Die Afrikanergesprek

  • 3

Dagsê Jan Rap,

Ek het gewoon nie die tyd of die lus om met jou te redeneer oor aannames en afleidings wat jy maak van my skrywes wat ongegrond en blote toedigsels is nie. Kom ons bespreek rustig ’n paar aspekte van die onderwerp en kyk of ons iewers kom.

Die beginpunt van ons gesprek was om eenstemmigheid te kry oor wie of wat die Afrikaner is. Ek konstateer dat die begrip Afrikaner te eng in die verlede gedefinieer is en stel voor dat die Afrikaner bloot gedefinieer word as enige persoon wat van Suid-Afrika afkomstig is en Afrikaans praat. As motivering sê ek dat terme soos Afrikaanse en Afrikaanssprekende vir my lomp terme is en dat Afrikaner vir my ’n soepel term is. Ek verklaar dat dit dalk ’n idealistiese en naïewe voorstel is, maar dat ek ’n voorstander is van ’n meer inklusiewe term en graag sou wou wegbeweeg van die eksklusiewe begrip van die verlede.

Hoofsaaklik drie reaksies volg op my voorstel. Pieter Redelinghuys reageer in sy tipiese satiriese styl wat ek geniet en waardeer. Thys Human reken dat die term “Afrikaner” aan ’n eksklusiewe groepie persone behoort en suggereer dat ek dalk nie tuis sou voel in die groepie nie en ook geen aanspraak daarop het om die woord oor te neem of toe te eien nie. Hy doen ’n paar voorstelle aan die hand vir alternatiewe terme wat mense soos ek moet oorweeg. Thys se skrywe is na my mening sinvol en hoort rondom die gesprekstafel.

Die derde reaksie is natuurlik van jou wat skuim om die mond besluit ek is meewarig teenoor mense van ander kompleksies as wit en dat ek die “hekke” vanuit een of ander hoogte oopgooi. My vraag is natuurlik die hekke waarheen? Wat is agter daardie hekke wat ek nou so oopgooi? Uit jou skrywes kry ons ’n goeie idee van wat agter daardie hekke aangaan, maar jy skuil agter die vroom stelling: “Almal wat sê hy is ’n Afrikaner is ’n Afrikaner”. Om te verklaar “ek is ’n Afrikaner” moet ek tog sekerlik weet waarvoor ek my inlaat. Thys het sterk bedenkinge of ek as Afrikaner sal deurgaan terwyl jy gerieflikheidshalwe weier om te sê wie of wat die Afrikaner van die toekoms is. Kom sê jy nou ’n slag vir ons wat agter daardie hekke aangaan. Hoekom is jy so traag om reguit te sê wie of wat die Afrikaner is terwyl Thys nie dieselfde probleem het nie?

Die moorde op 3 000 boere het niks te make met ’n prys wat nou betaal word in ruil vir ’n nuwe grondwet wat sekere vryhede waarborg nie. Dit het egter alles te make met ’n onbevoegde regering wat in sy rasbeheptheid nie daarin kan slaag om die burgers van sy land te beveilig nie – ’n rasbeheptheid waarvan ek graag wil wegkom maar wat ek vermoed agter die hekke van jou Afrikanerskuiling floreer.

Groetnis

Thomas

  • 3

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Thomas,

    Dankie vir jou nuwe inset oor Afrikanerskap of wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees. Jan Rap skryf sommer my 10 punteskaal af wat dit behels om ’n wragtigware Afrikaner te wees, hoewel hy meer as goed weet dat daar veel waarde daarin skuil, en die behaling van 10 punte in elke seksie eintlik sy ideaal van ’n "Afrikaner" verteenwoordig. Sy definisie van ’n Afrikaner as ’n persoon wat sê dat hy een is, klop eenvoudig nie met sy wêreldsiening nie. Gevalle soos Bram Fischer, Beyers Naudé, AP Brink, JM Coetzee, Laurens van der Post, Jan Smuts en duisende ander "liberale" Afrikaners sal hy benouliks as "Afrikaners" beskou – eerder as volksverraiers. Genoemde persone sal nog minder as "Afrikaners" beskou word deur Thys Human.

    Ek weet van geen ander nasie op aarde wat hierdie mentaliteit openbaar nie, waar ’n mens se politieke/wêreldskouing deur ’n klein seksie van die nasie gebruik word om mense te brandmerk/klassifiseer as horend of nie-horend aan die nasie nie. Verbeel jou as ’n Franse kommunis ewe skielik nie langer as ’n Fransman beskou word nie weens sy politieke opvattings, bv. Jean Paul Satre. Of ’n Skot nie langer as een beskou word nie omdat hy graag wil hê dat Skotland binne die Verenigde Koninkryk bly en nie wegbreek nie.

    Die huidige probleem met die Afrikaner is dit: sy identiteit is gekaap deur christelik-nasionale politici en Apartheidspredikers en nou sit hy met die gemors wat onder die nuwe omstandighede nie meer wil werk nie.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

     

  • Haai Thomas,

    Jy is die een wat wil torring aan die begrip "Afrikaner" omrede dit te "eng" (lees "wit") is, so ek verstaan nie waarom jy nou vir Jan van rasbeheptheid beskuldig nie? 

    Ons almal weet ’n Afrikaner is ’n Afrikaanssprekende persoon wat deur beide die Apartheidregering en die ANC (vir SEB-doeleindes) as "wit" geklassifiseer sou word, en al vind jy (en ander skoensoeners) hierdie feit onverkwiklik, verander dit niks aan die saak nie, want dis nou maar eenmaal ’n feit. (Het die val van Hitler se Derde Ryk enigiets verander aan die definisie van "Nazi"?)

    Thomas, jy is op soek na ’n groepnaam waarmee sommige Afrikaners en nie-Afrikaners gemaklik sal voel, en dis goed en wel, want dit staan enigiemand vry om verward rond te pik. Persoonlik voel ek egter nie die onus is op my as Afrikaner om ander se identiteit vir hulle te soek nie. Ek verstaan dat Bruinmense moontlik nie as sodanig bekend wil staan nie, maar dis hul probleem, nie myne nie. 

  • Dag Thomas.

    Dis duidelik dat jy kwaad is. Wat jy sê oor die moorde is waar en geen minagting daarvan mag ooit geduld word nie. Die ding is Thomas, sonder ’n land, maak dit nog saak wie presies watse tipe Afrikaner is? Sonder ’n land is die Afrikaner nie meer ’n volk nie. Almal wat Afrikaans praat kan homself ’n Afrikaner noem, ongeag sy velkleur. Maar wat maak dit saak wat sy politiek, mode, woonbuurt, rugby of sokkerspan is? As Afrikaners het julle almal net een ding in gemeen, julle is almal in presies dieselfde kakstraat, daar geplaas deur ’n katastrofiese verraaier-president FW De Klerk.

    Ek het begrip en meegevoel, maar ek het lankal besluit dat ek niks meer in Afrika het of wil hê nie.

    Voorspoed

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top