Die Berg en Sy miere

  • 11

Dit werk so. Kennis omtrent God is soos ’n berg. Baie mense praat oor die berg, ander wil weer nie iets van die berg weet nie, maar vra mekaar uit en debatteer en filosofeer of daar wel so ’n berg is, en ander weer wil inligting hê oor sekere dinge wat destyds van die berg af saamgebring is, alhoewel diegene wat die inligting soek, niks van die berg self wil weet nie, en allerhande gekunstelde filosofieë daaromtrent fabriseer. Die berg is daar, maar baie mense weet nie werklik hoe die berg lyk nie. Ander weer, glo gewoon nie dat daar wel so ’n berg is nie. Party ander, weer, weet nie eens waar die berg is nie. MAAR - Ander, lank voor ons, was al op die Berg, en het ’n Handleiding daaroor geskryf.

Dit is soos om ’n berg te gaan klim, maar om die berg te bestyg, moet jy die Handleiding neem, bestudeer, die roete nougeset volg, en dan, plotseling, kom jy af op die eerste 15 meter hoë rotswand wat jy moet bestyg.

As jy voor die rotswand staan, sien jy weinig meer as die rotswand, want dit is jou hele verwysingsraamwerk op daardie stadium – maar in werklikheid is dit immers net die een klein toonnael van die berg!

Soos jy met noulettendheid die Handleiding volg, en die rotswand bestyg, kom jy bo-op die rotswand, net om te sien dat jy eintlik nog aan die voet van die berg is. Gaandeweg klim jy die berg, en soos jy klim, kry jy meer en meer perspektief van hierdie massale struktuur – en ook meer Kennis.

Wanneer jy uiteindelik die ‘kruin’ van die berg bereik, sien jy maar dit is nie werklik die kruin nie, inteendeel, dit is maar die begin van ’n tamaai al hoërwordende bergreeks, waarvan die einde nie in die horison skimmel gesien kan word nie. Tog fassineer die berg en alles daaromtrent jou geweldig, en gaandeweg, soos jy vorder, begin jy die struktuur en die wese van die berg verstaan - hoe dinge daar op die berg werk. Hoe die winde waai, hoe die seisoene verander, die geweldige diversiteit van fauna en flora, die verskillende rots tipes en ag, meer en meer. Jy vind ook daarbo is die lug so ontsettend skoon en verfrissend (sonder chemiese dampe), die water verfrissend (sonder chemikalieë), voedsaam en verkwiklik soet, die uitspansel onbeskryflik helder en blootgestel - dan sien jy op ’n helder dag dat die hoof bergreeks se spits so hoog is, dat jy dit nie tot by die uitspansel sal bereik nie.

Maar intussen leer jy ook weldeeglik van hoe dinge daar op die berg werk - jy leer en sien dat alles wat daar onder op die grond is, van die berg af kom, op een of ander manier, net aangepas om op die grondvlak te oorleef. Daar is ook baie ander dinge en veral ervaringe op die berg, wat eenvoudig nie op grondvlak sigbaar of te ervaar is, nie.

Jy leer ook dat die berg ontsettend vrygewig is, en jy kan vet word van die heerlikheid daar - maar die berg het sy Reëls - Reëls veel groter as jyself. Jy kom agter jou geleerdheid, jou batige balansstaat, sosiale status, jou aansien by jou vriende en assosiate, jou posisie in die sakekamer en by die wetenskap klub, die nommer van jou sitplek in die kerk wat jy vir jouself gekoop het al daardie dinge - het maar niks, nul en gener waarde daar bo op die berg nie - daar is jy so nietig en so klein soos die mier wat jy nou net sit en bestudeer het, terwyl hy vlytig sy kossie aandra. Inteendeel... daar kom jy agter hoe min jy werklik geweet het, voor jy daar gekom het. Jy kom die berg se Reëls na, ja, want daar is net geen manier hoe jy dit gaan verander of selfs net n indruk daarop gaan maak, nie, geen manier nie... dit is té ingeburger, té ewig, té konsekwent... jy is te nietig daarvoor, so ‘n spikkeltjie in ‘n oseaan van ander spikkels – jy weet om die reëls van die berg te gehoorsaam en nie onnodige kanse te waag nie (die Berg is nie ongenaakbaar nie, maar streng – Sy Reëls kom al van ewig af voor jou) - of jy betaal gewoon die prys. Bly in die Reëls, en jy floreer in vrede en in voorspoed en in veiligheid.

