BSV-Slypskool vanjaar met rillerskrywer Francois Bloemhof

  • 0

Wil jy stories skryf wat lesers se nekhare laat rys? Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging bied vanjaar in samewerking met Afriforum op Saterdag, 25 Augustus 2012 om 8:00 – 1500 in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Pres Brandstraat, Bloemfontein die jaarlikse BSV Slypskool vir ontluikende skrywers aan onder leiding van die gewilde rillerskrywer, Francois Bloemhof. Hy gaan fokus op interessante temas, soos: “Wat is ’n spanningsverhaal, en wat is dit nié, vind ’n storie, konsepontwikkeling, beplanning, karakters”, ens. Die koste vir die slypskool, middagete, skryfbehoeftes en verversings ingesluit, is R250 vir die publiek en ‘n spesiale goedkoper tarief vir BSV-lede. Slegs ‘n beperkte aantal slypskoolgangers kan geakkommodeer word. Al die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd en een BSV-Beurshouer gaan ook die slypskool gratis bywoon en die prysoorhandiging van die wenners van die landswye BSV Skryfwedstryd, Skrywers 2012, geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV, vind tydens dié geleentheid plaas. Uittreksels uit die weninskrywings word dan ook voorgelees en die publikasie, Inkvars 2012, met die weninskrywings en beoordelaarsverslae, word tydens dié geleentheid bekendgestel. Protea-Boeke sal ook tydens die slypskool rillers en boeke oor kreatiewe skryfwerk uitstal. Die BSV borg jaarlikse ’n belowende skrywer wat nie die slypskool kan bekostig nie, om die betrokke jaar se Slypskool gratis by te woon. Indien u enige kandidaat wil nomineer, voorsien ons asb. van die naam, omstandighede en volle besonderhede, tesame met ’n voorbeeld van sy/ haar skryfwerk vir beoordeling. Om iemand te nomineer vir die skryfbeurs of om die laaste beskikbare slypskoolplekke op te raap, kontak asb. so spoedig moontlik vir me. Lelani Fourie (sekretaresse) by 0733883377, of stuur ‘n e-pos na bloemsv@gmail.com. Vir navrae i.v.m. die skryfbeurs kan u ook die BSV-voorsitter, Corlietha Swart, by 0825356822 kontak.

FRANCOIS BLOEMHOF  het nou reeds meer as 60 boeke in verskillende genres  die lig laat sien vir beide die volwasse- en jeugmark en is meermalig in elke kategorie bekroon, insluitend met die De Kat-prys vir sy debuutroman, Die nag het net een oog, Die Sanlamprys vir jeuglektuur, asook etlike ATKV-Veertjies, waar lesers self hul wenboeke aanwys. Hy het ook al bundels vir verskeie uitgewers saamgestel, was verhaleredakteur by Sarie en spesialiseer in eerstes. Spinnerak was byvoorbeeld in 2006 die eerste boek in Afrikaans met ’n vrouespeurder, en in 2008 was Rooi Luiperd die eerste Afrikaanse boek met ’n geheime agent as hoofkarakter. Albei boeke het tot reekse aanleiding gegee. Sy Agent Snoet-boeke saam met die illustreerder Alistair Ackermann is weer al Afrikaanse strokiesreeks vir jong lesers. Daarbenewens het hy die enigste Flipom geskryf, asook die eerste boek met ’n eie rekenaarspeletjie, die eerste tydskrifroman (Mooidraai Basuin) en die eerste boek met ’n oorspronklike CD-klankbaan (Hostis). Hy was ook ’n debuutwenner in RSG se jaarlikse radiodramakompetisie en skryf twee vervolgverhale vir dié sender, een daarvan 173 episodes lank. Almal se storie, wat in die koerant, Rapport verskyn het, was die eerste interaktiewe vervolgverhaal ter wêreld. Behalwe vir ’n kabaret en die verhoogstuk Die dae toe ek Elvis was, is sy drama vir tienerspelers, Hel op Hemel-en-Aarde, verlede jaar by die KKNK opgevoer en vir ’n Fiesta-prys benoem vir beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie. Hy is ook taalpraktisyn, skryf rolprentresensies en artikels vir tydskrifte en koerante en komponeer ook liedjies.

Lees nog oor die wenners van die BSV se skryfkompetisie van 2012.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top