Herrie is intussen dood. Onverwags. Soos alle dood mos maar gebeur. Mens huil nie oor so iemand wat aanstap nie, jy sit en luister die tragiese nuus en jy glimlag. Nie omdat jy bly is oor hy dood is nie maar omdat jy net goeie goed het om aan terug te dink. Want hy was skadeloos. Dikwels het ek gesit en wonder oor wat hy so aan staan en dink as hy so vir ure staan asof hy ver verlang. Maar Herrie lê nou onder die kluite en staar nou dalk nie meer nie. Sy broer Herrie is oor. "Kleinboet" soos oorle Herrie hom altyd genoem het. Hoe meet mens ’n tweeling se ouderdom? Die ene wat eerste uitkom? Maar altwee moes dan spook om te kom kyk wat aangaan?
Nietemin. Herrie is nou oor. Herrie wat altyd met die karretjie met die vraggie hout geloop het. Vroegoggend nog lank voor die eerste voëltjie begin poep het kon jy maar ry op die ou pad en jy sou vir Herrie met sy vraggie hout langs die pad gekry het. Laatmiddag kry jy hom op sy pos op die brug wat oor die N2 loop. Aant waai vir elke kar. Asof hy die mense persoonlik ken. Ry hy op sy fiets en hy hoor jou aankom waai hy sommer al klaar nog voor jy verbykom. Dalk herken hy die ou bakkie se dreuning?
Sondag vroegoggend geskeer, gedress en fiets reg vir kerk. Die predikant het hom maar sy pos by die ingang afgegee want dit help nie om vir Herrie te beduie dat daar ouderlinge is wat die gemeentelede sal verwelkom nie. Herrie het dit op homself geneem om spesifiek die weduwees uit te kyk en altoos met ’n hmfdfmmmer te verwelkom. Want min mense kan vir Herrie verstaan. Hy praat mos so in sy mond in asof hy die woorde insluk nog voor hulle by die keel kan kom. Hy wys dus maar altyd met sy vinger as hy iets wil hê. En, soos ek sê, die wat hom al so lank ken beginne hom al soort van met die tyd verstaan. Dis amper soos die vriend wat hakkel, soort van.
Mokkie vertel vir my annerdag hoe Herrie sommer so, soos hy mos maar doen, by die Saterdag braai opgedaag het. Ongenooid. Opgedress vir die okkasie. Een broekspyp nog ingedruk innie sokkies want mens laat mossie jou broek vol ghries raak as jy loop kuier vir mense nie. Herrie maggie drink nie want hy tree snaaks op as hy drink en Mokkie beduie vir my dat die manne toe maar vir hom ’n dop gooi. En Herrie sluk. Mokkie beduie vir my later dat Herrie net verdwyn het. Hulle kry hom toe maar waar hy eintlik oorspronklik wou wees: Tussen die vrouens. Knikkend instemmend op elke vrou se aanmerking. Tot die dames beduie dat dit nie ’n slegte idee sal wees as hulle vir Herrie loop bad nie. En Herrie knik instemmend.
Mokkie sê hulle het die gille gehoor en kom kyk want dit was benoude gille. Asof die dood voor die deur gestaan het. Mokkie beduie dat hy so van oor die skouers die gepak gadegeslaan het maar moes uit want hy konnie meer staan en lag nie. Want sien: Die dames het besluit dat die bad hier en nou moes gebeur. Herrie moes bad. En hulle moes dit doen. Mokkie sê agterna het hy die storie eers so stuk-stuk bymekaar gesit want elke weergawe klink anders: Herrie was nog oopkop en gewillig met die skoene en sokkies en selfs die broek. Die onnerbroek het lang spook gekos maar hy het na lang gepor ingewillig. Dalk was dit die Radox en die borrels en skuimpies ek sallie wetie maar hulle het vir Herrie uiteindelik hemp en al innie water in. Want hy het streep getrek by die hemp. Die gille het gekom toe die dames beginne was het, want soos ek nie gesê het nie: Herrie sal dalk nog skeer en gesig was, maar hy was nog nooit lief vir dieper water as ’n wasbak se waters nie.
Mokkie beduie dat Herrie eers hier met die afdroogslag beginne kalmeer het. Ek wetie hoeveel dames meegedoen het nie maar ek weet dit was meer as ses. Ek vra vir Mokkie of die dames hom darem skoon kon kry en Mokkie beduie dat hy nog steeds wonder oor hierdie ding van seen en straf. Want die dames het lank gekloek om Herrie en hom later vet tjops gevoer en seker gemaak hy kry darem bietjie groente en slaai ook in.
oester


Kommentaar
Beste Oester
Jammer ek reageer nou eers. Was hierdie week saam met 5 gay boerevriende diep in die Lesotho berge, waar daar geen internet opvangs was nie. Nou net ingehaal. Sou die naweek ook oorgebly het, maar een van ons vriende se seun trou hierdie Saterdag, en ons is almal na die troue genooi.
Veels geluk met jou prys wat jy gewen het. Hoekom is ek nie verbaas nie?. Onder die ou bedeling het jy tog onder almal van ons omtrent die meeste Bokomo boek pryse gewen. Ek was regtig bly toe jy na 'n lang afwesigheid terug is, want jy skrywe KWALITEIT briewe.
Jaco Fourie
Thanx, Jaco!!!
Ek sien uit om jou te ontmoet eendag. miskien moet jy kom draai maak volgende jaar dan kan jy sien hoe haak ons uit as dit pienk loerie is. Of, wel, ons haak maar gewoonlik uit ...