Maar wanneer jy van die Berg afkom (‘n nuwe, ander mens, sê ek jou), weet jy dat jy by die Berg hoort en nié ooit weer sal weggaan, nie.

Maar dit is ook dán wanneer die spekulerende en filosoferende ouens, party met hul hutspotte, ander weer, met hul klipdrift en coke, ander, weer, met hul wetenskap laboratorium jassies en flessies, jóú teëkom, maar vir mekaar sê dat die berg sus of so, is en spekuleer en filosofeer oor die berg, en selfs of die Berg hoegenaamd bestaan. Dan wil hul hê jy moet aan daardie spekulasie meedoen. Jy móét spekuleer, verhipotekeer, want as jy uit kennis praat, is jy onwelkom, is jy ‘n bedreiging, is jy ‘n vreemde fenomeen... want ware Kennis maak ‘n abrupte en al te dikwels glanslose einde aan spekulasie, filosofie en hipotese, wat tot skynwaarhede verhef word deur die ego’s wat dit moet dien – Ware Kennis beëindig loopbane, vermorsel skyn vernaamheid en bring sekerheid... Wie van hulle wil sekerheid hê? Watter nut het sekerheid en ware Kennis? Is dit nie hul vyand nie? Waar sal hulle werk kry, professorate bekom, doktorsgrade kan verwerf, ander kan imponeer en intimideer en hulself vernaam kan maak, as hulle moet ophou spekuleer oor álles op Gods aarde? Waarmee sal hulle hulself dán besighou?
Sodra jy sê nee, maar ek wil nie spekuleer nie, wag, ek weet wat daar aangaan - dan skreeu hulle met wilde uitdrukkings in die gesig vir jou "f-off !! Wat weet jy, wie is jy, waar kom jy vandaan, wat se professie beklee jy, wat is jou bankbalans, was jy al op Carte Blanche, ons weet veel meer van die berg as jy, kyk, ons het die berg bestudeer van hier onder af en kyk die berg bestaan nie"... so asof dít enige verskil sou maak of effek het op die Berg T-hemp wat jy dra...

Ek besoek die Berg baie gereeld. Ek lééf daar. Ek wil nie hê sulke mense moet met my veg daaroor nie. Ek wil ook nie hê sulke mense moet vir my kwaad word daaroor nie. Hulle word vir my briesend omdat ek te veel weet van hóé dit met hulle is, omdat ek dié Kennis op die bekom het en die Berg ken – en die Berg, my. Ek besef ook dat almal nie bergklimmers is nie, natuurlik nie. Maar dis dwaas, só dwaas, om vir die bergklimmer te vertel hy weet nie van die Berg nie ... en net so dwaas om nie te wil hoor wat hy oor die Berg te vertelle het, nie ... terwyl hulle juis oor die Berg of Sy dinge spekuleer.

Dus, ék kan nie van almal Bergklimmers maak nie, maar ek kan hulle vertel wat op die Berg aangaan – hulle vra dan daarna, maar wil nie regtig weet nie, omdat ware kennis hul vyand is. Hulle stry met mekaar daaroor, maar, omdat die antwoord van my kant, nie is wat hulle verwag, wat hulle eintlik wil hoor nie, in hulle vooroordeel, verwerp hulle my, soos gekke, sonder om te hoor wat ek sê omdat hulle nie werklik wil ophou stry, en twis, nie. Ware Kennis is immers hul vyand.
Daarom sê ek die klomp is dom – nie onintelligent nie, maar dom in hulle bevooroordeelde wegwysing van Kennis. Kennis wat hulle self op die Berg kan opdoen, waartoe ek hulle gedurig nooi. Maar ware Kennis is immers hul vyand, ‘n bedreiging vir hulle. Dus beledig ek hulle nie, ek is ook nie verwaand nie – ek probeer tot hulle deurdring. Baie van hulle staan doelbewus op die rand van die domgraf, want dit hou hul besig in hul klein wêreldjies.

