Die besoek
My boudbene trek lam van die ongemaklike houtbankie waarop ek sit.
Dis ’n lang sit. Dis ’n lang wag. Dis ’n lang dag.
Ek skuif op die regterboud, dan die linkerboud, dan altwee.
By my loop mense met bruin uniforms verby.
Hulle lyk moerig, nie omdat hulle van aard moerig is nie,
maar moerig omdat hulle op ’n Sondag moet werk.
Ek kyk by die vuil vensters uit en sien die drieverdieping-
gebou aan die oorkant van die pad. Die gebou lyk maar soos
die klomp moerige uniforms wat dwaal.
Op die gebou se dak groei ’n plant, ’n boom of struik of ’n ding. Ek kan nie
so ver sien nie.
In die effense koelte van die plant sit ’n grys duif met sy vlerke effens oop
vir ’n koel windjie om deur hom te waai.
“Hoekom sal jy nou juis op die dak groei?” vra ek my af vir die plant.
“Wat sien die grys duif nou juis van daar bo af en is daar iets om te sien?” nog ’n vraag.
Ek het nie antwoorde nie.
So twee uur of wat later hoor ek iemand roep my naam. Ek staan op en
stap nader en kyk die moerige uniform in die oë.
Ek wil nie baie praat nie en ek vra na ’n klein bietjie stilte.
Iewers agter ’n dik sementmuur hoor ek die mooiste mansstemme sing.
Dis soos ’n koor, maar ook nie ’n koor nie. Dis net gewone sing wat so
’n stukkie hoop en liefde in my hart kom neersit.
Dis bleddie moeilik om hoop en liefde in hierdie plek te voel, maar tog voel
ek dit so tussen die singstemme deur. Dis diep sing. Seer sing. Hartseer
akkoorde en droewige harmonie, maar tog braaf.
Die man wat voor my sit, se oë is koningsblou. So blou soos die see en die hemel se
blou saam.
Sy oranje oorpak is netjies skoon maar ek kan sien dis lank dra se klere wat plek-plek
uitrafel. Die linkerkantse skouer- en mou-deel van die oorpakbaadjie is meer verbleik as die res van die oorpak. Ek wonder hoekom? ’n Mens se hart sit mos in die linkerkant van die lyf. Dis die gee-kant, die vroulike kant, die moederskant. Dis ’n teken van omgee, kom lê die gedagte in my kop.
“Nee wat, dit gaan maar aan,” praat die man.
“Dinge gaan gou verander, jy sal sien,” sê ek.
Na ’n rukkie groet ek die blou-oog man en stap weer by die deure uit, kyk na die
moerige uniformmense en ek kyk vir ’n laaste keer na die plant op die drieverdiepinggebou se dak. Daar sit nou twee grys duiwe in die koeltetjie van die plant.
“Wat nou?” vra ek vir die duiwe.
Hulle skud hulle vere reg, trek hulle nekke styf en vlieg weg. Hulle vlieg in die blou lug in op, oor die blou see, deur nog blou lug, deur nog see.
Die gebou se naam is Tronk
Die blou-oog man se naam is My Broer.
Kommentaar
Kosbaar en só mooi.
Uitstekend, rou, eerlik, broos, Stanley.