Die beheptheid in godsdiens met bonatuurlike verskynsels

  • 3

Vanaf die vroegste tye word vasgeklou aan die gedagte dat mistieke en bonatuurlike verskynsels inherent aan godsdiens is.

Hierdie beheptheid verhoed dat godsdienstiges die werklikheid in geskrifte raaksien en as natuurlik herken; dit geld veral wat betref die Bybelboeke Daniël en Openbaring. Albei is apokaliptiese geskrifte wat ná uiters traumatiese tydperke in Israel se geskiedenis tot stand gekom het. Beide boeke bevat geskiedenis én profesieë wat met bonatuurlike apokaliptiese voorspellings vermeng is.

Hoofstukke 2, 7 en 8 van Daniël dui die toekomstige wêreldryke aan wat oor Judea sou heers: die Galdese, Persiese, Griekse, Romeinse en Wes-Romeinse Ryke. Die visioene van die vier diere en twee ramme verskaf verdere besonderhede oor die Romeine en Grieke. Die toevoeging van wonderwerke – soos met Daniël in die leeukuil – en werklike kennis oor Antiogos se onderdrukking verdwerg egter die aardse werklikhede wat hierin voorspel word.

Openbaring benut weer voorspellings van wêreldse gebeure uit die profetiese rede. Die eerste vyf seëls bevat kriptiese beskrywings van die tempel se afbrand tydens die Joodse oorlog en die vervolging deur Nero, waarmee die profetiese rede begin. Dit is ooglopend met ’n vergelyking van Josefus (1988:281) se beskrywing daarvan en die ontleding in die A-Z van Openbaring (Du Rand 2007:272; 278). Dit was reeds geskiedenis met die skryf van Openbaring. Verdere voorspellings uit die profetiese rede word slegs as metafore van bonatuurlike oordele met die trompette en bakke beskryf.

In die profetiese rede word gebeure tydens die verval van die Romeinse Ryk egter akkuraat en in kronologiese volgorde uiteengesit. Die verwysing na Zeus in Matteus 24:15–22 as die “gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat”, identifiseer die onderdrukking van die Bar Kokhba-opstand waarmee keiser Hadrianus in 134–135 nC die Jode, tesame met hulle godsdiens, wou vernietig. Dit het begin met die tempel vir Jupiter Capitolinus (die Latynse naam vir Zeus) wat Hadrianus op die tempelterrein laat oprig het.

Die volgende gebeure tydens die “koms van die Seun van die mens” in Matteus 24:23–30 verwys eweneens na Daniël 7, volgens die Bybel 2020-vertaling se voetnoot. “Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls versamel” is daarom ooglopend die vierde dier (Romeine) wat gedood en verbrand is, volgens Daniël 7:11. Die Germane het die laaste keiser in 476 nC met ’n koning vervang. Hulle is weer in 536 nC deur die Bisantynse Ryk verdryf, waarna Justinianus die Wes-Romeinse Ryk amptelik ontbind het.

Die verdere gebeure in Matteus 24:29 – “Onmiddellik ná [...]” – met die son, maan en sterre wat verduister is (nes Openbaring se sesde seël), is ’n eenduidige beskrywing van die vulkaniese winter van 536 nC waartydens die hele aarde vir 18–24 maande verduister was tydens die jare 536–538 nC. Dit was ’n natuurlike kataklisme, maar uniek in die menslike bestaan – selfs bygelowiges het dit as ’n voorbode van die gode beskou. Die geweldige effek daarvan op die samelewing word duidelik aangedui in The letters of Cassiodorus (Cassiodorus 1886:518–20).

Net so beskrywend is die verwysing na die plaag van Justinianus (541–549 nC) wat daarop gevolg het. Miljoene mense het daaraan gesterf: “[D]an sal al die stamme van die wêreld rouklaag” (Matteus 24:30).