Vele hier op die net kibbel oor die wetenskap. Vir die nederigmakende Bergervaring se onthalwe, en vir dáárdie rede, hou “groot” name soos Darwin, Dawkins, Hawking, Penrose, Kant, Hegel, Einstein, Von Braun, noem maar op, vir my nie veel betekenis in, nie. Hulle, net soos ek en jy, is ook maar net miere. Met die verskil, egter, dat ek en ‘n paar ander, is darem miere wat al op die Berg was, waar ek terdeë bewus geraak het van ons mierskap – dit is nederigheid.

Hulle daarenteen, en hulle aanhangers, was nog nie daar nie, en wil ook nie, want vir meeste miere is dit nie lekker om te besef hulle is miere nie. Hulle wil eerder elkeen die Berg wees, maar sal dit nóóit wees, nie. Daarom bly hulle in die stof aan die puntjie van die toonnael van die Berg rondkrap en maak wilde en groot, en in baie gevalle, maar leë stellings. Dan stel hulle vir hulleself spieëls al rondom op, en die illusie word vir hulle geskep dat hull groots is – grootse miere – steeds net nietige miere.

Nou, dit is die realiteit. God is die begin en ook die einde van alle wetenskap. Die wetenskap begin by God en eindig by Hom – Om te weet, begin jy nie in die middel nie, jy begin by die begin – die empiriese wetenskap. Maar die empiriese is bloot ‘n klimraam na die voet van die Berg. Daar op die Berg - Sy naam is Sion – sál jy die antwoorde vind, want hulle ís daar. Vir die wat belangstel, gaan klim op daardie Berg – jy word nie met ‘n helikopter na die kruin geneem nie, want jy sal te veel mis, te onkundig bly – jy begin by die toonnael, en klim die Berg vir ‘n onvergeetlike informatiewe en uitgebreide lewensles.

Daar is, Goddank, mense soos ek - sommige van hulle skrywe ook hier op hierdie forum - wie reeds op die Berg was, en maklik teruggaan, wie kan help met die klimmery, en dit is daar natuurlik waar die Handleiding van hierdie Berg – die geskrewe Woord, die Bybel, onontbeerlik is. Maak nie saak watter mier-mensehande betrokke was by die opskrywe daarvan nie, of hoe ryk of arm of van aansien of nederig hul was nie, want, wanneer jy van die Handleiding afhanklik was om in die eerste plek op die Berg te kom, soos ek, dat wéét jy dat die Handleiding uit ervaring en persoonlike blootstelling geskryf is, maak nie saak wie dit agterna vertaal het nie – die inhoud is betroubaar. En deeglik. Die katolieke en ander miere was en is te klein om hieraan te verander (vandag se goddelose miere het heeltemal hul eie ding geskrywe - so dit is ook nie ’n struikelblok vir dit wat reeds bestaan nie).

Maar dit werk op die prinsiep van ’n goeie begrip wat ‘n halwe Woord nodig het – daardie begrip word gevestig deur ‘n opregte belangstelling in en ervaring van, die Berg en gaandeweg geslyp soos daar teen die Berg uitgeklim word. Niemand vra vir die Berg, waar kom die Berg vandaan nie, eer die Berg dink jy’s verwaand. Die Berg IS daar.. nie toegesluit nie – oop – maar met definitiewe dissipline en reëls... en ons miere kom almal van die berg af.

