Die ander naam vir realiteit

  • 0

Die arme Christen sal ook na elke strooihalm gryp om nie te verdrink nie. Een van die halms is: ateïsme is ook maar net ’n religie.

Waarom hulle ons wil aftrek tot hulle vlak, is nie so duidelik nie. As Christene redelike mense was, sou ek sommer saamgestem het, en dan kon ons vriendelik saam verkeer het. Wanneer dit egter met religie iets te make het, raak ek suspisieus. Êrens is ’n slang in die gras, en ruik ek ’n rot; dus moet ’n mens maar liewer die saak van naderby beskou. Is ateïsme ’n religie of nie?

Volgens die woordeboek wat Kobus nadergesleep het, en wat hy nie verstaan hoe om dit te gebruik nie, is ateïsme ’n religie net soos Kreasionisme ’n wetenskap is, of rugby ’n geloof is, of Islam ’n vredeliewende religie is.

Hoe de joos kan ateïsme ’n geloof wees? Aanbid ons iemand/iets? En as ons nie hierdie iemand/iets aanbid nie, wie gaan ons ter dood veroordeel en tereg stel?

Ateïsme vereis nie absolute onbevraagde gehoorsaamheid nie, dreig nie met ’n ewigdurende pyniging met ’n hel waar daar net ’n geween en ’n gekners van tande is nie, voorspel nie blindheid en pynlike siektes aan teenstanders nie, beskerm nie seksoordtreders teen die gereg nie, en behandel nie vrouens asof hulle lewende hawe is nie.

Ateïsme kwalifiseer dus nie naastenby vir die verlaagde status van ’n religie nie. Ek moet erken dit sou nogal wonderlik gewees het as ateïsme net so ’n paar van die voordele kon kry wat ’n religie het,soos bv die vrygestelling van belasting. Sou dit nie lekker wees nie? Maar, helaas, ons het nie eens skole waar ateïsme as ’n geloofstelsel aan kinders geleer word en wat betaal word deur die belastingbetaler nie. Ateïsme kan ook nie ’n tiende van iemand se inkomste vir homself opeis om sodoende bloedsuiers in weelde te laat lewe nie.

Ateïsme is maar net ’n ander naam vir realiteit. Ateïste laat hulle nie om die bos lei met “die hemel en ’n ewige lewe wag op jou; al wat jy moet doen, is die emmer skop” nie. Vir die ateïs is daar erger dinge as die dood, en een daarvan is om met ’n spul predikante en wedergebore Christene in die hemel te sit.

Die eintlike vraag is dus nie of ateïsme ’n geloof is nie, maar of geloof (in die sin van religie) wel ’n bestaansreg het. As daar teologiese skole opgerig word waar voornemende dominees vir vier jaar lank ’n studie van slegs een boek maak, en dit na ’n graadkursus van drie jaar, dan kan daar net sowel universiteite opgerig word vir die studie van astrologie. Een van die vooraanstaande kreasioniste, Michael Behe, het juis tydens die Dover-verhoor toegegee dat as Bybelstudie toegelaat word op skole, dan kan astrologie ook maar as vak aangebied word.

Ek sien absoluut geen nut vir religie van watter aard ook al nie – nie in die een-en-twintigste eeu nie. As ateïs geniet ek die lewe. Terwyl ek lekker kaal in die swembad ronddryf, moet my beswete Christen buurman gesteweld en gespoord in ’n bedompige kerk na ’n uurlange preek luister. En staan sal hy moet staan as dominee vir nog ’n halfuur die hemelse vader aanspreek omdat hy so min reën stuur en dan is daar die sondiges wat swaar gestraf moet word omdat die kerk so leeg is. Ons ateïste word gelukkig nie gestraf vir ons sondes nie, dus gaan ek nou gou so ’n bietjie sonde pleeg. Ek is so opgewonde daaroor, ek sê sommer nou koebaai.

Groete

Angus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top