Oom John woon al nou agt jaar in die ouetehuis, die mooi siersteengebou regoor die Magnoliawoonstelle waar soveel mense in een kamer bly. Hy het die gewoonte om voor die ouetehuis met sy hoë traliehekke te sit en rustig sy pyp te stook. Hy druk die Boxer-tabak stewig in die pyp en gee dan ’n smaakvolle teugie. Dit lyk asof die wêreld net vir hom bestaan. Deur die walms van sy pyprook hou hy die bewegings buite die ouetehuis dop. Die wasgoed wapper in die wind teen die hang van die trap. Soggens vroeg is daar ’n geskarrel as mense teen dagbreek die woonstelgeboue verlaat om te gaan werk , en dan hoor hy die skril geluid van die taxi’s soos die toeters geblaas word.
Dis sy teken – dis koffietyd en hy weet tant Sannie wag iewers binne vir hom. Die twee is onafskeidbaar en moet altyd hul eerste koffie soggens saam drink. Oom John gaan dan weer na buite om weereens ’n ou rokie te maak en die skoolkinders in hul rooi en wit klere te sien verbyloop skool toe. Vanaf die diep stoel op die voorstoep volg sy oë hulle die straat af. Die kinders kom van alle kante, uit die woonstelle en ook uit die sinkhokkies langs die pad.
Hy kan hom tog so verwonder aan die verskillende kleure waarin die woonstelblokke geverf is. Hy en tant Sannie stry altyd oor hoekom dit nou so pienkerig lyk. Saans lyk dit net soos hostelblokke op skool, maar gedoriewaar hier bly groot gesinne. Laatmiddag stoot hy tant Sannie altyd langs die draad van die ouetehuis af en praat hulle oor hoe baie mense in een woonstel woon, en oor die sinkhokkies aan die linkerkant van die pad wat met draad, plank en seil aanmekaar getimmer is, maar staande bly in wind en weer. Hulle gesels dan verder oor die kinders wat ook saans so laat buite speel, en hoe dit van hul grootworddae verskil.
Klokslag elke einde van die maand lui Catherin se telefoon. Dit is oom John se oproep uit die ouetehuis: “Kind, wannneer bring jy my pakkie?” Dit is nou sy sjokoladekoek, sy Boxer-tabak en twee liter koeldrank. Ai, dink Catherin hardop nadat sy die telefoon neergesit het, laat ek dit vir hom neem, hy vra tog so min. Oom John sien so uit hierna, want nadat die ouetehuis se geld afgetrek is, het hul so min pensioengeld oor. En hy deel graag die snuisterye met sy vriendin Sannie. Hy het ook so min familie, en geen kinders nie.
Catherin en haar man ry dan getrou na die ouetehuis en draai links in verby die AME Hunters Temple-kerk tot by die ouetehuis oorkant die woonstelle, en daar wag hy op sy uitkykpos voor die deur. As hulle daar kom, luister hul graag na al sy drome – en sy grootste droom is om met tant Sannie te trou. Vandag vertel hy hulle weer dat hy oor twee maande op sy verjaarsdag met haar gaan trou, dat hy met die predikant daaroor gepraat het. Hy noem ook dat hy reeds sy belofte aan haar gemaak het, en dan deel hulle ’n glimlaggie wat net hulle twee verstaan en streel hy so saggies oor haar hand. Oom John is al 70 en Catherin en haar man glimlag net as hy so gesels.
Een Saterdagaand so ’n week ná hul laaste besoek, lui die telefoon in Catherin se huis: “Die ouetehuis brand, luister na radio KC” is al wat sy hoor, en sy weet nie eens wie praat nie. Sy gooi die telefoon neer, spring in die jeans wat op stoel lê en skreeu op haar man om die motor kry. Dis donker en hoor die gille en geskreeu in die donker nag toe hulle die ouetehuis nader. Rookwalms bol die lug in en skrefies van die berg verdwyn onder die rook. Die inwoners van die woonstelle, wat tot nou luidrugtig partytjie gehou het, bars die ouetehuis binne en begin die mense uitdra, want dié wat kan loop, loop te stadig. Daar is ‘n warboel van hande wat gryp en help.