Ek sien mense op die net met die potensiaal om baie goeie Bergklimmers te wees – intelligente mense wat, as hul van hul energie in die Bergklim ook sou investeer, uiters nuttig en voordelig met daardie Kennis sou kon voortgaan. Die empiriese wetenskaplike klouterraam is vir sommige die trappies na die voet van die Berg en daar, by die voet, wag die Handleiding vir hulle want verder gaan die klouterraam hulle nie kan dra, nie. Die Handleiding vir is almal.

Groete,
Kobus de Klerk

 

  • 11

Kommentaar

  • Kobus

     
    Jou berg laat my alte veel aan daai wentelende teepot dink.
     
    Miskien in Kammaland...................
     
    Thomas
  • Kobus de Klerk

    Ek weet, Thomas. Ek het nie verwag dat jy en Russel beter insig sou hê, nie. Dit is dan juis waaroor dit gaan.... jy ondersteun dus juis my punt.

    Fabels is julle ondergang.

  • CorneliusHenn

    Elke gelowige en ongelowige mier wat nie voor Kobus de Klerk op sy berg buig nie sal met sy toornige neerhaling getref word!

  • Kobus,

     
    Fabels is juis die ondergang van Christenisme, want die Christen se geloof is daarop gebaseer: slange en bome wat praat, ribbebene wat eensklaps in vroumense verander, agteruitkykende vrouens wat in soutpilare versteen, water wat in wyn verander, maagdelike geboortes, mense wat op water  loop, wat wil jy nog meer hê? As die evolusieleer op sulke twak gebaseer was, dan kon jy en Dolf  julle gate uit geniet het. 
     
    Enige regdenkende mens kan mos sommer sien die Bybel bestaan uit mites, fabels en legendes; nogal vergelykbaar met enig iets wat Broers Grimm of Homerus kon opdis. Vergelyk bv. Simson (julle weet mos, die ou wat 1000 Filistyne met 'n eselskakebeen doodgeslaan het, ) met Herkules, of Lot se vrou wat omgekyk het, met wat met iemand gebeur wat in Medusa se oog kyk.
     
    Groete
    Angus
  • Kobus de Klerk

    Ek sal jou weereens moet reghelp, Angus, en dit dat die Christendom die sterkste Godsdiens aanhang  in alle eeue het - om te praat van ondergang, is dus maar wensdenkery van jou en natuurlik deel van die selfdesepsie.

    Die simboliek, beeldspraak, metafoor ens wat in die ryke dinamika van die Woord aangewend word, is mos darem immers bokant jul vuurmaakplek - let maar op die temerige, strak aanbieding van julle gegewens. Dit spreek die oppervlakkige vermoëns van die agnostikus aan. Die agnostikus kan mos nie die dinamika van die Woord begryp, nie?  Daarom is julle tog immers agnostici!

    Nie een van julle sal kan begryp hoe die spirituele wesens teenoor die mens, manifesteer, nie. Dit is werklikhede, wat met fabels niks te make het, nie.

    Fabels is die gode en hul dinge wat mense vir hulself versin het, en saam met die mense wat hulle versin het, vergaan, het.  Van die ou Griekse fabel-religieë het niks oorgebly nie. Net julle, die agnostici, sukkel nog daarmee, omdat julle nie weet wat om daarvan te maak, nie. Die ware Godsdiens, daarenteen, floreer al vir die afgelope 3,500+ jaar en daar is steeds geen einde aan nie - dit floreer steeds want die God van die Godsdiens, LEWE. Dit is verbasend dat julle nie die verskil tussen uitgediende fabels en werklike Goddelikheid kan insien, nie.

    Waarmee julle besig is, egter, is werklike fabels. Dit sal ook saam met julle vergaan.

    Dus, volgende keer as iemand vir jou sê jy is 'n aap, en Kerneels is 'n slang - onthou dan dat julle twee verdwyn, want julle is dan, ooreenkomstig jou konstruk,  nie-bestaande fabels - mense wat in diere en reptiele ontaard, het!

    Mens sukkel soms om te aanvaar dat julle  julself so maklik verneder en in verleentheid stel.

    en MOENIE die fout maak om allerlei afleidings te probeer maak van wat ek nou hier sê, nie - jy sal dit nie regkry om tot die regte slotsom te kom, nie.

