
Foto: Canva.com
Die ballerina se naam
Van kindsbeen af het ek geoefen om op my tone te loop
En om te balanseer op my ma se trots
Ek het my hare gekam asof dit silk is wat ek weef
En my pêrelwit tande, blink geborsel
My naels was glad en sagpienk
En ’n glimlag hemelsbreed
Ek wou soos die ballerinas wees
Wat soos herfsblare in die wind rondswaai
Wat so sag trap dat hulle op my wimpers sou kon dans
En slank paradeer op die verhoog
Deesdae sukkel ek om soos die ballerina te wees
Daar lê klosse silk op my kussingsloop
My naels het ’n naargeel skynsel
En my pêrelwit tande word broos van die suur
Maar soms
Wanneer ek mooi genoeg luister
Is daar nog steeds ’n ballerina wat agter in my keel dans
En my roep om haar te kry
En as ek miskien aanhou probeer
Sal sy weet ek wil soos sy lyk, al vat dit alles in my


Kommentaar
Absoluut briljant geskryf. Diep woorde. Dankie.
Ek wens ek kon jou Ken, Danielle Leonhardt.