Die boekbekendstelling

  • 0

“En waar gaan die foto’tjie verskyn?” vra die tannie deur haar tande, sonder om haar glimlag te verslap.
“Books LIVE.” Ek kiek haar saam met die oom, wat sy nek rek sodat hy “nie ’n dubbele ken op die foto het nie”. Hulle is van die eerste gaste wat vanaand by The Book Lounge opgedaag het vir die bekendstelling van die gróót Skrywer se nuutste roman.
“Books Alive?” vra sy.
“Books LIVE. Dis ’n webtuiste. Ons publiseer nuus oor boeke ...”
Die oom staan nader. “Books Alive. Word die boeke daar lewendig?” ’n Mens sien net neushare en tandestopsels soos hy lag.
Nie ’n goeie inleiding tot die aand nie.

* * *

Die houttrap kraak op pad na die kelderverdieping. Allerlei karakters wag hier op die Skrywer se koms.  
’n Man met ’n snor knibbel aan ’n samoesa en gee ’n hoendersosatie aan ’n rooikopvroutjie.
“Kan ek jul foto neem?”
Die man druk die vroutjie teen hom. “Netnou sien my vrou my saam met hierdie dametjie!”
Die vroutjie giggel. “Stop dit nou, Gerrie!”
Ja, stop, asseblief. Daardie grappie het ek ook al gehoor. Tjiek, neem my Canon.
Al hoe meer mense maal rond. ’n Groep studente. Tjiek. Vroue van ’n boekklub. Tjiek. Die uitgewer. Tjiek. Dit raak moeilik om te beweeg. Die lugverkoeling werk nie.
“Wou jy altyd ’n fotograaf wees?” vra die uitgewer.
“Eintlik is ek nie ’n fotograaf nie. Ek skryf ...”
Maar sy aandag word afgetrek deur die verskyning van die Skrywer in sy gebruiklike kaftan. Hy is ronder as wat die kop-en-skouers-foto agterop sy boek verklap. Daar is meer grys in sy donker krulle en baard. 
Wat sal ek sê as ek hom ontmoet? Dat ek dele uit sy boek met die hand oorgeskryf het om sy skryfstyl aan te leer? Dat ek, nes hy, glo, met plot sukkel?
Die gaste sak op die stoele toe. Gelukkig het ek met my baadjie in die voorste ry plek gehou. Die Skrywer kom sit reg voor my. Hy tree met sy uitgewer in gesprek.
Ek hou my oë op my iPad.
“’n Skrywer is ’n profeet vir die volk,” sê die Skrywer.
’n Skrywer is ’n profeet vir die volk, twiet ek op Twitter. My sweterige vingers maak wasem op die tablet.  
“As die inspirasie jou slaan, moet jy skryf.”
As die inspirasie jou slaan, moet jy skryf.

* * *

Die ry om die Skrywer se handtekening te kry, kronkel deur die boekwinkel. Ek is amper voor. Wat gaan ek sê? Dat ek self die artikel geskryf het toe hy die Hertzog-, WA Hofmeyr- en UJ-prys ingepalm het? 
Voor. Ek druk my besigheidskaartjie onder die Skrywer se neus. Hy loer oor sy leesbril daarna en na my.
Ek weet die verhaal moet nou ’n klimaks bereik, maar dis juis waar my stories gewoonlik te kort skiet. Gelukkige eindes is ook nie vir my nie.
Hy skribbel in die boek en gee dit terug. Sê niks. Ek ook nie.
Ek moet verby bewonderaars druk om by die trap op te kom. Iemand laat my by die voordeur uit. Motors toet, maar ek is oor Roelandstraat na die afsondering van my Corsa.
Die stuurwiel is koud teen my voorkop.
Hoekom het ek niks gesê nie?
Die boek lê soos ’n beskuldiging langs my.
Kan ek nóg ’n antiklimaks hanteer? Maar ek móét weet wat hy geskryf het.
Nes ek gedink het. Die voorspelbare: “Lekker lees!”
Maar dan, daaronder: “Dankie vir jou gunstige artikels oor my.”
Nog een reëltjie: “Ten slotte: ’n Skrywer is nie ’n profeet nie. En inspirasie is ’n mite.”

Lees ’n onderhoud met Carolyn Meads hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top