Familie en vriend daag op om oom John te soek, maar niemand kry hom nie. Catherin trek amper haar hare uit haar kop, en skreeu: “Waar is my oom?” Elke oumens se gesig lyk soos syne. Paniek gryp haar binnesste vas. “Dis my enigste oorlewende oom, waar is hy?” Catherin gryp en help hier en daar in die hoop dat sy hom iewers sal kry. Die vuur is nou so erg en die walms van die rook so versmorend dat dele van die gebou nie bereik kan word nie.
Die nag is amper verby voor die vuur in die gebou effens geblus en die mense getel kan word om seker te maak almal is daar. Die oues word tydelik in die Paarl Zicht Laerskool, ’n paar meter van die ouetehuis, gehuisves.
Uiteindelik word Catherin en haar man ontbied. Sy gryp hom vas en loop styf teen hom na die hoof se kantoor. Voor hul sit die dominee. Iets moes met oom John gebeur het. Haar kop raak seer, haar oë pyn en dit voel asof elke deel van haar liggaam styf span, en dan hoor sy dit asof in haar slaap: “Jammer, mevrou, dat ek julle hierdie nuus moet gee, maar jou oom is dood.” Rou snikke skeur deur haar. Catherin voel asof sy op die berg staan en kantel, val en sweef.
Stammelend kom die woorde: “Waar is hy en hoe het hy verbrand?” Dan antwoord die dominee: “Mevrou, dit wil voorkom of oom John se vriendin tant Sannie vanaand ’n bietjie siekerig begin voel het en na die siekeboeg geneem is. En omdat die siekeboeg so vol was, is daar aan die agterkant van die siekeboeg vir haar ‘n bed ingedra. Dit wil voorkom of die brand iewers in daardie omgewing begin het en dit blyk hulle kon nie betyds by haar kom nie.
“Nou wat het dit met my oom te doen?” vra Catherin deur haar trane.
Kalm en baie ernstig vertel die dominee dat oom John vermoedelik vir haar gaan kuier het. Hy het seker vermoed dat iets fout was, en wou haar nie verlaat nie. Hy het ook besef dat hy haar nie sou kon optel nie, en toe langs haar op die bed geklim, en daar het hul albei versmoor.
Trane stroom oor haar wange en sy dink dat hy hom nou nie meer sal bekommer oor die motors wat so vinnig ry in die straat voor die ouetehuis waar so baie kinders speel nie. Hy sal hom ook nie meer bekommer oor die deel skuins oorkant die ouetehuis by die opslaanhokkies waar prostitusie bedryf word nie. Die sport wat die kinders Sondagmiddae gespeel het, wat hy so geniet het, sal hy ook nie meer kan sien nie.
Catherin is onmiddellik woedend dat die ouetehuis toegelaat het dat hy so alleen by tant Sannie gesit het, maar later vermeng die hartseer met die wete: Hulle is bymekaar. Hoe vreemd, want dit was hul hartewens, iets wat sy en haar man te stadig was om uit te voer.
Die twee kiste sak in die grond, die een bo die ander, te midde van die weemoedgesang, maar ook die wete die sirkel is voltooi. Stadig klim die roubeklaers in hul motors en ry deur die hekke van die begraafplaas en links verby die verkeersirkel in die rigting van die berg en eindig dan by die Strauss-saal in Paarl-oos met sy uitkykpunt oor die berg. Dis hier waar familie en vriend vir oulaas hul laaste herinnering rondom ’n koppie tee deel en berus – oom John het sy belofte gehou.


Kommentaar
goeie beskrywing van omgewing, definitief 'n lees werd
Baie lekker-lees storie