Die Barabasperspektief

  • 0

Tydens die verhoor van die HERE Jesus Christus was Pilatus in ’n predikament. Die goed gevestigde en hoogs ontwikkelde Romeinse regstelsel (vandag nog, word dié regstelsel as die grondslag van alle moderne westerse regstelsels gebruik) was die basis waarop die HERE verhoor was, nie die korrupte en bevooroordeelde teo-juridiese stelsel van die Joodse Sanhedrin, nie. Soos mens dus kon verwag, was die HERE onskuldig bevind deur die hof van Pilatus … maar, teen alle regsbeginsels en juridiese verwagtinge in, nie vrygelaat nie!

Pilatus was ook die politieke hoof van die provinsie van Judea, nie net die regsprekende hoof, nie. Hoe gesofistikeerd die Romeine ook al was, het hulle nog nie die les geleer dat die juridiese en administratiewe gesag geskei behoort te word, nie.

Ewentwel, Pilatus sit toe met die situasie dat die Jode oproerig begin raak het. Hulle was goed opgesweep deur die Sanhedrin se lakeie en wou die HERE Jesus Christus aan die kruis op Golgota sien.

Die kruisiging was ’n ultra sadistiese eksekusiemetode wat al in die dae van die ou Sumeriese koningskappe in gebruik was en gewild geword het onder die heidense nasies, soos die Romeine inderdaad was – dit was juis ontwerp om maksimum lyding te veroorsaak, voor die dood ure later eers weens fatale blootstelling en ooreising weens pyn en senuskok van die senustelsel van die veroordeelde gekruisigde sou intree.

Pilatus maak toe, weens die toenemende oproerigheid van die Jode, ’n politieke besluit – hy laat die HERE Jesus Christus nié vry nie – onskuldig of nie. Aangesien die gebruik was dat die Romeinse goewerneur destyds voor die Pase ’n gevangene vir die Jode vrylaat, as Pase geskenk, ’n daad van welwillendheid aan die Jode, kom Pilatus toe met ’n truuk vorendag – hy besluit hy gaan die Jode ’n keuse gee wat eintlik géén keuse vir hulle (behoort) laat nie – hy gaan Barabbas as alternatief tot die HERE Jesus Christus stel.

Nou, Barabbas was geen geliefde Jood nie. Hy was deur Jood en Romein verag. Pilatus meen toe dat die Jode, voor dié keuse, sonder twyfel vir die HERE Jesus Christus vir vrylating sou kies, eerder as die gevreesde en veragte Barabbas. Maar nee, die Jode kies toe wragtig vir Barabbas! En hy wat Pilatus is, was toe maar sy hande oor dié Lewe wat só, onskuldig, verniel en vermors, word…

Die vaste tradisie onder die Romeine was dat ’n terdoodveroordeelde geen fama of dignitas had en as sodanig dus nie op enige vorm van begrafnis geregtig was, nie. Die lyke van terdoodveroordeeldes is deur Romeinse soldate uitgedra buitekant die stad, na die Gehenna, ook bekend as die dal van Hinnom, waar die stad se vullis gestort was – daar was ’n groot vuur aan die gang gehou wat nooit geblus is, nie. Vullis en ook dié lyke, is daar verbrand. Dit was ’n helleplek. Die naasbestaandes van terdoodveroordeeldes het kermend en wenend agter die soldate aangeloop en by die lyk gaan waak totdat die lyk verbrand sou word. Dit kon selfs dae neem. Snags het wilde honde en ander gediertes gekom om op die lyke te probeer aas en dan het dié getjank en geblaf van die wilde diere en die wanhopige geskreeu en smart van die naasbestaandes wat oor die lyke waak, die nag gevul… En toe die HERE iemand eenmaal oor die hel waarsku, het Hy na Gehenna verwys…

Pilatus se gewete het hom egter gepla, oor die onskuldige dood van die HERE Jesus, want hy het sonder versuim aan Josef van Arimathéa, ook ’n lid van die Sanhedrin, maar ’n regverdige man, toestemming gegee om die verminkte liggaam van die HERE in ’n goed bewaakte en verseëlde graf te begrawe.

Maar Barabbas was nou ’n vry, verloste man… Hy had ’n baie mooi naam. Bar-ábbas beteken ‘seun van die vader’. Hy was ook die heel eerste mens wat direk baat by die HERE Jesus Christus se verlossingswerk aan die kruis – Ons weet dat die wil van die Vader was, dat die HERE Jesus Christus, Sý Seun, onskuldig as offer sou boet sodat ons as mense vry kon kom in Hom! So was Bar-ábbas die direkte lewende simbool van hoe ’n mens onverdiend vergiffenis, verlossing en lewe smaak deur die opgeofferde Lewe van die HERE Jesus Christus, Wie Sý Lewe opgeoffer het in die plek van die mens, onskuldig en onverdiend! Die HERE Jesus se lewe is juis in die plek van Bar-ábbas aan die kruis geneem – as lewende teken en simbool van presies hoe dit werk met ons lewens wat onverdiend gespaar word deurdat die HERE Jesus as die Christus, die Messias, Sy Lewe in ons plek in die hiernamaals gestel, het.

En op die derde dag het Hy uit die graf gekom, om dit alles te bevestig.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top