
Foto: https://pixabay.com/photos/typewriter-alphabet-letter-writer-5065594/
Boekindaba-reaksie: "Henning Pieterse raak in sy standpuntinname op BoekIndaba (Different Strokes for Different Folks) ’n kwessie aan wat myns insiens baie belangriker is vir die sinvolle uitbou van ’n Afrikaanse kulturele ruimte as die voertaal op universiteite, naamlik die benarde situasie van die “amptelike” poësie.
Pieterse skoffel ook ’n paar belowende paadjies oop wat as ’t ware parallel met die bekende roete loop en wat enersyds ’n soort voedingsbron vir daardie pad kan wees, maar die Afrikaanse letterkunde andersyds na nuwe ruimtes en ruigtes kan lei. Indien ons wil verhoed dat die paadjies sommer dadelik weer toegroei, sal die paadjies wyer en verder oopgekalwe moet word.
Ek raak toenemend oortuig daarvan dat ’n basiese probleem wat tot die stagnasie in die Afrikaanse letterkunde aanleiding gegee het, juis die eng ruimtes is wat daarin oopgemaak word. En dit is nie net ’n probleem van die digkuns nie, maar veral ook ’n probleem van die boek.
Om dit presies te stel, ek beweer dat die probleem daarin geleë is dat die digbundel tot so ’n enorme mate die ruimte van die kreatiewe skryfkuns in Afrikaans omlyn.
Omdat die digbundel so normatief is, word die ruimte wat beskikbaar gestel word vir die publikasie van nie-prosaïese met min uitsonderings tot die digbundel beperk. Uiteraard is die norme wat aangewend vir keuring- en versorgingsdoeleindes ook dié van die digbundel, en die uiteinde is dat bitter min van die nie-prosaïese skryfwerk wat in Afrikaans gelewer word, vir publikasie in aanmerking kom.
Dus die dig-otomie vir die aspirant skrywer van nie-prosaïese werk: skryf ’n bekroonbare bundel en jy kom dalk vir publikasie in aanmerking; so nie moet jy maar vir jou eie vermaak en/of onkoste skryf.
Pieterse se stuk beweeg grotendeels steeds binne die middelpuntsoekende invloed van die digbundel. Daarvan getuig die soort opmerking dat aspirant-digters wyer moet lees, die beklemmende moontlikheid dat nuwe uitgewers dieselfde paadjie as van hul voorgangers kan loop, die kritiese beskouing van self-publikasie. Die kritiek word getemper deur ’n soort realisme dat hierdie dinge in elk geval gebeur, waaruit die half onmoontlike hoop hoe gering ook al opvlam dat ’n oplossing vir die karige oes in die digkuns uit die verwikkelinge sal voortvloei.
Een saak waaroor Pieterse tereg opgewonde raak, is die herontdekking van “orale” digkuns in sy verskillende vorme. In ’n sekere sin word ’n nuwe dig-otomie hier aan die orde gestel wat meer belowend is as die een tussen die digbundel en die manuskrip in die laai. Die toeloop na bekgevegte en voorlesings weerspieël die behoefte van aspirant-digters aan ’n ruimte wat elkeen darem nie geheel en al aan sy eie private mishopie uitgelewer laat nie.
Dit dui ook op die mate waartoe sulke skrywers bereid is om op die een of ander wyse ’n gehoor, ’n publiek, te kry. Die meriete van Pieterse se bydrae is dat hy dus naas die middelpuntsoekende krag van die digbundel ook ’n middelpuntvliedende krag identifiseer.
Na my mening kan dit egter nie daar bly nie. Die bekgeveg en die digbundel bly, hoe vérlangs ookal, steeds aan mekaar verwant, en ’n onontbeerlike volgende stap is dat die twee kragte op produktiewe wyse met mekaar in wisselwerking gestel moet word. En dit bring ons onvermydelik weer terug by die boek. Daarmee bedoel ek nie die digbundel nie. Bekgevegte en voorlesings sal slegs tot beperkte mate direk tot ’n digbundel lei, in enkele gevalle miskien weens die gehalte van die werk, in ’n paar ander gevalle miskien omdat verkoopbaarheid rondom ’n “persoonlikheid” gevestig kan word.
Dit gaan eerder daaroor dat nie-prosaïese tekste in verskeie formate gepubliseer kan word. Breyten is hier, soos in so baie ander dinge, ’n voorloper. Verse en skilderkuns. Verse en musiek. veral laasgenoemde waar hy met ander kunstenaars saamwerk. Daar is ’n ryke verskeidenheid moontlikhede. Temaboeke. Geskenkboeke. Ens. ens.
Meeste hiervan tref mens volop in Engels aan, en die kanse is seker goed dat dit in Afrikaans die geval is. Die punt is nie om die uitgewersbedryf te herontwerp nie. Die belangrike ding is dat al hierdie moontlikhede in hulle essensiële verband met digterskap gesien en aangemoedig moet word. Of iemand vriendskapsversies skryf wat in groot druk oor foto’s van sonsondergange geplaas word, en of hulle religieuse prose-poems skryf wat langs waterverfafdrukke van die Maagd Maria verskyn, en hoe kitsch of common dit vir die gesofistikeerde oordeel mag wees, dit staan alreeds in ’n bepaalde verhouding met die groot oorspronklikes.
Om die saak in terme van ’n bekende vooroordeel uit te druk: die stelsel moenie elitisties wees nie, alhoewel daar ’n elite in die stelsel moet wees.
In ’n sekere sin gaan dit daaroor dat die poëtiese ruimte baie wyer bedink word en deur bestaande publikasie-ruimtes in nouer verband met die poëtiese ruimte te sien, hoewel daar uiteraard ook goed afgebakende individuele ruimtes sal bly voortbestaan rondom spesifieke uitgewersmarkte. Maar dit hoef ook nie net daar te bly nie. Daar sal moontlik addisionele ruimtes geïdentifiseer kan word waarrondom markte geskep kan word. daarby kan oorgange tussen verskillende ruimtes ontgin word om ook nuwe markte te skep.
Maar al ontstaan daar nie elke slag ’n nuwe mark nie, moet voldoende oorgange geskep word — bv vir diegene wat in die advertensiewese werk — om gedigte aan ’n publiek bekend te stel. LitNet bied alreeds tot ’n mate sulke ruimtes aan.
Ek hoor graag wat ander hiervan dink.
" Etienne van Zyl