    Kobus de Klerk

  • Beste Kobus, 

    Ek moet jou dit toegee: die Christendom, die Islam en die Boeddhisme het so ’n groot aanhang dat die ateïs altyd aan die minderheid sal bly. 

    Uiteindelik stem jy met my saam dat die Bybel metafories gelees moet word. Hier moet ek ook toegee dat jy my reghelp, want ek het jou altyd as ’n uiterste fundamentalis beskou wat die Bybel letterlik verstaan. 

    Beeldspraak soos die vergelyking en die metafoor is wonderlike stylmiddele wat die taal soveel verstaanbaarder maak. Wanneer die verduidelikende gedeelte van hierdie beeldspraak tot verhaal uitgewerk word, kry dit simboliese betekenis en word dan ’n allegorie, mite, fabel, gelykenis of legende genoem al na gelang van die inhoud en strekking van die verhaal. (Indien jy nie verstaan nie, moet jy net sê, dan verduidelik ek aan die hand van voorbeelde.)

    As jy dus sê dat die Bybel metafories gelees moet word en dat dit simboliese betekenis het, en jy gaan kyk na die inhoud en strekking van die verhale, dan is dit duidelik dat die Bybel uit mites, legendes, fabels en gelykenisse bestaan. 

    Volgens jou skrywe hier op SêNet, is daar egter twee Bybelse verhale wat jy nie metafories simbolies lees nie, en dit is die sondvloed en die maagdelike geboorte van Christus. As hierdie verhale nie simbolies is nie, maar werklike gebeure, dan is hulle blootgestel aan historiese en wetenskaplike ondersoeke, soos jy blykbaar al besef het. 

    Soos dit vir my lyk, word die Bybel letterlik vertolk soos met die sondvloed, wanneer daar genoeg skewe kreasionistiese skryfsels is om dit histories, geologies en wetenskaplik te verklaar. Sodra die Christen nie weet watter kant toe nie, dan is dit ewe skielik simbolies soos met die ribbebeen storie.

    Groete,

    Angus

  • Kobus

     

    Ek en jy sal nooit om dieselfde vuur raakende gay-lewe en die Bybel kan vrolik saamsit  nie, maar ek wil wel die vrymoedigheid neem om jou te komplimenteer op die volgende, en waardeur ek glo jy meer geneentlheid van die leserspubliek gaan geniet, sonder om enige van jou sieninge hoef prys te gee nie.

    1.   Jou onlangse briewe is nou heelwat korter en tot die punt, sodat die leser nie soos voorheen halfpad vassit en die draad van jou argument verloor nie.

     

    2.  Jou hoflike benadering tot jou opponent, dog die nodige steek sonder die tradisionele vulgariteit nog kan indien.

     

    Jaco Fourie

  • Kobus de Klerk

    Angus

    As jy in staat was om die beeldspraak en taalmiddelle van die Woord te begryp, asook die doel van sulke beeldspraak en taalmiddelle, sou jy besef het dat die nie fabels is nie, maar metafoor en beeldspraak wat werklikheid verduidelik en aanbied in verstaanbare, verteerbare formaat vir menslike begrip - met die nodige geopenbaarde insig van die Heilige Gees van God daarby , natuurlik.

    Dus, die hele Woord, met sy aanwending van plek tot plek van veral metafoor, simboliek, idioom, beeldspraak, ens. handel oor absolute werklikhede. Bietjie van die nodige insig sal onmiddellik openbaar welke is direkte getuienis en welke is metafories, beeldspraak of simboliek, idioom, ens. vir die werklikheid waaroor daar getuig, word.

    Die opgetekende Woord is 'n wonderlike dinamiese werk, waar moeilike begrippe met die effektiewe en beskrywende taalgereedskap en -funksies aangebied en verduidelik, word.

    Maar wanneer dit julle pas, veral waar dit by God en SY Woord kom, dan is julle taalvermoë skielik uiters geïnhibeerd. Die fout is julle s'n, nie die Woord, s'n nie. Die meegaande insigloosheid, werk dan mos ook so.