Daarna word die “koms op die wolke” (Matteus 24:30) hoogs beduidend met die Griekse woord paroesie beskryf; dit wys na die Heilige Gees, die Parakleet, wat sy plek op aarde ingeneem het – ’n aktiewe teenwoordigheid, volgens ’n uiteensetting deur Du Rand (2007:620). (Sien Daniël 7:13: “[M]et die wolke van die hemel [...].”)

Die voorspellings van Daniël en die profetiese rede gee aldus die aardse infleksiepunte oor meer as ’n millennium weer, vanaf die bevel van Kores in 538 vC tot die sesde eeu se begin van die moderne Europese geskiedenis.

Dit is slegs die beheptheid met bonatuurlike gebeure en wonderwerke wat kan lei tot ’n voorkeur aan ’n menslike geskrif soos Openbaring bó die profetiese rede van Christus.

Die akkurate toekomsvoorspellings in die profetiese rede is nie menslik moontlik of verklaarbaar nie, so ook nie die visioene van Daniël nie. Dít is die enigste bonatuurlike gebeure.

Dieselfde beheptheid met die bonatuurlike het ook gelei tot die siening van Christus as “gekruisigde verlosser”: “[W]ant ek het dit [evangelie] nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur ’n openbaring van Jesus Christus” (Galasiërs 1:12). Paulus beskryf die wederkoms in 2 Tessalonisense 1:6–10: “Hy sal dit doen deur die openbaring deur die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in ’n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen [...].” 

Die beheptheid met hierdie bonatuurlike verwagting het tot ’n uiterlik opsigtelike godsdiens gelei, volgens Paulus se siening. Dit is die metaforiese breë pad van Matteus 7:13–14. Dit is misleiding wat met die vulkaniese winter van vyftien eeue gelede tot ’n einde moes kom.

Dit staan duidelik teenoor die evangelie van Christus soos deur die bergrede en profetiese rede verteenwoordig word, ’n evangelie oor áárdse optrede wat op menslike wyse onderrig is vir drie jaar, gevolg deur ’n “wederkoms” deur paroesie (παρουσία) – sy aktiewe teenwoordigheid by ’n áárdse lewe. Hierdie metaforiese smal pad is moeilik om te vind midde in die opsigtelike breë pad met sy bonatuurlike beheptheid.

........
Dit is dan nou die twee strome van denke: die Here Jesus as die Seun van God wat eenmalig gekom het om sy koninkryk op aarde te vestig, volgens die evangelies, teenoor ’n menslike offer vir sonde in Paulus se briewe en Openbaring.
.........

Dit is dan nou die twee strome van denke: die Here Jesus as die Seun van God wat eenmalig gekom het om sy koninkryk op aarde te vestig, volgens die evangelies, teenoor ’n menslike offer vir sonde in Paulus se briewe en Openbaring.

Christus is die enigste verbinding tussen die hemelse en die aardse: Al die datums van die gebeure in die koms van sy koninkryk op aarde oor meer as ’n duisend jaar, soos reeds uiteengesit is, is in ’n duidelik herkenbare patroon saamgebind. So ’n anomalie in die geskiedenis is nie verklaarbaar nie (Visser 2025:193).

 

Bibliografie

Bybel. 2020. Die Bybel 2020-vertaling. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Cassiodorus, MA. 1886. The letters of Cassiodorus. Uit die Latyns vertaal deur Thomas Hodgkin. Londen: Henry Frowde. 

Du Rand, J. 2007. A-Z van Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Josephus, F. 1988. The essential writings. Vertaal en geredigeer deur Paul L Maier. Grand Rapids, MI: PL Kregel.

Visser, P. 2025. Teken van die Seun van die mens. 1ste uitgawe. Gansbaai: Naledi.

