel sonder om enige iemand te pla, en op koue dae het die kind agter in die office gelê en tv kyk, of andersins daardie Barney-video's op die Betamax-masjien.

Dis mos nie goed vir business om bodyshots te verkoop met 'n driejare snotneusie so aan jou rokspante nie!

Haar ma is op 52 dood aan een of ander lewersiekte wat haar bene so laat oopbars het. Dokter het gesê dis van te veel Cane. So toe moes sy maar self aansukkel met die kinders. En met die tyd het sy begin uitstoel.  Sy't gesukkel om die kleefbroeke wat sy so like om te dra in haar haar size te kry. Maar gelukkig is daar baie ass manne in die dorp en net na sy dertig geslaan het, toe is daar nog enetjie op pad. Dit het teen die tyd heel maklik gegaan, skaars ‘n uur, en daai kind met haar wortelrooi hare was ‘n goeie ses pond ses.  Klein Miranda ... Haar hare was so oranjeskynsel soos Miranda-koeldrank, vandaar die naam.

So ses maande later het die Christelik-maatskaplikes die kinders kom haal en sy kon toe weer asem skep. Na die laaste een het die dokter haar reggemaak, so die wêreld het nou oop voor haar gelê!

Dis toe wat die ding begin het.

Seker so 'n jaar na die kinders weg is, het sy eendag begin verlang en stap toe so om die hoek na die maatskaplike kantore om te gaan hello sê. Hoor toe die kinders is aangeneem en dat sy nie meer kontak met hulle mag hê nie. Ek glo stellig dis waar die verwyte begin het.  Toe die besef deurdring dat hulle drietjies vir goed uit haar lewe is, het sy nie begin suip nie. Nee,  sy moes haar ma se bene te veel male ontsmet! Maar die pyn!  Die seer was so ondraaglik. 

Sy het een aand op die toilet gesit en huil terwyl sy haar beenhare geskeer het.  Die trane het haar oë wasig gemaak en sy het haarself per ongeluk raakgeskeer. Tussen die brand van die sny en die bloed wat so kronkelpaadjie teen haar been afgemaak het, het sy beter gevoel.

Later sou sy dit aspris doen, net om van die harts-eina ontslae te raak, want die seer het haar teruggebring na die wrede werklikheid van haar bestaan.  Haar arms het later die skuld begin dra vir haar sondes ... sy moes begin langmoue dra as sy werk, sodat die kliënte dit nie sien en begin vrae vra nie. En dit het alles goed gewerk. Sy het selfs begin maer word, net die blêddie groot gat het gebly.

Die dag toe haar wonde so begin bloei en drup-drup op die kliënte se shooter glasies, het ou Vaatjie haar gevra om te gaan. Hy het trane in sy oë gehad toe hy haar fire, haar terug geroep en twee cartons Princeton pasella gegee. Sy het die woonstel verloor en moes noodgedwonge daar iewers ‘n plekkie kry om te rus, want niemand wou haar ken nie. So het sy ‘n beskutte gaatjie agter ‘n kragbox naby die Hilton-treinbrug gekry.  Sy het in die aande by die Total se badkamers gaan skoonmaak voor sy die strate ingevaar het.

Gelukkig was daar nog steeds ass-manne in Hilton en ekstras bring goeie geld in ...

  • 1

Kommentaar

  • Wyona Landman

    Hartseer storie, maar so waar daar is baie van daardie bokkies daar buite wat probeer om kop bo water te hou ek simpatiseer met hulle, want niemand weet hoe hulle in hulle harte voel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top