    Kobus de Klerk

  • Kobus,

    jy het nie die vaagste benul wat beeldspraak (maw vergelyking, metafoor, simbool, allegorie, ens.) is nie. Die Bybel is vol van hierdie taalverskynsels en dit verskil hoegenaamd nie van enige ander letterkundige genre s'n nie. 
     
    Die stukkie onsin wat jy hierbo kwytraak  getuig van jou onkunde. Al wat jy kan sê is dat die bybelse beeldspraak kastig te ver bo die "julle" se vuurmaakplek is. Verder bedek jy weer jou onbeholpenheid met 'n klomp sinnelose onsin.
     
    Gaan maak eers 'n studie van beeldspraak voordat jy verder jou onkunde ten toon stel.
  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Op die ou end gaan dit maar weer oor jou wat voor die spieël staan en galbraak, sekerlik omdat jy in 'n hoek, is. Nou probeer Jy die aandag afwentel met 'n taalkwessie. Maar selfs daardie poging van jou is nutteloos.

    Jy sien, ons weet daar is baie pragtige taalverskynsels en taalgereedskap in die Bybel, die Woord. Maar wat jy in geen studieboek geleer gaan kry, is presies wat  'n taalverskynsels soos n metafoor of veral beeldspraak, in elke besondere geval, beken, nie, in die besondere konteks en verband tot die res van die materiaal waarin duit gebruik word, nie, veral as dit dikwels daar gebruik word., soos byvoorbeeld in die Woord. Die beeldspraak, metafore en dies meer verwys elkeen na werklikhede, nie fabels, nie. En daar is geen boek of studie wat jou gaan leer wat dit telkens soos aangewend, beteken, nie - daarvoor het jy insig nodig - en die geval van die Woord, is dit Spirituele insig - en natuurlik Spirituele Intelligensie.

    Dit is waar jy as agnostikus die kluts kwyt is. Jy sal eenvoudig, so lank jy in jou agnostisiteit voortploeter, nie regkom nie. Trouens, dit is duidelik 'n kenmerkende fenomeen by agnostici - hulle het eenvoudig nie insig in die Spiritualiteit van die Woord, nie

    Terloops, dit is verbasend insigloos om te selfs te suggereer dat mens kan gaan studeer wat die betekenisse van die begrippe wat telkens met sulke taalgereedskap  aangedui word, is. Digters gebruik dit ook baie dikwels, maar daar is geen manier hoe jy kan geen studeer wat die betekenisse daarvan is, nie. Daardie taalgereedskap word juis aangewend om die ryke dinamika van die begrippe en feite wat daarmee voorgestel word, ast'ware te versteek om sodoende die insigvolle leser te stimuleer, terwyl dit die oppervlakkige leser sal frustreer as betekenisloos of onsin.

    Hoe dikwels sien ons nie julle agnostici se frustrasie, omdat julle die Woord in Sy geheel konteks nie en in die besondere kontekste daarvan, kan begryp, nie!

    Jy besef dit, en probeer die aandag aftrek. Maar, jy slaag nie.

    Kobus de Klerk

  • Nou is jy regtig besig om te gorrel ou Kobus. Jy het geen benul van wat beeldspraak is nie. Beeldspraak  bestaan uit vergelyking, metafoor, simbool en as dit volledig uitgebrei word, kry ons die parabel of gelykenis, die allegorie, die fabel, ens.

    Vergelyk dit met jou onsin: " Die beeldspraak, metafore en dies meer verwys elkeen na werklikhede, nie fabels, nie.

    Die fabel bied ’n sedeles op aanskoulike wyse aan en diere en bome tree daarin op. Vergelyk  bv. die slang se gesprek met Eva, en die gevolge daarvan. Dit is ’n uitgewerkte metafoor, maw. waar ’n metafoor kort en kragtig is, is dit hier in die vorm van ’n verhaal, ’n fabel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top