  • 3

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Andy Woods Ministries (Ask Andy) reageer: Die artikel wat jy aangebied het, bespreek ’n siening wat die beheptheid met bonatuurlike verskynsels in godsdiens kritiseer, veral met betrekking tot die Bybelboeke Daniël en Openbaring. Dit stel dat hierdie beheptheid die verstaan van die werklikheid in die Skrifte kan belemmer, en dat baie van die apokaliptiese visioene en profesieë in hierdie boeke eintlik historiese gebeure beskryf wat met bonatuurlike elemente vermeng is.
    Vanuit ’n Bybelse perspektief is dit belangrik om te erken dat die Bybel inderdaad apokaliptiese literatuur bevat wat bonatuurlike openbarings insluit, gegee deur God self. Die boek Daniël en die boek Openbaring is geïnspireerde Woord van God, wat historiese en toekomstige gebeure voorspel en openbaar, insluitend die toekomstige koninkryk van God op aarde. Hierdie openbarings is nie bloot historiese beskrywings nie, maar bevat ook bonatuurlike elemente wat God se soewereinheid en mag oor die geskiedenis en die toekoms bevestig.
    Die artikel noem dat sommige van die bonatuurlike elemente in die profesieë, soos die “koms op die wolke” in Matteus 24:30, verwys na die Heilige Gees (die Parakleet) en sy aktiewe teenwoordigheid op aarde. Dit is ’n belangrike punt, want dit bevestig die drie-eenheid van God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en die rol van die Heilige Gees in die lewe van die gelowige en die geskiedenis.
    Tog moet ons versigtig wees om nie die bonatuurlike as iets wat nie deel van ware godsdiens is, af te skryf nie. Die Bybel leer dat God deur wonderwerke, profesieë en bonatuurlike openbarings sy wil en planne openbaar het. Dit is nie ’n beheptheid nie, maar ’n deel van die openbaring van God aan sy volk. Die bonatuurlike bevestig die goddelike oorsprong van die Skrif en die waarheid van die evangelie.
    Verder is dit noodsaaklik om te onderskei tussen die voltooide, eenmalige offer van Christus vir sonde, soos Paulus dit leer, en die toekomstige, letterlike wederkoms van Jesus Christus om sy koninkryk op aarde te vestig. Die Bybel maak ’n duidelike onderskeid tussen Christus se eerste koms as Verlosser en sy tweede koms as Koning. Hierdie toekomstige koninkryk is ’n letterlike, aardse koninkryk wat nog nie gerealiseer is nie.
    In opsomming, hoewel die artikel ’n waarskuwing bied teen ’n oorbeklemtoning van bonatuurlike verskynsels wat kan lei tot misleiding, moet ons die bonatuurlike as ’n integrale deel van die Bybelse openbaring en die geloof in God se soewereiniteit en mag aanvaar. Die Skrif is die finale gesag, en dit leer ons dat God deur bonatuurlike openbarings sy planne oor die geskiedenis en die toekoms openbaar het, insluitend die toekomstige, letterlike koninkryk van Christus.
    Hier is ’n paar relevante Skrifverse wat hierdie siening ondersteun:
    • Daniël 2:44: "In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit verwoes sal word nie."
    • Matteus 24:30: "En dan sal die Seun van die mens kom in die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid."
    • 2 Tessalonisense 1:7-8: "Wanneer die Here Jesus van die hemel af verskyn met sy magtige engele, in ’n vuurvlam, om wraak te neem op dié wat God nie ken nie."

  • Ouens, die klas van kleitrappery laat al die jare later steeds so bietjie nog my kop draai. Mens benodig 'n dubbel van iets sterker na mens deur dit als geworstel het. Ek het oorweeg om te reageer met teenargumente, maar dan onthou ek die Engelse sê mos, choose your battles... Laat ek maar net volstaan deur te sê, so tussen al die geswerwery in die woestyn, die geoffer van diere aan hulle gode, en al die lekker avonture daar in die Midde-Ooste, het die manne vir ons gelukkig hulle beste kampvuurstories gebundel. Vir ons om te kan geniet. Net jammer daar is so baie onder ons wat dié stories gans te ernstig opneem.

  • Hans Richardt

    Ou, voos, sielsmoë argumente. Openbaring was nog nooit "apokaliptiese voorspellings" nie, maar wel kodetaal in kerkbriewe vir onderdrukte christene onder die Romeine, om hul te vrywaar teen vervolging.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top